Prys van brandstof, krag is gek – maar dis g’n grap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Eskom se kragtariefverhoging van 12% het Maandag in werking getree en die petrolprys het ook vandag skerp gestyg.

Stygende lewenskoste weerspieël ʼn sekere miskenning van die strawwe lot van die meerderheid burgers oral in die land, wat soortgelyk is om ʼn tikkende tydbom te ignoreer, waarsku Frans Cloete, uitvoerende hoof van Skuldhulp.

“Nie net dok motoriste nou nog meer op nie, maar die jongste petrolprysstygings sal waarskynlik inflasie aanwakker, wat reeds in Februarie ʼn vier-maande-hoogtepunt bereik het,” sê Cloete.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, merk op dat brandstofpryse die druk op inflasie behou het sedert Februarie, toe die brandstofprys met 75c/liter gestyg het, tesame met die bedryfskoste van private voertuie.

In Gauteng styg 95-oktaan-petrol met 67c per liter en aan die kus met 60c per liter. Die prys van 93-oktaan-petrol styg met 65c per liter in Gauteng en met 58c per liter aan die kus. Diesel in Gauteng styg met sowat 3c per liter in die binneland, terwyl dit aan die kus sowat 4c per liter goedkoper raak.

Volgens die departement van energie kan die petrolprysstygings toegeskryf word aan die hoër olieprys weens die voortgesette besnoeiings van Opul-lande sowel as Oekraïne se aanvalle op Russiese raffinaderye wat voorsieningskettings kan beïnvloed.

“Verbruikers wankel op die rand van wanhoop en het ontsteld gereageer op die prysstygings van twee van die belangrikste basiese benodigdhede – petrol om hul voertuie te bestuur en elektrisiteit om kos te verhit en die ligte aan te hou – wat stadig maar seker buite die bereik raak van die gemiddelde burger,” sê Cloete.

Die gekombineerde druk van inflasie en die meedoënlose kragtarief- en petrolprysverhogings kalwe die besteebare inkomste van werkende Suid-Afrikaners weg, en huishoudings moet reeds kies tussen ʼn voedsame maaltyd of vervoer om by die werk, skool of kollege uit te kom.

“Suid-Afrikaners bevind hulself in ʼn baie moeilike posisie, en diegene wat dit kan bekostig, sal eenvoudig na ander vorme van elektrisiteit soos sonkrag oorskuif,” het ekonoom Mudiwa Gavaza in ʼn onderhoud met Newzroom Afrika gesê.

“Waar laat dit egter die werkersklas-burger?” vra Cloete. “Die elektrisiteitsprysverhoging wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) in Desember verlede jaar goedgekeur is, is ʼn groot slag vir huishoudings. Die bykomende finansiële druk sal die ondraaglike las van skuld vererger wat vir te veel Suid-Afrikaners daagliks ’n werklikheid is,” wys hy uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

miche ·

Stem net vir die ‘regte’ party
Mei-maand dan kry jy dit sommer als verniet.( Soos belowe in sekere verkiesing manifesto’s)
Brandstof, water én krag.
Moenie worry nie, man. ( tong in kies)

Hendrik ·

In diens van die anc regering. Meer belasting in hul besit wat waar heen op pad is.

DJ ·

Die huidige regering het geen besef wat op grondvlak met die bevolking aan die gebeur is nie – die verarming en swaarkry. Hulle leef baie gelukkig in hul ivoortoring.

Koen ·

Maar met elke langerige naweek word die kar gepak see of laeveld toe. Dan ook nog die mense wat hulle voertuie ure laat luier in parkeerareas om die lugverkoeling aan te hou. Prys van brandstof is nog gans te laag vir diesulkes.

Amelia ·

Die regering weet dis n manier om mense te melk by die werk moet jy kom en meeste mense het nie eers geld vir kos nie wat van sonpanele so wat bly oor betaal of onwettige koneksies as krag minder was sou dit nie nodig gewees het vir onwetige koneksies nie maar nou ja die rusbank moet weer opgestop word en die ma vn sommiges kort seker
nog n huis van oor die miljoen en moenie die kar vergeet nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.