Pta-egpaar maak Turkye-nagmerrie mee

Rozier van Tonder en sy vrou, Leandré, voor die Hagia Sophia Museum. Foto: Verskaf

Rozier van Tonder en sy vrou, Leandré, voor die Hagia Sophia Museum. Foto: Verskaf

ʼn Egpaar van Pretoria se eerste oorsese vakansie het ʼn onvoorsiene nadraai gehad toe hulle hulself die afgelope naweek in Istanbul in Turkye midde-in die mislukte staatsgreep bevind het.

Rozier van Tonder, ʼn grafiese ontwerper by die burgerregte-organisasie AfriForum en sy vrou, Leandré, het op 2 Julie saam met vriende op vakansie na Turkye en Roemenië vertrek. Hulle het agt maande hieraan beplan.

Volgens Van Tonder was hulle aanvanklik bietjie skrikkerig om met die reis voort te gaan ná die bomontploffing op 28 Junie op die Ataturk-lughawe in Istanbul waarin 36 mense dood en 147 beseer is.

Met hul aankoms op die lughawe was daar steeds duidelike tekens van die terreuraanval, het Van Tonder gesê. “Die lughawe was besig en ’n gedeelte was afgesper. Die winkels was gesluit en van die winkelvensters was gekraak en vol koeëlgate. Ons toergids het gesê die toeriste-bestemmings is ná die voorval baie stiller as gewoonlik. Daar was op die lughawe en in die stad oral gewapende sekuriteitswagte, hoewel dit vreedsaam voorgekom en die mense soos gewoonlik gekom en gaan het.”

Hulle het op 9 Julie na Roemenië vertrek en weer op 15 Julie op die Ataturk-lughawe aangekom. “Met ons terugkoms was die skade van die bomontploffing reeds herstel. Ons is na ons aankoms met openbare vervoer na die Mansion by Cheers-hostel waar ons tuisgegaan het. Dit is in die Sultanahmed-gebied en naby die Bosphorus-brug. Ons het middagete gehad en vir oulaas na die Grand Bazaar met meer as 4 000 winkels gegaan en vir ons Turkse lampe gekoop,” het hy gesê.

“Met ons terugkoms by die hostel het ons aandete gemaak waarna die eienaar van die hostel, Emre Güler, ons meegedeel het hy dink iets is in die stad aan die gang omdat twee Amerikaners wat moes kom laat weet het dat hulle op die brug vasgekeer is. Ons het die televisie aangeskakel en gehoor dat ’n groep van die Turkse weermag besig is om ’n staatsgreep uit te oefen.”

Volgens Van Tonder het hulle almal sosiale media gevolg om uit te vind wat besig was om te gebeur. “Güler het ons aangeraai om nie weer uit te gaan nie. Deur die loop van die nag het ons talle kanonskote en geweervuur gehoor, terwyl vliegtuie voortdurend laag oor die stad gevlieg het. Ons was nie bewus van wat werklik gebeur nie.”

Van Tonder het gesê hulle het die volgende oggend wakker geword van ondersteuners wat in die strate met rooi vlae geloop en hul steun aan die Turkse president, Tayyip Erdogan, uitbasuin het.

Volgens hom was die strate Saterdagoggend stil voordat hul met hul toerbus na die lughawe geneem is om terug te keer na Suid-Afrika. “Die lughawe was verskriklik besig, met ondersteuners wat vlae uitgedeel het. Ons het by die lughawe verneem dat alle vlugte gekanselleer is. Ons moes met Egypt Air terugkom en sou in Egipte ’n aansluiting kry. Ná ’n gesukkel en samesprekinge met die lugredery het ons uiteindelik gister ’n direkte vlug met Turkish Airlines na Suid-Afrika gekry.”

Van Tonder het gesê hulle was nie aanvanklik bang nie, selfs nie ná die bomontploffing nie. “Ons het eers werklik begin bekommerd raak toe ons die nag skote en vliegtuie gehoor het. Ons is dankbaar om veilig terug te wees, al wag ons nog vir ons bagasie wat in Istanbul agtergebly het.”

Minstens 265 mense is in Vrydagaand se mislukte staatsgreep dood waarin rebellesoldate tenks, helikopters en vegvliegtuie gebruik is om Erdogan se regering omver te probeer werp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

28 Julie ·

Ataturk – lughawe bomontploffing moet seker 28 Junie wees?

eppie ·

Inderdaad korrek, jammer vir die feitlik inkorrekte datum verskaf.

Sus-Anna ·

“Better the devil you know, than the one you don’t”. Suid-Afrika is nog steeds veiliger as baie ander lande. Ek bly positief oor ons land, selfs met alles wat hier aangaan.

Sarah ·

Nope – daar was oor die naweek ‘n mislukte staatsgreep waar daar ook bomontploffings en skietery in beide Istanbul en Ankarra was, naby die lughawe. Die weermag-rebellie het dele van die lughawe vir ‘n kort tyd beset oor Vrydagnag.

Lida ·

Dit is nou die 3de keer dat ek se ek is bly die paartjie is veilig maar MM plaas dit nie

Sputnik ·

Moenie sleg voel nie, Lida. Ek sê niks oor die paartjie nie en dit word ook nie geplaas nie! (hie-hie)

Jo-Marie ·

My suster was ook in istanbul. Sy was by n troue en moes deur die staatsgreep huis toe ry. Sy het 200m van die president se huis af gebly. Dit was nag daar.

Marion Peters ·

Ek was ook in die middel van die coup. Dis n ervaring wat n mens nie kan beskryf nie. Veg vliegtuie, helikopters, ambulans sirenes wat skree, geweer skote . Ek het Sondag 17de teruggevlieg SA toe!!Atatürk was n malhuis! My vakansie in Istanbul was amazing andersins.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.