Pta-egpaar eindelik ouers ná agt miskrame

Klein Anja (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar van Pretoria wat gedurende die feesseisoen die ouers van ʼn vroeggebore baba geword het, sê hulle is ná agt miskrame en vyf jaar “hel toe en terug” en het bykans alle hoop verloor om eendag ouers te word, maar het bly “glo en bid” vir dié wonderwerk wat hul lewe nou handomkeer verander het.

Coenraad (35) en Marissa van Zyl (32) het Vrydag aan Maroela Media vertel hul pienkvoet, Anja, is op 28 Desember verlede jaar gebore. Klein Anja is op 24 weke vroeg gebore en het maar ʼn skrale 580 g by geboorte geweeg.

Van Zyl sê hulle het ʼn lang pad gestap die afgelope vyf jaar en was aanvanklik nié seker of Anja se lewe gered sou kon word nie.

“Ons het soveel keer tevore dieselfde beleef – elke keer raak ons opgewonde en dankbaar en dan breek ons harte. Ons moes agt hartverskeurende miskrame verwerk en drie van dié kere het ek my babas teen my bors vasgehou voordat hulle van my weggevat is.

“Ons laaste miskraam was ʼn tweeling. Ek het die miskraam verlede jaar gehad. Gedurende my termyn was ek heeltyd by die dokter en die dokters kon deurentyd niks verkeerd sien nie. My infeksietelling het baie hoog geraak en hulle is net voor vyf maande stil gebore. Die dokters het gesê as dit ʼn week later was, sou hulle waarskynlik die lewe van ons babas kon red. Ons was verpletter,” het sy gesê.

Van Zyl sê sy en Coenraad het van voor af hoop gekry toe sy ʼn negende keer swanger geraak het. Volgens haar het sy ʼn gesonde swangerskap gehad totdat sy op 22 Desember komplikasies ervaar het.

“Ek het begin komplikasies ervaar en was bang dat ek nog ʼn miskraam sou hê. Ek en Coenraad het in die kar gespring en na die hospitaal gejaag. Die dokter het niks fout gesien nie en was aanvanklik nie bekommerd oor Anja nie. Ek is toe huis toe, maar het op 26 Desember teruggekeer nadat ek pyn begin ervaar het. Die dokter het gesê daar is wel komplikasies en die hele wêreld het om ons in duie gestort – ons was oortuig dat ons weer van voor af die seer gaan moet verwerk.

Coenraad (35) en Marissa van Zyl (32) (Foto: Verskaf)

“Anja is binne die baarmoeder behandel vir bloeding op die brein en sy het ook kortisoon vir haar longe gekry. Die dokter het vir my gesê ons moet net vasbyt – hy het gesê hy sou haar nie behandel het as hy nie geglo het dat sy dit kan oorleef nie.”

Klein Anja is kort daarna op 28 Desember gebore. Sy was kleiner as haar ma se hand en is dadelik in ʼn broeikas geplaas. Volgens Van Zyl is die dokters nie bekommerd oor haar gesondheid nie.

“Die dokters is baie positief dat sy sal groei en aansterk. Sy gaan ongelukkig vir nog sowat vyf maande – my hele swangerskaptermyn – in die broeikas moet bly om aan te sterk. Dis alles vir ons oukei, solank ons haar kan huis toe bring en vir haar kan lief wees. Sy is ons klein wonderwerkie en ons loof God vir haar. Vandag is ons só bly dat ons nie hoop verloor het nie en dat ons ʼn wonderlike span dokters en susters by Unitas in Centurion se neonatale-afdeling gehad het wat ons ondersteun het.”

Van Zyl sê die naam “Anja” maal nog altyd in haar kop. Toe sy onlangs die betekenis van dié naam gaan opsoek en besef dat “Anja” eintlik “genade van God” beteken, het sy en Coenraad besluit dat hulle definitief hul kleinding Anja moet noem. “Haar naam sê presies wat sy is – sy is ons genade van God.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jané-Ann ·

Liewe Maris, ek sit ek huil hier. Mag Liewe Jesus Anja ń Lang Gesonde Lewe gee in sy heilige naam. Lief vir Julle.

Cecilia ·

Baie geluk en baie sterkte, ons klein wonderwerk is nou amper 12.

G ·

Mag God sy hand van beskerming oor die kleine lyfie hou. Alle voorspoed vir julle!

Duif ·

So jammer oor die erg klipperige pad wat julle tot hier moes loop. Ons bid dat Anja dag vir dag sterk en gesond sal groei en dat julle pragtige pop haar pappa en mamma groot vreugde sal verskaf. Mag die Heer julle alle genade gee vir elke tree terwyl julle bly opkyk na Hom.

Ronel ·

Baie geluk julle en sterkte vir die pad vorentoe. Een van my vriendinne het ook 8 miskrame gehad. Die laaste swangerskap #9 het egter goed gegaan en hul pragtige seuntjie het net voor Kersfees 1 jaar oud geword.

Hanna ·

Aan Coenraad en Marissa, wees sterk, goo en vertrou. Anja is aan julle geleen, sy is onder die beste moontlike mediese sorg, hulle is die werktue en God is in beheer.
Ons bid opreg saam met julle.

madels ·

Ek sit nou met trane in my oe soos ek hierdie wonderlike nuus van julle klein wonderwerkie lees. Dis so kosbaar om te sien hoe die Here vir julle vreugde gebring het in hierdie nuwe jaar. Mag Anja net van krag tot krag groei en kan sommer sien dat julle haar met baie liefde sal grootmaak. Sterkte!

Rikag ·

Sterkte bid vir julle mag die Liewe Vader sy hand oor julle hou.

Cielie ·

So bly vir julle. My meisiekind was by Unitas vir 3 weke toe sy gebore is op 31 weke. Unitas het die beste NICU met n klomp fantastiese dokters en suster wat na die kleintjies kyk. Sterkte dit gaan so vinnig verby.

Lettie ·

GOD is Almagtig Ek is op 26 week gebore 620g end vandag gesond en het self kinderd na 33jaar is ek nog steets baie gesond .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.