Pta-beampte by kitskosrestaurant doodgeskiet

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Beampte van die Tshwane-metropolisie is Woensdagaand by ʼn gewilde kitskosrestaurant in Centurion doodgeskiet.

Samkelo Mgobozi, woordvoerder van Pretoria se burgemeester, Solly Msimanga, het gesê die beampte was amper klaar met diens toe hy omstreeks 21:10 by die kitskosrestaurant in Lyttelton Manor stilgehou het om kos te koop.

“Daar was ʼn gewapende rooftog by die eetplek en die beampte is geskiet toe hy daar ingestap het. Die rowers het sy vuurwapen gegryp en op die vlug geslaan,” het Mgobozi gesê. Die beampte is op die toneel dood verklaar.

Volgens Mgobozi was drie verdagtes glo by die rooftog betrokke. Hulle het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug en is steeds soek.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en gewapende roof.

Msimanga het sy skok oor die voorval uitgespreek en sy meegevoel aan die beampte se familie, vriende, geliefdes en kollegas betuig.

“Die Stad Tshwane is hartseer en veroordeel die moord op ons beamptes. Ons sal hard saam met die polisie werk om die skuldiges aan te keer en verseker dat hulle vervolg word,” het Msimanga gesê.

Die naam van die beampte is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lola ·

Ja shame ne, as hy daar was nadat hy klaar sy diens gedoen het het hy vandag nog geleef. Ek se maar net, my baas sal my jaag as ek 3:40 gou uitspring om iets te gaan koop om te eet. Ek kan mos maar wag tot ek 4:00 van die werk af kom.

Anoniem ·

Mnr. Msimanga, hoekom skok die kultuur wat die regering geskep, aangevuur en ondersteun het jou? DOEN iets daaraan!

Andrea ·

Presies! Help nie om geskok te wees nie, help nie om simpatie te betuig nie. DOEN iets om sulke voorvalle te voorkom!!

Alida ·

Dit is regtig tragies. Kon van die ander mense dan nie die verdagtes aankeer om tenminste ‘n registrasie no kry afneem nie.

Willie ·

Dit gaan ongelukkig nie stop nie, die ANC het land onregeerbaar gemaak….

Daan ·

Die owerhede moet meer tronke bou en langer vonnisse gee dit wat nou in plek is is nie genoegsame afskrikmiddel nie.

cor ·

Al die jare word n mens gewaarsku teen die gevare van kitskos en hier is dit nou bewys dit kan wel jou dood veroorsaak of jy dit nou eet of nie. Al die ander uniform draers wat so graag met uniform, vuurwapen en al by die plekke stop en ingaan wees op julle hoede.

POP ·

Ai Amanda wat weet jy? Loer jy elke keer om d hoek om te kyk of daar iets aangaan voor jy by n winkel instap? Regtig nou.
Sterkte aan sy naasbestaandes.

Piet Pompies ·

Geen verdraagsaamheid teenoor misdadigers is die oplossing vir misdaad.
Geen persoon verdien om werk toe te gaan en voordat hy kan terugkeur huis toe, word hy vermoor.

Andrea ·

Presies! Help nie om geskok te wees nie, help nie om simpatie te betuig nie. DOEN iets om sulke voorvalle te voorkom!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.