Protesoptogte te midde van SAUK-ses se tugverhore

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het alle joernaliste en landsburgers wat mediavryheid ondersteun, versoek om Vrydag aan protesoptogte buite die SAUK se kantore in Johannesburg en Kaapstad deel te neem.

Die optogte word vir 09:00 beplan, dieselfde tyd  as wat die SAUK verskaf het vir ses van sy werknemers om voor tugverhore te verskyn. Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, Suna Venter, ʼn senior verslaggewer en Thandeka Gqubule, ʼn sakeredakteur, is gister ingelig hul tugverhore vind vandag om 9:00 plaas.

Busi Ntuli, uitvoerende vervaardiger van Special Assignment, Krivani Pillay, uitvoerende vervaardiger van SAfm se aktuele programme en Jacques Steenkamp, senior ondersoekende joernalis, is ook gister ingelig hulle moet vandag voor tugverhore verskyn.

Die vakbond Solidariteit het die SAUK egter versoek om die tugverhore uit te stel. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die ses werknemers nie genoeg tyd gehad om vir die verhore voor te berei nie. Hy het gesê die vakbond se regsverteenwoordigers is gereed om Vrydagoggend ʼn dringende hofaansoek te bring indien die openbare uitsaaier nie aan die versoek gehoor gee nie.

Sanef het intussen in ʼn verklaring gesê die onlangse voorskrifte oor redaksionele beleid is nie net ʼn aanval op die joernalistieke professie, nie maar op mediavryheid in die geheel. Die protesoptogte word gehou teen sensuur en ter ondersteuning van die SAUK se werknemers wat hulle uitgespreek het oor die kwessie.

“Sanef het reeds ʼn beroep op die leierskap van die SAUK gedoen om dringend die besluit om nuus te sensor, terug te trek en sy joernaliste toe te laat om in ʼn vry omgewing te werk, waar hul etiese waardes nie in gedrang kom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Uys ·

Ruik jul dit. Dis meer as net ń rot.
Hoe kan n bestuurshoof reël inbring wat gesensis word dans die minister wat bo hom is na sy pype.

broos ·

hoekom wag tot nou? julle moes dit gedoen het toe die bom gebars het dan was 6 mense nie nou geskors nie

Daleen ·

Ek ondersteun hierdie protes optog 100%. Hulle is weer besig met onderduimsheid. Sien dis wat hulle doen,hulle trek jou aandag af van wat regtig iewers iets groots gebeur,en nou moet die joernaliste dit ontgeld.Hou maar dop julle, julle sal oor ‘n week/maand daaroor skryf.

Karma ·

Ou Skeeloog Hlaudi Motsoeneng is net besig om sy baas te dien – en wie is sy baas? Die ANC. Kyk, die ANC kan nie bekostig dat negatiewe beriggewing oor nie-dienslewering en gepaardgaande protes-aksie deur die nasionale uitsaaier uitgesaai word nie. Nie een maand weg van die munisipale verkiesing nie!!! Hulle is bang dit skaad hul beeld – of die bietjie wat daarvan oorgebly het – as die mense sien ander mense ruk in protes op teen die vrot regering wat die ANC is.

Frederik ·

Weerhou alle Tv lisensie gelde. Die wat nog lisensies in plek hou betaal vir hierdie sirkus.

Petronelle ·

Wat een groot SIRKUS! Ons land is besig om te ontaard – ons het die ringsitplekke ????

Elizabeth Bosman ·

ANC wil hul swak leierskap verdoesel deur die waarheid te wil verbloem. Hulle is so naief want ons doen dit steeds vir hulle dmv sosiale media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.