Provinsies stel terugkeer van onderwysers uit

Skole in Gauteng is oor die naweek skoongemaak. (Foto: Verskaf)

Strydig met die belofte van die minister van basiese onderwys verlede week, het baie van die onderwysers nie vandag (Maandag) teruggekeer skool toe nie. Angie Motshekga het tydens ʼn perskonferensie Dinsdag aangedui dat onderwysers op 25 Mei sou terugkeer skool toe om voor te berei vir die terugkeer van sommige leerders op 1 Junie.

Verskeie provinsies het egter intussen te kenne gegee dat hulle nog nie gereed is vir onderwysers om terug te keer skool toe nie.

Die Noordwes-provinsie se departement van onderwys het in ʼn omsendbrief aan skole laat weet dat persoonlike beskermende toerusting eers Maandag by skole afgelewer sou word en dat skole se bestuurspanne eers Woensdag kan terugkeer skool toe. Die res van die onderwyspersoneel kan eers Donderdag terugkeer, enkele dae voor die eerste leerders op 1 Junie moet begin skoolgaan. Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in dié provinsie, sê beamptes het reeds begin met die skoonmaak van skole en dat dit na verwagting Dinsdag afgehandel sal wees. Die departement is ook besig om water aan die meer as 200 skole te voorsien wat nie lopende water het nie.

Van die Gautengse skole het Maandag reeds begin om onderwysers op te lei. (Foto: Verskaf)

Die Laerskool Louis Leipoldt in Pretoria het in ʼn skrywe aan personeel gesê beskermende toerusting vir personeel is nog nie afgelewer nie, en daarom kan personeel nog nie terugkeer skool toe nie. “Heropening vir ons gr. 7’s is nog steeds vir 1 Junie geskeduleer. Ons sal julle op hoogte hou van verdere verwikkelinge,” lui die brief. Die Gautengse departement van onderwys het in ʼn verklaring aan skole gesê dat goeie vordering gemaak is met die voorsiening van beskermende toerusting aan skole, maar dat slegs skoolhoofde Maandag kan terugkeer skool toe. ʼn Afkondiging oor wanneer onderwysers kan terugkeer, moet nog gedoen word. Luidens die omsendbrief is 93 skole in die provinsie se toerusting deur kriminele onderskep. Dié skole behoort Maandag toerusting te ontvang. Van die skole in Gauteng het wel teen Maandag al die nodige toerusting ontvang en begin met opleiding van hul personeel.

Ook die onderwysdepartement in KwaZulu-Natal het Sondag aangekondig dat die terugkeer van onderwysers na skole in dié provinsie uitgestel is. “Hoewel al die beskermende toerusting aan distrikte afgelewer is, is dit nog nie aan skole versprei nie. Daarom is die besluit geneem om die terugkeer van onderwysers na skole uit te stel,” lui ʼn omsendbrief aan skole. Luidens dié brief word nou van onderwysers verwag om eers Donderdag terug te keer skool toe. Skoolhoofde moet egter steeds Maandag aanmeld, aangesien hulle teenwoordigheid noodsaaklik is sodat die verspreiding van dié toerusting kan plaasvind.

Vakbonde het die afgelope week te velde getrek teen die heropening van skole op 1 Junie en het aangedui dat die meeste skole nog nie die nodige toerusting of inligting ontvang het om veilig te heropen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sarel ·

Tipies is dit nie. Hoekom nie eers sorg dat toerusting y skole kom voor datums bepaal word nie

Sarel ·

Vakbonde kan maar stil rask want hulle doen niks behalwe om te lawaai en te Staak.

Eragrostis ·

Die feit dat skole eers ontsmet moet word is ń duidelike teken dat die regering (of eerder hul raadgewers) nie ingelig is oor hierdie virus en virusse oor die algemeen nie. Hierdie virus kan vir slegs ń paar uur buite die liggaam oorleef. Dit word grootliks oorgedra deur druppelbesmetting. Nou waarom miljoene rande spandeer aan iets wat nie nou daar sal voorkom nie, en daardeur nog verdere paniek onder die gemeenskap saai?

Tweedens, tipies Afrika-manier van dinge doen, wag hulle eers tot die sperdatum aanbreek (of dat iets moet breek) voordat daar skielik aandag gegee word aan dié saak. Geen voorsorg is deur die Dept. Onderwys getref vir vandag nie, dié dat van die onderwysers nie nou gereed is om terug te keer nie. Dis lagwekkend, en daarom sal hulle ń derde land bly. Skande is die ANC se trots.

Mieke ·

Stem saam! Die skole is en /of was nooit met Corona besmet nie! Hoekom nou die ontsmetting daarvan? Voorsorgmaatreëls moet eerder baie streng ingestel word.

Emily ·

Daar is te veel breinlose mense wat dink hulle het al die antwoorde.
Die regering is nie n regering se agterwereld nie.
Ek skaam my om te se Ek is n Suid Afrikaner.

Sharnelle ·

Ander lande lag vir hierdie klomp narre. Wens ek het die finansies gehad dan het ek en my gesin lankal hierdie SA verlaat.

Sarel ·

1. Noord Wes = skole met geen lopende water nie en dus ook nie behoorlike sanitasie geriewe nie. Hoekom.nie?
2. Veiligheidsvoorraad vir skole glo deur misdadigers geskaak. Nou vertel bietjie die Misdadigers was dit gewone Burgerlike mense wat deesdae gedurig drur die Polisie gejag word soos die rokers of mense wat draf of was dit regte misdadigers . Want die Polisie het nie tyd om lg. Op te spoor nie en die toerusting sal heel moontlik weer aan die Dept. Verkoop word.

MUIS ·

Kan iemand my asb meer inligting gee, ons junior skool wil die gr1 en Gr5 terug skool toe stuur op die 7 Junie, is dit toelaatbaar?? Ek dog dit is net die Gr12 en Gr7?
Asb as iemand my kan help

Stofdonkie ·

Die departemente is verntwoordelik om die kinders te leer, maar hulle kan nie eers iets so eenvoudig reel soos date die toerusting betyds afgelewer word nie. Die onderrigstelsel is ‘n klug.

Carina ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat die skole al vir meer as 2 maande toe staan. So enige teken van die virus wat dalk in Maart teenwoordig kon wees, is lank reeds dood. So ek sien nie die doel om die skole nou te ontsmet nie. Laat die onderwysers en kinders net gereeld hande was en afstand hou, dan behoort alles in orde te wees.

Pampoen ·

Dit help nie om te sê julle is nie greed nie. Word nou gereed! daar is nog vyf dae en ‘n naweek oor. Kry die nodige goed, doen opleiding en gaan aan!

Cecilia ·

Miskien moet ons ophou negatief wees en eerder die skole ondersteun wat ten spyte van alles probeer om die skole veilig en skoon gereed te kry vir ons kinders se terugkeer. Sielkundig is dit ook belangrik dat ons kinders weet hul keer na skoon klaskamers terug. Dankie aan al ons hooffe vir die harde werk. Dit kweek ‘n positiewe gesindheid by die kinders en die onderwysers!

Anel ·

Opleiding in skoon wees! As jy nou nog nie weet wat dit is om skoon te wees nie, sal jy nooit weet nie. Maar nou ja, opvoeding ontbreek. Soos ek verstaan as die polisie nuwe studente in die kollege ontvang spandeer hulle ‘n hele maand om hulle van higiëne te leer, om elke dag te bad, skeer, tandeborsel, skoon aantrek esm. Dit laat mens wonder.

Cecilia ·

Nie een v d mense wat so negatief reageer is seker onderwysers nie. ‘n Skoon klas skep positiewe leeromgewing. Nie een onnie wil na ‘n vuil, stowwerige klas teruggaan nie. Dit is net common sense en nie “opleiding” nie. Ek weet, want ek is ‘n onderwyser wat graag wil teruggaan skool toe maar wil nie my kinders in ‘n vuil klaskamer terug verwelkom nie. Vir die kinders sal dit ook meer gerusstellend wees om te weet die klasse is ontsmet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.