Prysstygings in hoenderprodukte onvermydelik

(Foto: Pixabay)

Die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders van Suider-Afrika (AMIE) waarsku dat verbruikers hulle moet staal vir ʼn moontlike styging in pryse van pluimvee oor die feestyd en vroeg in die nuwe jaar.

Dít is glo weens die kumulatiewe uitwerking van die tekorte wat veroorsaak word deur die hoogs aansteeklike voëlgriep-uitbreking asook die regering se versuim om betyds ʼn korting op invoertariewe – en ander noodmaatreëls – in te stel.

Paul Matthew, uitvoerende hoof van AMIE, sê die prysstygings is onvermydelik, tensy die regering dadelik ingryp.

“Die plaaslike pluimveebedryf het altesame 83 miljoen bevrugte eiers ingevoer om die pluimvee-tekorte – wat deur die voëlgriep-uitbreking veroorsaak is – te pak.

“Gegewe die feit dat dit op ʼn dringende basis ingevoer is, kom dit teen drie keer die prys as dié van ʼn plaaslik geproduseerde dagoudkuiken,” sê Matthew.

Hy sê dit is onvermydelik dat hierdie koste prysstygings tot gevolg gaan hê wat ʼn beduidende invloed op verbruikers se sakke gaan hê.

“Hierdie prysstygings is nog nie op die rakke gesien nie, aangesien dit pluimvee raak wat nog nie op die mark is nie. Ons verwag egter dat hierdie produkte die mark in die eerste kwartaal van 2024 sal binnekom, met ’n stewige prysstyging.”

Hy meen die maatskaplike uitwerking van die styging in hoenderpryse kan nie oorskat word nie.

“Hoender bly die mees bekostigbare en noodsaaklike bron van proteïen vir verbruikers, veral die kwesbaarste, wat sukkel om in hul gesinne se basiese voedselsekerheidsbehoeftes te voorsien.”

Volgens die Pietermaritzburg Economic Justice and Social Dignity Group het die prys van eiers in Oktober vanjaar met 19% gestyg vergeleke met September en met altesame 36% gestyg in vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

“Hoenderpote en hoendermagies het met 8% gestyg vergeleke met verlede jaar, en hoenderlewers het met 14% gestyg. Dit is die produkte wat die meeste deur minderbevoorregte verbruikers verbruik word,” sê Matthew.

“Alle pogings moet aangewend word om maniere te vind om pluimveepryse laag te hou. Die regering se mandaat is om namens sy burgers op te tree, en dit vereis dat hy alles in sy vermoë moet doen om te verseker dat die land voedsel veilig is en dat die armes pluimvee kan bekostig.

“Die minister is terdeë bewus hiervan; dit is hoekom hy ʼn dringende oproep oor die instelling van ʼn tydelike korting op pluimvee-invoertariewe vroeg in Oktober – vir kommentaar – gerig het.

“Alles het egter nou stil geword. Dit is amper Desember en daar is geen teken van ʼn besluit van ITAC [die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie] nie.”

Hy sê die behoefte aan die tydelike korting is in die openbaar deur prof. Lawrence Edwards, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Ekonomie, gesteun.

“In sy artikel het Edwards geskryf dat ‘selfs met die korting, die vraag na binnelandse hoender die binnelandse aanbod sal oorskry en dus geen impak op die verkope van binnelandse produkte sal hê nie’.

“Die korting sal egter ʼn mate van verligting aan verbruikers bied wat die afgelope tyd aan baie hoë inflasiestygings blootgestel is. Vir elke 10%-verhoging in die totale invoerprys van heffings, is daar ʼn 4,8%-styging in die verbruikersprys van bevrore hoender.”

Matthew sê hoewel invoertariewe plaaslike pluimveeprodusente subsidieer en beskerm, is dit in werklikheid ’n belasting wat verbruikers moet dra.

“Ons verstaan ​​dat die regering binnelandse produsente wil ondersteun, en ons onderskryf die adjunkpresident se oproep om finansiële bystand te verleen aan plaaslike produsente wat deur infrastruktuur-mislukking en voëlgriep geraak word.

“Die regering se algehele mandaat is egter om in die beste belang van die mense van hierdie land op te tree, met ander woorde die verbruikers.

“Dit is tyd dat die departement van handel, nywerheid en mededinging, sowel as ITAC besef dat invoerbelasting ʼn uiters regressiewe vorm van belasting is, wat beteken dat dit verbruikers die ergste raak.”

Hy sê die invoerbelasting van 62% op hoender aan die been wat in Maart 2020 ingestel is, moes ’n tydelike maatreël gewees het, maar dit is geïnstitusionaliseer ten koste van verbruikers.

“Dit is hoog tyd dat die hele narratief oor hoenderbeskikbaarheid en invoer, asook tariewe, verander word. Waar daar wettige storting is, moet dit hanteer word, maar uiterste invoertariewe op alle ingevoerde hoender is nie die antwoord nie.

“Invoer is ʼn kritieke en noodsaaklike maatreël om te verseker dat die land genoegsame voorrade van lewensnoodsaaklike proteïene het om die nasie te voed, en om die voortdurende gapings in aanbod te vul. Die huidige voëlgriepkrisis illustreer dit perfek. Binnelandse produsente wat ernstige tekorte ondervind, het hulle tot ons land se globale handelsvennote gewend om te help om hul pluimveevoorrade aan te vul. Hierdie strategiese vennootskappe is uiters belangrik, nie net vir die binnelandse mark nie, maar ook vir verbruikers en moet dus bewaar word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ragnarok ·

In hierdie weer vertrou ek nie eers vleis wat ek uit die yskas uithaal by supermark. Nee wat. Al val die pryse

annie ·

Ag ja, en so voor Kersfees. Ons harte bloei vir die skatryk hoenderboere maar meer vir die hoendertjies wat so ingeprop moet lewe om die bankrekeninge mee vol te kan prop!

George ·

Annie, weet jy waar kom vleis vandaan, insluitend biltong en droewors?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.