Provinsiale wetgewerlede moet taak ‘ernstig opneem’

Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini (Foto: ANA)

Zoeloekoning Goodwill Zwelithini het lede van die provinsiale wetgewer gevra om hulle oorsigrol ernstig op te neem en sê KwaZulu-Natal se sukses hang af van samewerking tussen die wetgewer en die provinsiale kabinet.

Zwelithini het Donderdag die hoofrede gelewer by die opening van die KwaZulu-Natalse wetgewer.

Die koning het nuwe lede, asook die premier, Sihle Zikalala, gelukgewens met hulle verkiesing en die Onafhanklike Verkiesingskommissie geloof vir sy rol in die versekering van ʼn vrye en regverdige verkiesing.

“As lede van die huis is dit julle plig om ʼn politieke oorsigrol te speel, ʼn taak wat julle ernstig moet opneem,” het Zwelithini gesê.

Hy het wetgewerlede ook gevra om heelwat opleeswerk te doen, sodat hulle behoorlike kennis het om hulle werk te doen.

Zwelithini het gewaarsku teen openbare verteenwoordigers wat uit voeling is met die mense wat hulle veronderstel is om te verteenwoordig.

“Die wetgewer is die belangrikste skakel tussen die publiek en die uitvoerende gesag. Dit moet die regering in voeling hou met die mense en die kwessies wat vir hulle belangrik is. Hoewel die regering tydens ʼn verkiesing direk verantwoordbaar is aan kiesers, is dit intussen die plig van die wetgewer om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou.

“ʼn Doeltreffende wetgewer is dus deurslaggewend om te verseker dat die publiek vertroue in die politieke proses het.”

Zwelithini het ook gevra vir sterk leierskap wat mense sal verenig om die land op te bou, en het gewaarsku dat die provinsie nooit sukses sal bereik as sy leiers te bang is om ongewilde besluite te neem nie.

Hy het gesê KwaZulu-Natal benodig ʼn sterk opposisieparty wat die verantwoordelikheid het om ʼn positiewe bydrae te maak.

“Hoewel dit normaal is vir partye om in ʼn demokrasie van mekaar te verskil, moet die regerende party én die opposisie onthou – tydens hulle politieke gevegte in die wetgewer en daarbuite – dat hulle nie hulself verteenwoordig nie, maar dié mense wat vir hulle gestem het, asook dié wat nié gestem het nie,” het Zwelithini gesê.

Oudpres. Jacob Zuma en die voormalige premier, Willies Mchunu, was onder die eregaste by vandag se opening van die provinsiale wetgewer. Die geleentheid het vanjaar by die wetgewer plaasgevind, en nie by die koninklike skouterrein soos gebruiklik nie, as deel van die regering se besuinigingsmaatreëls.

Zikhalala lewer môre sy eerste provinsiale rede, waarin hy na verwagting die provinsiale regering se prioriteite vir die volgende vyf jaar gaan uitstippel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Hoe op aarde kan ‘n “mens” zuma as ‘n eregas nooi? ‘n Saak wat ondersoek moet word. Hoelank gaan individue aanhou om die meerderheid mense in SA, gysellaar hou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.