Pta-gruvonds: Vyf verdagtes in hof

Rakiel Naidoo (23), haar ma, Melanie Naidoo (51), en haar oom, Gregory Naidoo. Foto: Via Facebook

Vyf mans wat in hegtenis geneem is nadat ʼn familie in Northcliff, Johannesburg, in Junie vanjaar beroof en ontvoer is en hul verkoolde liggame later buite ʼn spoglandgoed in Pretoria gevind is, verskyn Woensdag in die Johannesburgse hooggeregshof.

Rakiel Naidoo (23), haar ma, Melanie Naidoo (51), en haar oom, Gregory Naidoo (57), se oorskot is in ʼn oop stuk veld in Centurion gevind toe veiligheidswagte ʼn veldbrand wou gaan blus.

Veiligheidsbeamptes by die Copperleaf-landgoed in die Mnandi-omgewing was besig met ʼn patrollie toe hulle dié brand opgemerk het. Hulle het gaan ondersoek instel en op die liggame afgekom. Die mense was vasgebind en hul monde toegebind.

Daar is bevind die mense, inwoners van Northcliff in Johannesburg, was die slagoffers van ʼn huisroof voordat hulle ontvoer en toe vermoor is.

Die polisie het ses verdagtes op 8 Junie in hegtenis geneem en beslag gelê op die Mercedes-Benz van die Naidoo-familie. Hulle is vermoedelik in dié voertuig ingeboender ná die gewapende huisroof.

Vyf van dié mans staar ʼn aanklag van huisbraak met die doel om te beroof, roof met verswarende omstandighede, diefstal, ontvoering en moord in die gesig.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die verdagtes is tussen 25 en 40 jaar oud. Makhubele het bevestig dat een van die beskuldigdes al 12 jaar vir die Naidoo-familie werk.

Lees die vorige berigte oor die Pretoria-gruvonds op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Afrikaanse Knaap ·

Wel gedaan SAPS.
My hart gaan uit na hierdie gesin se naasbestaandes.
SA se kriminele en Fikile so onvermoë om enige iets daaromtrent te doen maak my siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.