Pta-dieretuin word dalk navorsingsentrum

Pretoriase dieretuin (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die regering oorweeg om die Pretoriase dieretuin in ʼn navorsing- en wetenskapfasiliteit te omskep.

Barbara Creecy, minister van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, het Donderdag saam met raadslede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) die dieretuin besoek.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring uitgereik deur die departement en Sanbi was die doel van die besoek om die dieretuin se bydrae tot biodiversiteit, navorsing, wetenskaplike dienste, dierewelsyn, bewaring, toerisme en openbare bewusmaking te hersien.

“Regoor die wêreld beweeg mense weg van die [tradisionele] konsep van ʼn dieretuin. Die regering bevraagteken ook die toekoms van dieretuine,” het Creecy tydens haar besoek gesê.

“Mense wil nie meer diere in gevangenskap sien nie en sal eerder nasionale parke besoek.”

Tydens die besoek het Creecy haar wens uitgespreek dat die dieretuin “ʼn bydrae in navorsing kan verskaf wat onder meer die regering se stryd teen wildmisdaad” kan ondersteun.

“Sanbi se werk oor navorsing en wetenskaplike dienste – wat genetika en DNS-profiele, veeartsenykundige dienste en die biobank insluit – dra aansienlik by tot biodiversiteitsinligting, spesiebewaring, biodiversiteit en gesondheid, en die wildekonomie asook die bekamping van wildmisdaad.”

Creecy het ook die geleentheid gehad om fasiliteite te sien wat die jongste toerusting insluit wat gebruik kan word vir die ontwikkeling van telingstelsels om genomiese navorsing by die sentrum vir bewaringswetenskap te bevorder.

In die eenheid vir genetiese dienste het Creecy die gereedskap, tegnologieë en riglyne bekyk wat in wild-forensiese wetenskap toegepas word en wat gebruik word om DNS-wilddatabasisse uit te brei. Dit is om doeltreffende en geloofwaardige forensiese toetse te verseker om wildmisdaad te bekamp en by te dra tot die bestuur van wildhandel.

“Met behulp van navorsing word nuwe genetiese hulpmiddels aangewend vir die identifikasie van basterspesies in ’n verskeidenheid wildspesies met nuwe drempels vir genetiese toetsing,” het prof. Ramagwai Sebola, hoofdirekteur van grondslagbiodiversiteitswetenskap by Sanbi, gesê.

“Dit is ʼn diens wat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), provinsiale bewaringsowerhede en -agentskappe en aan die wildbedryf gelewer word om genetiese integriteit te handhaaf en om inligting te verskaf oor die genetiese status van wildbevolkings.”

Creecy het ook die akwarium en dierehospitaal en veeartseny-eenheid – waar diere-operasies en nadoodse ondersoeke uitgevoer word – besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dries ·

Daar gaan ons dieretuine nou ook onder hierdie gemors se toesig. Daar is nie meer baie vir die lot om op te voeter nie

JohanR ·

Dit was ‘n wonderlike dieretuin die maar nou op die verkeerde plek. Wil nie naby die stad in Pretoria kom want is net EEN GROOT GEMORS. Miskien moet die nuwe dieretuin die Unie Gebou word. Daar is baie ANC diere daar!

Hendrik ·

Daar is sekerlik baie positiewe hieraan verbonde maar vir baie mense is dit nie meer bekostigbaar om widtuine in lang afstande en duur akkommodasie te besoek nie. Vir baie stedelinge is die besoek aan die dieretuin n gerieflike wegkom uitstappie.

Di ·

Ja is seker so maar mense wil ook nie meer soontoe gaan, word ook daar beroof en meeste plekke is MORSIG. Mens kan NERENS heen gaan sonder die kanse om beroof, aangeval of dalk gehijack te word nie.

Mariana ·

As dit reg bestuur word kan dit werk. Ongelukkig kan dit nie in die ANC se hande gelos word nie. Hulle het nou al oor en oor bewys dat hulle niks kan bestuur met enige sukses nie. My grootste kommer lê by die diere wat geraak word. Ons weet dat diere nie juis ‘n prioriteit by die regering is nie.

Samuel ·

Baie goeie idee wat kan werk, mits die ANC -regering opsy staan

Dries ·

Dan hou ons faai vark moordenaar Modise net ver weg van die dieretuin

Lubbe ·

Hulle gaan nogsteeds diere aanhou as dit ‘n navors sentrum word

Miena ·

Maar dis juis al klaar in haglike omstandighede – die leeuhokke, die olifanthokke, die aaphokke, is glad nie goed nie en die diere lyk nie 100% versorgd nie. Plus dan is daar die ongunstige omstandighede van wat aan die buitekant van die dieretuin in die parkeer areas aan’t gebeure is. mens kan nie van jou kar stap to tby die inganshek sonder om ten minste 4x amper oorval of geroof te word nie…

FBS ·

Die terme wêreldwyd word so maklik gebruik sonder werklike bevestiging van ’n stelling.
Hoekom nie net kyk na die getalle mense wêreldwyd wat dieretuine besoek, dan is die stelling wat gemaak word tipies anti-wild.
Die beweging wat deur die so gename beskermers van ons wilde diere gelewer word in samewerking met ons huidige minister is die begin en einde van alle wilde diere. Voorbeeld SANBI neem 3-maande om die genetika van jagluiperds uit te reik na bloed monsters ingedien is. Hulle bankrekening is nie eers korrek nie.
Daar is hofverslae wat die kwaliteit van die Departement se amptenare weer gee wat die onvermoë bewys. As die tendens voortgaan moet diere liefhebbers maar totsiens sê vir ons wildlewe.

Swerwer ·

Praat liewer die waarheid deur te sê dat die huidige Regering en wesens nie die diere versorg nie en die Dieretuine nie in stand gehou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.