Pta-gruvonds: Liggame uitgeken

Rakiel Naidoo (23), haar ma, Melanie Naidoo (51), en haar oom, Gregory Naidoo. Foto: Via Facebook

Die drie mense wie se verkoolde liggame Maandagoggend in ʼn veld buite ʼn spog gholflandgoed in Pretoria gevind is, is deur hul familielede uitgeken.

ʼn Familielid, wat anoniem wil bly, het aan die media bevestig die liggame van Rakiel Naidoo (23), haar ma, Melanie Naidoo (51), en haar oom, Gregory Naidoo (57), is Dinsdag by ʼn lykshuis in Pretoria uitgeken nadat die polisie hul nadoodse ondersoek voltooi het.

The New Age het Dinsdag berig die drie familielede is Sondag omstreeks 20:30 tydens ʼn gewapende huisroof in Northcliff in Johannesburg in die familie se blou Mercedes-Benz ingeboender en ontvoer. Die voertuig is steeds soek. Die familielid het aan die dagblad gesê hulle het die volgende dag deur die media van die drie verkoolde liggame te hore gekom en dadelik vermoed dit is hul geliefdes.

Maroela Media het vroeër berig twee volwassenes en ʼn kind, vermoedelik 13 jaar oud, se liggame is omstreeks 02:30 in ʼn veld buite die Copperleaf-landgoed in die Mnandi-omgewing in Centurion gevind.

Veiligheidsbeamptes by die landgoed was besig met ʼn patrollie toe hulle ʼn brand in die veld opgemerk het. Hulle het gaan ondersoek instel en op die liggame afgekom. Die mense was vasgebind en hul monde toegebind.

Die familielid het gesê hoewel daar aanvanklik vermoed is dat ʼn 13-jarige se liggaam op die toneel gevind is, het hulle vermoed dit is Rakiel, aangesien sy skraal gebou is en deur paramedici as ʼn kind aangesien kon word.

Die Gautengse polisie het Dinsdagoggend aan Maroela Media bevestig ʼn moontlike verbinding is tussen die gruvonds en ontvoering gemaak.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, kon egter nie Dinsdagmiddag amptelik bevestig of die liggame uitgeken is nie. “Ons kan in die stadium bevestig die nadoodse ondersoek is gedoen en DNS-toetse is geneem. Ons wag vir die amptelike uitslae van die toetse voor ons die identiteite kan bevestig,” het Makhubele gesê.

Die Erasmia-polisie ondersoek ʼn saak van moord. ʼn Saak van huisroof en ontvoering is Sondagaand by die Northcliff-polisie aanhangig gemaak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Intussen begin huldeblyke op sosiale media vir die oorledenes instroom.

Chantelle Hanj skryf op Facebook: “Ons is baie hartseer oor die verlies van ons vriend Rakiel Naidoo. Ons sal nooit jou glimlag, energie of talent vergeet nie. Ek is geëer en geseën om jou te kon ken. Ons gebede en meegevoel gaan uit na die familie wat jy agterlaat. Rus in vrede, lieflike meisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

RIP ·

Dit is absoluut verskriklik om ‘n branddood te moet sterf. RIV mense, en my innige simpatie aan die familie. MAG die monsters wat dit aan julle gedoen het dit dubbeld terugkry. So jammer vir julle verlies.

Lea ·

Wat n vreeslike angs moes dit nie gewees het nie!Wanneer gaan dit tog ooit einde kry? Innige simpatie aan almal betrokke.?

Verstom ·

Ai, jammer oor julle verlies! Ons gebede vir julle familie en vriende.

Perci ·

Dis verskriklik hartseer…. As die doodstraf nie terugkom nie…. Gaan die moordenaars nie ophou nie, want niemand is Meer bang vir tronkstraf nie!

Moedeloos ·

Hul is nie bang vir tronkstraf nie want hul kry parool en gaan net aan met die slagting!

Ander Annie ·

Dit is so hartseer. Innige simpatie aan die familie. Misdaad vernietig onskuldige families.

Cherokee ·

Somtyds is daar berigte waar ek verkies om stil te wees en geen kommentaar te lewer nie.

Nettie ·

@Cherokee, ek stem. Party goed maak mens so kwaad dat jy net wil vuur spoeg en doen jy so, word jy sommer persoonlik aangeval. Wat ‘n absolute tragedie was hierdie nie – drie jongerige mense weggeruk uit die lewe in die fleur van hul lewens! En die motief? Diefstal. Ek-wil-hê-wat-jy-het-maar-ek-gaan-nie-werk-daarvoor-nie! Gepleeg deur 6 of 7 volksvreemde inkomelinge, op die wreedste manier moontlik: om mense wat hulpeloos vasgebind is, petrol oor te gooi en brand te steek. Sug. Ek weet nie of hier meer hoop vir ons landsgeborenes in hierdie land is nie.

Lee ·

Dit is verskriklik. Sterkte vir die families in die moeilike tyd. Mag die varke wat dit gedoen het bitter vining opgespoor word. Dis verskriklik erg. Arme mense xx Mag hulle in Vrede Rus. Die skelms moet onthou God slaap nie!!

WELDRIE ·

ASKUUS LYNETTE,WIE IS DIE “HY” VAN WIE JY HIER PRAAT?

Bil ·

Ek sukkel nog om die een te verwerk. Dit is barbaars. Bring terug die dood straf vir die veiligheid van alle landsburgers. Die mense en hul familie is in ons gebede.

Lola ·

Almal gil ten hemele “bring terug die doodstraf” En dan? Weet jy hoe lank sit ‘n persoon eers in die tronk voor hy daai paaidjie af stap na die hangman toe? Regskostes gaan verdriedubbel. Kap die goed se hande af en sommer ander dinge wat pla. Mediese studente kan dit doen. En daar skep ons sommer werk ook.

Justice ·

Lola jy het `n goeie punt beet – was jy onlangs op vakansie in `n Moslem land?

Boontjie ·

As hierdie mense wat kan bekostig om in Northcliff te bly en ‘n Merc wat iemand nog wil steel kan bekostig, dan het hulle sekerlik ook van die beste sekuriteit gehad. As die mense nie eens veilig is in hierdie land nie, wat gaan van ons gewone mense word wat nie hoe mure en privaat Sekuriteits maatskappye kan bekostig nie? Dan weer, ek het niks meer oor wat iemand sal wil steel nie, maar dit laat my ook nie veiliger voel nie want in die land gaan dit eintlik oor die moord van minderheidsgroeppe wat net in vrede wil leef en werk.

Lollie ·

Om so berig te lees is verskriklik! Dis wreed en barbaars! Watse hel het hulle nie deurgegaan nie! Dalk nog gedoen deur persone wat aan hulle bekend was. Mag hulle gevang word en boet vir hulle dade! Sterkte aan die familie

al ·

My hart gaan uit na die geliefdes en familie. Ek het nie woorde nie… Mag die skuldiges boet vir hul barbaarse dade!

Jacques ·

Kry haar familie ook nou ‘n huis en R10000 kontant…..

Tinktinkie ·

Goeie vraag Jacques. En watter minister besoek d familie persoonlik????

Johannes van Staden ·

En so doen die skelms net wat hulle wil ….en wat dien die polisie…..NIKS ! Net nog n bewys dat niemand meer bang is vir die polisie nie !

Daniel ·

My innigste simpatie met die wat agterbly.
Ek kry net die gevoel dat daar meer agter die “ontvoering” sit maar glo en vertrou dat die SAPD en Regering bystand en hulp sal verleen soos in die geval van die “Eskom-vrou” se dood. Hulle het dan mos nou die voorbeeld gestel en moet dus nou voortgaan daarmee.

Gert ·

Daniel jy verstaan verkeed hier was niemand wat ‘n vloer gegooi het op die Tv nie so vergeet maar van enige bystand. Tragies ja ek kon my maar net salf in dink wat gaan deur jou gedagte op daai ommblik wanneer hulle die petrol of diesel oor jou uit gooi Here vergewe hulle net soos u ons vergewe hulle huis is nou in die hemel ons is so magteloos ek bid dat die here my sal krag gee om dit te kan verwerk

Pieter ·

Innige simpatie aan die familie

Wat my die dinges in het, is die valse webwerwe wat so ‘n tragiese geval vat en die nuus verdraai, sensasionaliseer net om kyk getalle te kry. Een van die grootste sondebokke is Hinews.com, hulle het die fotos van die verbrande mense gebruik met die hoof opskrif ” Another White Murder !! Three Whites gagged, bound, Murdered in cold blood and set alight” dit nog voordat die mense uitgeken is. Dan die kommentare van die swartes wat lekker kry daaroor.

In my opinie is hierdie tipe webwerwe net daarop uit om rasse haat aan te blaas , en daar is vele van hulle wat dit doen.

Theresa ·

Sulke nuusgewers behoort regtig vervolg te word. Dit is opperste haatspraak.

Hanna ·

Dit is wreed. Ek verstaan dit nie hoekom hulle aan die brand steek weet ek nie. God sal vergeld. Almal wat so moor en mense martel. Die dag gaan kom dan is dit hul beurt.

Magda ·

Wat n verskriklike manier om te sterf – my innige simpatie met hulle familie – en hoop die moordenaar(s) word bitter gou gevang en hulle verdien niks minder as die DOODSTRAF nie.

Liza ·

Sjoe dit is vreeslik om so dood te gaan, weereens bring die doodstraf terug asseblief, dit kannie meer so in ons land aangaan nie, dit word elke dag net erger en erger. Sterkte aan die familie en vriende……

Afrikaanse Knaap ·

Ek het in Northcliffe gebly en moes trek agv die feit dat my huis een aand in my afwesigheid leeg gedra is. Dis ‘n rowwe buurt. Gevaarlike buurt.
Ek voel bitter hartseer vir hierdie mense en hul familie.

Tanya ·

Dit is hartverskeurend.. ons woon in centurion in die estate.. en om te hoor dis soos hier by ons maak my so hartseer. Eks so jammer om te hoor van julle verlies. Ek kani imagine wat daardie drie moes deurgaan nie. Dis n wrede dood. Ek hoop en ek bid dat hulle die mense kry wat dit gedoen het . My innige simpatie gaan uit aan die familie en Friende.

Chivago ·

Ek hoop en bid net dat hulle reeds dood was voor hul verbrand is.

Zoë Màre ·

This is shocking, our deepest condolances to the family

charmaine ·

Ons almal wil die doodstraf sien gebeur, maar hoe en waar? die galg is nou n museum PTA Sentraal. So daar moet eers n plan gemaak word hoe gaan die doodstraf toegepas word en waar gaan jy met al die lyke heen wat nie deur families opgeeis word nie?

Alida ·

In die ou dae kon die familie nie die lyk opeis nie. Die staat het hulle begrawe op hulle manier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.