Pryse vir kankermedikasie word ondersoek

medisyne-farmaseutiese-laboratorium-medikasie-pexels

Die Suid-Afrikaanse mededingingskommissie ondersoek drie farmaseutiese maatskappy se pryse vir kankermedisyne. Foto: Pexels.com

Suid-Afrikaanse kankerpasiënte en hul geliefdes het die mededingingskommissie se besluit om drie farmaseutiese maatskappy se pryse vir kankermedisyne te ondersoek geloof, en versoek dat die ondersoek so spoedig moontlik afgehandel moet word.

Die mededingingskommissie het vroeër die week aangekondig dat hulle die internasionale farmaseutiese reuse Aspen, Pfizer en Roch ondersoek omdat die maatskappye na bewering kankermedisyne teen buitensporige hoë pryse verkoop.

“Ons besef dat kankermedisyne heeltemal onbekostigbaar vir die meeste Suid-Afrikaners geword het. Meeste mediese fondse weier ook eenvoudig om vir die soort medisyne te betaal omdat dit so duur geword het,” het Shipo Ngwema, woordvoerder vir die kommissie, gesê.

Die kommissie het gesê hulle gaan hulself toespits op die farmaseutiese sektor omdat beweerde prysvasstelling verreikende negatiewe gevolge vir die kwesbare en armste mense van die samelewing het.

Borskanker is een van die soort kankers wat die meeste Suid-Afrikaanse vroue opdoen. Roche verkoop Trastuzumab as Herceptin en Herclon in Suid-Afrika. Die medikasie word onder meer deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vir borskankerpasiënte aanbeveel.

ʼn 12 maande-kursus van dié soort medikasie in die plaaslike privaatsektor kan meer as R500 000 of selfs meer beloop indien ʼn pasiënt ʼn hoër dosis van die medikasie benodig. Die mededingingskommissie voer aan die buitensporige koste van die medikasie beteken dat die meeste vroue met hierdie soort kanker nie die medisyne kan bekostig wat hul lewens moet red nie.

Pfizer se pryse vir longkankermedikasie is ook onder soeklig. Die kommissie voer verder aan dat Aspen die Suid-Afrikaanse mark vir kankermedikasie oorheers en hierdie posisie in die mark misbruik om die pryse vir kankermedisyne soos Leukeran, Alkeran en Myleran kunsmatig en buitensporig hoog te hou.

“Die saak is van groot belang en die drie ondersoeke sal met die nodige dringendheid en omsigtigheid hanteer word. Die kommissie besef daar is talle pasiënte wat afhanklik is van hierdie medikasie,” het Ngwema bevestig.

EWN het intussen berig dat die Italiaanse howe die farmaseutiese reus Aspen ʼn boete van €5,2 miljoen plus rente opgelê het nadat ʼn appèl wat handel oor die maatskappy se verspreiding van onkologiese produkte in die land die week van die hand gewys is. Daar is bevind dat Aspen die Italiaanse mark oorheers en sy posisie in die mark misbruik het om pryse met die land se medisyne-reguleerder te onderhandel.

Salome Meyer, ʼn onafhanklike konsultant verbonde aan Cancer Alliance, ʼn organisasie wat nie-winsgewende kankerorganisasies verteenwoordig, het die ondersoek van die kommissie ook verwelkom.

“Vir te lank moes Suid-Afrikaners die prys betaal vir verouderde patentregte wat toegang tot bekostigbare kankerbehandeling verhoed. Die kankermedikasie is ʼn baie winsgewende sektor in die gesondheidsorg en dit sal my nie verbaas as daar meer as drie farmaseutiese maatskappy hierby betrokke is nie,” het Meyer gesê. Sy voel ook dat kankermedikasie in Suid-Afrika onbekostigbaar is. “Soveel as 84% van die bevolking kan nie toegang tot hierdie medikasie bekom nie,” het Meyer gesê.

Prof. Michael Herbst, ʼn spesialisnavorser van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), het in ʼn onderhoud aan die radiostasie Talkradio 702 gesê die soort medikasie wat by die ondersoek betrek word, is beslis noodsaaklik vir kankerpasiënte.

kanker-pdpics-pixabay

Foto: PDPics/Pixabay.com

“Die soort medikasie is generiese medisyne wat eintlik veronderstel is om goedkoper te wees as die oorspronklike produkte. Die maatskappye kom vorendag met ʼn nuwe soort medikasie. Hulle verkry patentregte daarvoor, maar sodra die regte verval, kom ʼn maatskappy soos Aspen in, neem die resep vir die medikasie en vervaardig dit in groot maat,” het hy verduidelik. Herbst reken die feit dat die medikasie op so ʼn groot maat vervaardig word of generies is, beteken nie goedkoper medisyne vir plaaslike pasiënte nie.

Hy het verder gesê hy kom byna daagliks te hore van pasiënte wat nie ʼn mediese fonds het en die nodige kankermedikasie kan bekostig nie, terwyl kankerpasiënte met mediese fondse soms ook ʼn tweede of ʼn derde verband op hul huise moet uitneem om vir dié soort medikasie te betaal.

Shauneen Beukes, groepkommunikasiebestuurder van Aspen, het gesê die maatskappy sal sy volle samewerking aan die kommissie verskaf. Sy het egter benadruk dat Aspen nie verantwoordelik is vir die vasstelling van medikasie se pryse nie.

“Dit is ʼn hoogs gereguleerde en omvattende proses en word deur die departement van gesondheid beheer. Die departement stel al die pryse vas vir alle farmaseutiese produkte. Aspen voldoen aan al die vereistes in die verband en pas ons medikasie se pryse aan in ooreenstemming met die departement se enkeluitvoerprysbeleid soos wat dit van tyd tot tyd uitgereik word.”

Beukes het gesê die DA het Aspen vroeër vanjaar ook van prysvasstelling beskuldig, maar die aanklag is teruggetrek nadat die party hulleself vergewis het van die streng maatreëls wat deur die departement beheer word.

Johnny Moloto, woordvoerder vir Pfizer Suid-Afrika, het gesê hulle respekteer die prosesse wat die kommissie met die ondersoek van stapel gestuur het en sal ook hul volle samewerking aan die kommissie verskaf. “Pfizer verskaf egter nie longkankermedikasie teen die prys van R152 000 per 250 mg soos die kommissie in hul mediaverklaring beweer nie. Ons hoop die kommissie sal ons binnekort kontak sodat ons die pryse van die produk met hulle kan opklaar.”

Aadila Fakier, hoof van kommunikasie by Roche, het gesê hulle het deur die media verneem van die kommissie se planne om die maatskappy te ondersoek vir die prys van Trastuzumab, Roche se borskankermedikasie. “Ons sal ook ons volle samewerking tydens die ondersoekproses verskaf. Ons is vol vertroue dat die pryse van ons farmaseutiese produkte ooreenstem met die streng regulatoriese raamwerk van Suid-Afrika.”

Maroela Media het die woordvoerder van die departement van gesondheid, Popo Maja, gevra om te bevestig of die departement verantwoordelik is vir die prysvasstelling van medisyne, wat kankermedikasie insluit. Maroela het egter ten tyde van die plasing van die artikel nog nie terugvoer oor die navraag ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Annie ·

Ek het self kankerbehandeling ontvang en my onkologie bedrag vir die jaar was uitgeput. Ek moes nog steeds intinsiewe behandeling ontvang ten duurste. Agv van die kostes van die behandeling moes ons elke 2de week ongeveer R5000 eers betaal voor behandeling. Dit was n 20% bybetaling. Wie het soveel ekstra ? Ons moes duisende uit ons sak betaal en is net salaris trekkers. Dit is baie geld om te oorleef.

Ekke ·

Ek vra maar net, waarom word ‘n ondersoek nie gedoen oor waarom daar so baie kanker pasiente is nie.

Pastoor ·

Ek is baie betrokke in die hospitale sowel as die onkologie. Dit skokkend wat hierdie behandelings kos. Ek ken lidmate van wie geliefdes dood is. Dan vat hulle medikasie wat deur kanker lyers gekoop en nog nie eens oopgemaak is nie teug na die drs reeds vir die wat dit nie kan bekostig nie. Wat verder daarvan word weet ek nie. Al wat ek weet dit is n skande voor die VADER. Kankerlyers word die duurste denkbare medikasie en behandeling gegee. Die drs weet mos die pasient gaan dit nie oorleef nie. Hulle sal nog vir laaste kyk hoeveel hulle nog uit sy medies kan tap. Skande voor Vader

snoefie ·

mediesefondse wil besluit waarvooor hulle betaal en hoeveel. dis bog. hulle betaal vigsmedikasie tot die oornag doeke en vitamines. as dit vir vigs kan gebeur behoort dit vir alles te wees.

Spikkel ·

Dis n skande dat soveel geld gemaak word uit mense se siekte en lyding. Hoop regtig hier kom iets van.

Liesie ·

Aspen het net een oggend opgestaan en besluit hulle maak nie meer die lewensbelangrike skildklier mediekasie Diotroxine. Ek het nie meer ń skildklier nie en die feit dat die meds nie meer beskikbaar is en ook geen ander meds in SA wat T3 en T4 bevat is besig om my lewenskwaliteit ernstig in te kort. Is mense se lewens vir hierdie mpy van geen belang?

jannie ·

Lyk my die farmaseutiese bedryf en dept gesondheid is gesamentlik verantwoordelik dat pasiente nie meer noodsaaklike medikasie kan bekom nie. Skande!

Adrian ·

Volgens kommentaar deur die prof is die medisyne 3000 tot 4000% verhoog. Die direkteure van die maatskappye moet tronk toe gaan en die enorme geld wat deur pasiente betaal is moet terugbetaal word, daar is genoem dat mense hul motors verkoop het om hul geliefdes met kanker te help. Dit is n skande ondersoek die saak en maak streng wetgewing om die tipe ding in die toekoms te stop en terwyl hul besig is met die ondersoek gaan ander hoe pryse van medikadies ook na

corrie steyn ·

Ek dink dit is een van die beste dinge wat kan gebeur met so n ondersoek,ek is ook n kanker lyer en het ek nie n goeie medies gehad nie was ek ookal seker stof, ek dink in die eerste plek is kanker behandeling te duur en siek mense word uitgebuit,ek nweet van mense wat hulle kanker meds.nie meer kan bekostig nou moet hulle maar wag vir die ergste om te gebeur.
En terwyl ons op die blaai is kan ek ook net melding maak van diabetiese lyers waarvan ek een is,die medisyne is so duur,dat daar mense is wat dit nie ook kan bekostig nie en ook maar wag vir die ergste,as jy by die hospitaal jou meds kry moet jy maar gereed wees om die heledag daar te sit,daar is baie mense wat dan moet omdraai en terugkom om weer te probeer.

Ek ·

Liesie, daar is Eltroxin. Ek het ook ni n skildklier en drink dit al amper 30 jaar . Mediese fonds betaal daarvoor, vra jou dokter en ook nie so duur

Cherokee ·

Gaaf dat jy dit uitwys. Ek gebruik ook Eltroxin nagenoeg so lank soos jy en dit verskaf absoluut wat nodig is. Dit is miskien ‘n generiese produk wat buitendien dikwels beter is as die oorspronklike. Liesie behoort hiervan kennis te neem en ‘n dokter of apteker behoort haar al lankal hiervan te vertel het. Dit behoort nie nuus te wees vir haar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.