Pta FM trek nuwe baadjie aan

Esmarie Yssel is die aanbieder van Pretoria FM se “Agt-tot-Tien-Kantien”. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskapsradiostasie Pretoria FM spog van vandag (Maandag) af met ʼn splinternuwe programrooster wat daarop gemik is om ʼn goeie balans tussen nuus, aktualiteit, inligting en vermaak te bied.

Volgens Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, is die vernuwing van die radiostasie se programskedule deel van die stasie se proses om te vernuwe, sonder om die waardes en inhoud waarvoor Pretoria FM oor meer as 30 jaar bekend geword het, prys te gee.

“Die stasie beleef tans ongekende groei op ons elektroniese platforms en dit is duidelik dat daar ook groei onder jonger luisteraars vir die stasie is,” sê Spies.

“Die groei in Pretoria FM se volgelinge op sosialemediaplatforms soos YouTube, Instagram, TikTok en selfs Facebook was in die afgelope paar maande eksponensieel.

Susan Botha en James Kemp is die aanbieders van “Klankkoerant” op Pretoria FM. (Foto: Verskaf)

“Mense is op soek na betroubare hoofstroomnuus en aktualiteit wat vanuit die leefwêreld van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap aangebied word. Juis daarom is Pretoria FM ʼn groeiende, gewilde tuiskomplek vir Afrikaanse luisteraars.”

Die programaanpassings was die gevolg van uitgebreide marknavorsing onder bestaande luisteraars en ʼn indringende besinning oor die programinhoud tydens ʼn onlangse programkonferensie van aanbieders en ondersteuningspersoneel.

“Pretoria FM is steeds gewikkel in litigasie en gesprekke met die uitsaai-owerhede om sy uitsaaivoetspoor oor die volle lengte en breedte van Suid-Afrika uit te brei. Danksy ons uitsendings oor DStv se oudiokanaal 887 en die internet, asook ʼn gebruikersvriendelike selfoontoepassing is ons uitsendings reeds toeganklik en baie gewild oor die hele land en selfs in die buiteland.”

Die nuwe weeksdag-programrooster op Pretoria FM lyk nou só:

06:00 tot 08:00 – Klankkoerant met James Kemp en Susan Botha

08:00 tot 10:00 – Agt-tot-Tien-Kantien met Esmarie Yssel

10:00 tot 12:00 – Soggens met Sarina, onder leiding van Sarina Bosman

12:00 tot 13:00 – Landbou, onder leiding van Elsa Esterhuizen

13:00 tot 14:00 – Impak met Esté Gross

14:00 tot 16:00 – Annigang met Antowan Nöthling

16:00 tot 18:00 – Huis toe met Anton Meijer en Elsa Esterhuizen

18:00 tot 22:00 – Vanaand met Pienaar Lochner

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vrijburger ·

Bly om te hoor Pretoria FM gaan van krag tot krag.
Ek neem Pretoria FM saam, waar ek my ookal in die wêreld bevind.
Veral Sondae is ‘n hoogte punt.

KB ·

Die Radio het soveel luisteraars verloor, dat dit weereens ʼn verandering moet ondergaan.
Ons word nie so maklik om die bos gelei nie.
Die swak kwaliteit noop ons om na ander plaaslike- en selfs internasionale stasies te begin luister…selfs julle musiek is om van te huil.

Oom Jaap ·

KB, smaak verskil. Hulle het baie lojale luisteraars wat van jou sal verskil (en nee, ek verkies ‘n ander stasie, maar kom ons gun elkeen sy voorkeur).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.