ʼn Gesin van Pretoria is Maandagaand deur gewapende mans in hul huis oorval en beroof.
Mynhardt le Roux, woordvoerder van Wierdabrug Sektor 2 se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn groep rowers het in twee VW Polo’s en ʼn goue Honda, waarvan die model nie bekend is nie, by die huis in Panoramaweg in The Reeds, Centurion, opgedaag.
“Die gesin is deur drie gewapende mans aangehou en van waardevolle besittings, waaronder ʼn televisiestel, mikrogolfoond en skootrekenaar, beroof. Dit was nie ʼn uitgerekte rooftog nie. Hulle is kort nadat hulle toegeslaan het, in die drie voertuie en die gesin se swart BWM 3-reeks daar weg.”
Beamptes van die Wierdabrug-polisie, plaaslike veiligheidsmaatskappye en lede van die GPF was kort nadat die voorval aangemeld is, op die toneel.
“Inligting oor verdagte voertuie is dadelik op die netwerk uitgesaai en uitkykpunte is op al die hoofuitgangroetes opgestel. Gelukkig het die slagoffers se BMW ʼn opsporingstoestel gehad en dit is later verlate in Tembisa opgespoor.” Daar was geen teken van die gesteelde besittings nie.
Die GPF het dadelik gereël dat die gesin, onder wie ʼn 11-jarige seun, traumabehandeling ontvang.
Die Wierdabrug-polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
BMW en hulle sal ook nooit in hegtenis geneen word nie
Nee ek glo nie dit storie ni daar is baie meer agter dit. mikrogolf, rekenaar en TV??? Ek ruik ‘n rot!!!
Daar is 686 huisinbrake per dag in Suid Afrika.
Presies wat ek gedink het ek sou lees …nog op vrye voed en geen inhegtenisname is gemaak en o ja die polisie ondersoek die saak kamtig hehe wat n joke is die polisie nie veral as mens so geteeld lees dat hulle self die diewe is !
As jy VW polo agter jou sien dan sak jou moed in jou skoene
Krimineele se voorkeur vervoer