Psigiater getuig Susan Rohde se risiko vir selfdood was ‘genoeg’  

Dr. Larissa Panieri-Peter. Foto: David Ritchie/ANA

ʼn Forensiese psigiater het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig dat Susan Rohde aan erge depressie gely het wat die risiko vir selfdood aansienlik verhoog het.

Dr. Larissa Panieri-Peter, wat deur Jason Rohde se regspan aangestel is, het getuig dat sy verskeie mense, onder wie familielede, vriende en die Rohde-egpaar se sielkundige en huweliksberader, geraadpleeg het om inligting oor Susan in te win.

Adv. Graham van der Spuy van Rohde se regspan wou by Panieri-Peter weet wat haar bevindings was waarna sy gesê het Susan het major depressie gehad en spesifiek aan angs en wispelturige buie gely.

“Dit op sigself het haar risiko van selfdood aansienlik verhoog. Wat sy daardie naweek wou bereik, was om vir almal te wys dat sy en haar man gelukkig was en dat sy die stryd teen die minnares gewen het,” het Panieri-Peter getuig. Rohde het ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn kollega gehad.

“My gevolgtrekking is dat sy ʼn aantal kwesbaarhede voor die krisis gehad het. Sy was baie energiek en bedrywig. Sy het van nature nie baie geslaap nie en was in baie opsigte ʼn onseker persoon. Sy was ʼn perfeksionis en wou gehad het die wêreld moet die goeie kant van haar en haar gesin sien. Sy het nie dinge wat vir haar pynlik was met ander gedeel nie.”

Panieri-Peter het verder getuig Susan was sosiaal geïsoleer ten opsigte van dinge wat vir haar pynlik was en het dalk genetiese risikofaktore vir die ontwikkeling van gemoedsversteurings gehad.

Jason Rohde. Foto: Henk Kruger/ANA/African News Agency

“In verband met die krisis wat plaasgevind het toe sy vasgestel het haar man het ʼn verhouding gehad, het sy volgens baie weergawes ʼn dramatiese verandering in houding en emosies getoon.”

Panieri-Peter het voorts gesê die hof moet besluit wat daardie aand gebeur het aangesien sy nie self daar was nie, maar dat die risiko van selfdood, in psigiatriese terme en die inligting wat ingesamel is, “genoeg” was.

Die Rohde-egpaar het die naweek van 22 tot 24 Julie 2016 Sotheby’s International Realty se jaarlikse geselligheid by dié wynlandgoed buite Stellenbosch bygewoon. Susan se liggaam is in die egpaar se hotelkamer gevind. Sy het aan ʼn elektriese koord gehang wat oor ʼn haak agteraan die badkamerdeur geglip was.

Die staat voer aan Rohde het sy vrou vermoor en dit soos selfdood laat lyk terwyl die verdediging aanvoer Susan het haar eie lewe geneem.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Sean ·

Ek volg ook die saak , Volgens die getuienis van die verdediging se Pataloog Dr Perumal en nou van die psigiater Dr Panieri-Peter dink ek ook al hoe meer Rhode is dalk onskuldig , dis maar my opinie ,kom ons wag maar en kyk.

kas ·

Annie,duidelik weet jy nie hoe werk die strafreg nie.Wat het hy van die begin af gejok?Die staat moet bo redelike twyfel bewys dat Rhode sy vrou vermoor het en tot nou toe was dit nie die geval nie.Die verdediging het teenstrydighede in die staat se patalogiese getuie uitgewys wat belangrik is.Hierdie forensiese psigiater het navorsing gedoen oor die oorledene en sy deel die hof mee wat haar bevindinge is.Natuurlik word sy betaal want dit is haar tyd,maar sy sal nie onder eed lieg nie.

Popsa ·

Stem saam met Kas. Ek het groot respek vir hierdie psigiater en die reuse in-diepte navorsing wat sy in hierdie saak gedoen het. Ek was gister oortuig dat haar verslag die hof sou help om die saak deeglik te analiseer uit verskeie verskuilde hoeke wat tot nou toe verborge was. Die regter se besluit en optrede vandag gaan my verstand te bowe. Dalk voel sy minder in beheer in die geselskap van so fyn en ‘n bekwame vrou soos dr Larissa. Jy het die regte note gespeel, dokter, en in die proses ‘n paar tone raakgetrap. Laat die water gerus van jou rug afloop.

Pop ·

As die dr so “bekwaam” was soos jy voorgee Popsa dan sou die regter sekerlik nie nodig gehad het om haar vas te vat nie of hoe?

Riouna Martin ·

Dit is hartseer om te dink dat haar moordenaar dalk vry gaan loop. Ek persoonlik volg die saak en my gevoel se^ vir my die vrou het nie let wel het nie selfmoord gepleeg nie. Sy het te veel gehad om voor aan te gaan. Sy was wel nie in goeie plek in haar lewe nie maar definitief nie op die plek waar mense beweer sy was nie in selfmoord mode.

Michelle ·

Ek weet ongelukkig van ‘n hele paar mense wat sal selfmoord pleeg as hulle die moed kan kry. En dit is mense wat op die oog af ‘gesond en normaal’ is en ‘n ‘goeie lewe’ het. Depressie is nie iets wat altyd identifiseerbaar is nie. En iemand wat bipoler is kan enige oomblik laag genoeg voel om selfmoord te pleeg, hulle is nie in staat om verder as die oomblik te sien. Hoe weet enigeen wat werklik in haar gedagtes was?

Judy ·

Nie elke persoon is altyd skuldig nie, jy kan jouself indink as jy lees watse tipe persoon Susan was dat dit vir haar ongelooflike depresie veroorsaak het en dat geen vrou wil hoor sy is nie goed genoeg nie en wat gaan mense nou dink, syt dalk aandag gesoek van haar man en net nie meer geweet hoe om dit te kry nie, mens sal nooit weet wat sy gedink het en gevoel het nie, niemand se dit is reg wat hy gedoen het nie, maar dit maak hom nie ‘n moordenaar nie.

Lana ·

Ek stem saam met jou, Gert.
Dit lyk asof Rhode se geld dit regkry om met ‘n hele klomp koppe te smokkel!!
Daar is egter nog ‘n paar hekkies wat hy moet oor…

alwyn burger ·

Ek dink nie psigiaters/sielkundiges se getuienis behoort ernstig in die howe opgevat te word nie. Lees maar hoe hulle mekaar weerspreek het n die Oscar Pretorius-saak. Hulle bedryf in elk geval nie ñ eksakte wetenskap nie,

Riana ·

Wat het Susan se depressive, ens. te doen met of sy vermoor is of selfmoord gepleeg het. Bewyse is daar dat sy dood was voor die koort om haar nek gesit is. Hy erken daar was ‘n fisiese rusie. Dit is verskriklik om nou Susan so sleg uit te maak net om skotvry te kom. Hy het geen skaamte, los sy vou alleen om na sy minnares te gaan en daar waar sy hele firma van hul doen en late weet. Mens sou dink hy sal volgens sy senior posisie by die firma op tree. Dink net die trauma wat Susan reeds deur sy skelm streke moes verduur. Hy moet liewers soos ‘n man sy pak vat. Sies!

Alida ·

Shoe maar ons het darem baie sielkundiges vandag aan die woord. Elkee le ‘n eier maar weet nie eintlik wat in die hof aangaan nie. Los dit uit die waarheid sal uitkom en as Jason onskuldig is sal hy tog vanselfsprekend alles doen om dit te bewys.

Koos de Meyer. ·

Die dood het ‘n oorsaak en hy is die oorsaak. Hy lieg en bedrieg , maar geld wat stom is maak reguit wat kom is. Hy het egbreuk gepleeg en nog. Meer skaamteloose dinge gedoen. Ons mag nie oordeel nie maar eendag gaan hy verantwoording vir sy dade moet doen.

Susan de Klerk ·

Susan was ‘n mooi vrou, pragtige dogters, gerieflike huis en genoegsame geld. Sy was onder die indruk dat haar man die affair beeindig het. Daardie aand was sy briesend kwaad en met goeie reg. Kan iemand wat so kwaad is selfmoord pleeg?

Eierlêer ·

Alida ons, jy ook, mag maar eiers lê.
Die persoon (vind dit swaar om hom ‘n man te noem) gebruik sy oorlede vrou se geld (so gelees) om sy beweerde onskuld te bewys glo dat dié waarheid wat hy beweer,enige oomblik sy baas gaan vang.

Ag wat! ·

Amper dog ek gister die slimme dr Panieri-Peter beskryf my emosies hierdie tyd van die jaar te midde van vraestelle merk en die gejaag na wind op die rottemeuletjie! En glo my, al het ek ook skielik n leë nes en onsekerheid en alles wat die oulike doktertjie beskryf, wil ek dit saamvat deur te sê: Dis normaal vir ons mammas/vrouens om een of ander tyd daardie emosies presies net so te ervaar – en dit maak beslis nie van my n selfmoord kandidaat nie. Alles behalwe!

Miekie ·

Ek is jammer ek wil niks se van die Jason man nie maar is die drie dogters okay?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.