Pta-gebou ontruim

Nooddienste by die gebou wat ontruim is in Pretoria se middestad. Foto: Verskaf

ʼn Gebou in Pretoria se middestad moes Woensdagmiddag ontruim word.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die mense is ontruim nadat die gebou in digte rook gehul is. Die City Property-gebou, die Apollo, is op die hoek van Helen Joseph (Proes)- en Du Toitstraat.

Die Citizen-dagblad se Pretoria-kantoor is in dié gebou geleë. Pieterse het gesê brandbestryders is tans in die gebou se kelderparkeergebied waar ʼn transformator brand.

“Die brandweer is 12:15 na die toneel ontbied. Brandbestryders het weens die digte rook lank na die oorsaak gesoek omdat daar net rook was en geen vlamme nie. Die oorsaak van die brand het agter die transformator begin en kan weens rommel of elektriese drade wees,” het hy gesê.

Drie mense is behandel vir ligte rookinaseming. Geen ander beserings is aangemeld nie.

“Alles is onder beheer en word gemonitor. Hier is wel voertuie in die kelder, maar dit is veilig,” het Pieterse bygevoeg.

Lize Nel, woordvoerder van City Property, het hul dank uitgespreek teenoor die Tshwane-nooddienste wat vinnig op die toneel was. “Ons is ook dankbaar dat hulle ons deurlopend op hoogte gehou het van verwikkelinge,” het sy gesê.

Sy het al die rolspelers bedank wat met die ontruiming gehelp het. “Die hele ontruimingsproses het sonder enige voorvalle plaasgevind en ons is dankbaar dat al ons huurders veilig is. Hul veiligheid is ons eerste prioriteit.”

Nooddienste op die toneel. Foto: Aserie Ndlovu

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

oumie ·

Ja so val als uitmekaar gebou staan nie net nie dit verg onderhoud

louwboepens ·

Is dit nou nie net te toevallig dat die Citizen se kantoor in die gebou gevestig is nie.

Hendrik ·

Ondervinding het geleer dat sommige mense graag hulle blase ledig agter die stadsraad se transformators. Dis ‘n ongeluk wat wag om te gebeur.

leon ·

Proes Straat is deesdae bekend as Johannes Ramakhoase straat (eerste burgermeester van Tshwane Metro). Kerkstraat is op verdeel in 4 strate – WF Nkomo, Helen Joseph, Elias Motswaledi & Stanza Bopape. Die betrokke gebou is in Helen Joseph, oorkant die Reserwebank.

dries ·

As jy die berig lees weet jy sommer daar word nie instandhouding gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.