Pta-aanleg van verwoestende brand gered

Foto verskaf deur Stad Tshwane nooddienste

Stad Tshwane se brandbestryders het ʼn aanleg in Pretoria, waar elektriese transformators vervaardig word, van algehele verwoesting gered. Die brand het Sondag omstreeks 17:00 by die SGB-Smit Power Matla uitgebreek.

Charles Mabaso, woordvoerder van Stad Tshwane se nooddienste, het gesê ʼn distriksbevelvoerder van die brand- en reddingsdiens het ʼn donker rookwolk in die rigting van die Pretoria-Wes-nywerheidsgebied opgemerk toe sy van ʼn huisbrand in West Park verlaat het. “Sy het haar assistent aangesê om in die rigting van die rookwolk te ry om ondersoek in te stel. Toe hulle by die hek van die aanleg, op die hoek van Buitekant- en Carlstraat, aankom, het hulle rook en vlamme uit die aanleg sien borrel.”

Sy het dadelik brandbestryders oor die radio ontbied.

Foto verskaf deur Stad Tshwane nooddienste

“Volgens inligting het ʼn brand in een van die 90 kVA-transformators uitgebreek. Daar is ook vasgestel daar is verskeie gevaarlike en vlambare stowwe (transformator-olie, keroseen, verf, petroleumgas, suurstof, ens.) in die fabriek.”

Brandbestryders is aan die suidweste kant van die gebou ontplooi om te voorkom dat die brand na die oostelike en suidoostelike dele van die gebou versprei met beskerming vir die noordelike dele van die gebou. Die noordelike gedeelte van die gebou huisves twee 14 000-liter tenks keroseen, twee 33 000-liter tenks transformator-olie en ʼn 30 000-liter tenkwa. Die suidoostelike deel van die aanleg is ook van die brand gered. Verskeie hoë-stroomspanning transformators wat óf reeds voltooi is óf byna voltooi is en ʼn kontrolekamer in die hoof-aanleg is deur die brand verwoes.

Uitlaatkleppe wat die aanleg van keroseen en transformator-olie bedien is afgesluit. Die inhoud in die 75 mm-pypleiding was voortdurend ʼn kommer tydens die brandbestrydingsoperasie, asook ontploffings wat in die gebou gehoor kon word, het Mabaso bygevoeg.

Die brand is omstreeks 18:30 geblus. Brandbestryders was tot ná middernag nog op die toneel tydens die afkoelperiode en om brandpunte te elimineer.

“Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie en die oorsaak van die brand word ondersoek. Brandbestryders monitor steeds die aanleg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Give that woman n Bells.