Provinsies bekommerd oor begroting

(Foto: pixabay)

Provinsiale wetgewers het in die deurgee van hul mandaat oor vanjaar se Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste diepe kommer uitgespreek oor die verminderde toewysings aan provinsies weens die Covid-19-gedrewe ekonomiese inkrimping, asook potensiële wanbestuur en korrupsie.

Nietemin het sewe provinsies (Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes) hul volle steun toegesê aan die wetsontwerp, wat bepaal hoeveel van die belastinginkomste aan onderskeidelik die nasionale, provinsiale en munisipale sfeer toegewys word.

Die Noord-kaap het voorwaardelik tot die raamwerk ingestem, terwyl die Wes-Kaap teen die wet gestem het.

Verskeie provinsies het nietemin hul bedenkinge oor die begroting uitgespreek.

Die Oos-Kaap is R1,03 miljard slegter daaraan toe as voor die aangepaste begroting en is bekommerd dat verskeie ontwikkelingsprojekte dus sal stilstaan, asook dat dit die provinsie langer gaan neem om van die inkrimping weens Covid-19 te herstel.

Voorts is die Oos-Kaap bekommerd oor wanbestuur en korrupsie betreffende die verkryging van beskermende mediese drag en die verskaffing van kospakkies aan die armes.

Gauteng is bekommerd oor die sosio-ekonomiese uitwerking van die finansiële inkortings en vra dat die nasionale tesourie verseker dat daar toerekenbaarheid is.

Die ekonomiese hartland-provinsie maan voorts dat ʼn té groot klem op die maatskaplike veiligheidsnet die ekonomie kan skaad en dat toekomstige Suid-Afrikaanse geslagte nie opgesaal moet word met die skuldlas wat uit hedendaagse besluite spruit nie.

Limpopo se wetgewer is ontsteld dat die provinsie R4 miljard minder as tevore uit die nasionale begroting kry en dit teen die agtergrond dat daar reeds ʼn kwaai verkleining van munisipale inkomste is. Die provinsie sou ʼn groter munisipale toewysing verkies en is bekommerd oor korrupsie en wanbestuur.

Ook Noordwes is bekommerd oor wanbestuur van Covid-19-verwante toewysings. Die provinsie vra dat munisipale toewysings vir spesifieke projekte afgesonder word, dat die toewysing vir landbou verhoog word om voedselsekerheid te verseker en dat spesifieke aandag gegee word aan onafgehandelde behuisingsprojekte.

Die Vrystaat vra dat munisipale toewysings slegs die munisipaliteite moet bereik wat ʼn bewese bestuursrekord het. Die provinsie vra ook meer geld vir droogtehulp.

Die Noord-Kaap se steun vir die begroting is voorwaardelik en berus op die aanbring van vier veranderings. Eerstens is droogtehulp onvoldoende. Tweedens is die afname in die begrotings vir paaie en vir onderwys-infrastruktuur te groot. Derdens moet landelike munisipaliteite hulp kry om te vergoed vir verlies aan inkomste en laastens moet die instandhouding en uitbreiding van infrastruktuur geprioritiseer word.

Die verteenwoordigers van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap het nie uitgebrei op die redes vir hul provinsies se keuse vir of teen die wetsontwerp nie, maar dit is wel skriftelik ingedien.

Die nasionale tesourie sal Maandag alle voorbehoude skriftelik beantwoord en die Nasionale Raad van Provinsies sal die wetsontwerp volgende week tot stemming bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Prikkie ·

Mens sou dit as ‘n “bedenklike” begroting kan beskryf skat ek!

Flip ·

Gaan vra vir Gomba of “Dom ba” hoe om julle begrotings te bestee. Sy sal julle mooi wys hoe om dit te mors en daarna vir apartheid die skuld gee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.