Pta-gyselaarsdrama: Aantygings word ondersoek

the meadows2

Danie Small het glo vanuit dié hoekvenster van sy huis op mense geskiet. Foto: Verskaf

Die polisie is bewus van gerugte wat die ronde doen dat Danie Small (53) moontlik voorheen met die gereg gebots het en as ʼn moeilikheidmaker beskou is in die veiligheidskompleks in Pretoria waar hy Woensdag drie mense doodgeskiet het en toe selfmoord gepleeg het.

Maroela Media het vroeër berig die gyselaarsdrama het Woensdag teen 12:30 in The Meadows-veiligheidskompleks in Moreletapark begin en teen 22:00 was Small en drie van sy bure, Edward Gobey, Jannie Earle, Johannes van der Zwaard, dood. Small het glo ʼn buurvrou met klippe gegooi waarna die kompleks se veiligheidsbestuurder, Gobey, en die polisie ontbied is. Gobey, Earle en Van der Zwaard is kort daarna doodgeskiet voordat Small twee polisiebeamptes en drie veiligheidswagte as gyselaars geneem het. Hy het uit ʼn hoekvenster op die boonste verdieping van sy huis geskiet. Die gyselaars, wat in Small se voortuin vasgekeer was, is later deur die polisie se spesiale taakmaglede gered waarna Small se liggaam in sy huis gevind is.

Min inligting is tot dusver oor Small bekend. Hy en sy vrou, wat nie tydens die voorval by die huis was nie, het sowat 15 jaar gelede hul huis in die veiligheidkompleks laat bou.

“Ons het saam hier gebou. Ek wens mense kon Danie van daardie tyd ken. Ons het nooit oor en weer gekuier nie, maar as ons iets hier by die huis gedoen het, was Danie altyd daar om te help. Hy was altyd vriendelik en bereid om te help,” het ʼn buurvrou oor die naweek aan Maroela Media gesê.

Sy kan nie werklik onthou wanneer dinge sleg begin raak het nie. “Dit het veral erg begin raak ná die hondepisode,” het sy wel gesê. Daar word beweer dat hy Earle se hond twee jaar gelede doodgemaak het. “Hy en sy vrou het opgehou om almal te groet en het dwarsdeur almal gekyk asof ons nie bestaan nie. Meer onlangs het hy ons begin vloek as ons dit buite ons huise sou waag. Ons het nooit daarop reageer nie en het alle oogkontak vermy as ons ry. Ons het later gehoor dat hy glo ‘ons’ het hom gebreek. Ek weet nie wie almal by ‘ons’ ingesluit is nie, maar al sy direkte bure was beslis nie gewild nie.”

Die polisie het ná Small se dood bevestig dat hy drie gelisensieerde vuurwapens gehad het. Gerugte het die ronde gedoen dat Small ʼn oud-recce was, maar dit is deur die Suid-Afrikaanse Spesmagte-vereniging ontken. Die vereniging het Small se naam ook op sy “Wall of Shame” gesit.

Inwoners beweer dat daar voorheen strafregtelike klagte van roekelose bestuur, aanranding en diefstal teen hom ingedien is, maar dat dit nie duidelik is wat daarvan geword het nie.

Kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die polisie is bewus van die aantygings teen Small en dat dit deel vorm van die polisie se geregtelike doodsondersoek. “Die ondersoek duur onverpoosd voort en daar word vasgestel of daar nog sake teen hom is en wat die aard daarvan is. Sodra die ondersoek afgehandel is sal meer ingeligte gevolgtrekkings gemaak kan word.”

Miller het gesê dit is moeilik om te bepaal hoe lank die ondersoek sal duur. “Die bewerings moet behoorlik ondersoek word deur nodige rolspelers te ondervra. Daar moet ook gewag word vir die uitslae van die ballistiese en nadoodse ondersoek.”

Intussen is ʼn gedenkbyeenkoms Sondag by die kompleks gehou waar familielede van die slagoffers hulde gebring het aan hul geliefdes. Die beheerliggaam het gesê daar is nog baie onbeantwoorde vrae, maar dat die vrae aan die betrokke owerhede gerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alida ·

Dit is tog duidelik dat die man n moeilikheid maker was. Siek verby

Ronnie ·

Het hierdie meneer ‘n familie vrou en kinders gehad? Ek kon dit misgelees het. Ek wonder net of hulle getraumatiseer is en darem berading ontvang.

Alida ·

Hy het n vrou gehad nie seker van kinders nie. As hy so n monster was kan sy aangaan met haar lewe. Is jammer vir haar.

John ·

Die man moes lankal hulp gekry het. Hy was vreeslik angstig en het intens bedreig gevoel. Sy vrese het later sy lewe beheer. ‘Almal’ het sy vyande geword vandaar sy aanbouings om ‘n fort op te rig. Ongelukkig is inwoners van komplekse meestal baie krities jeens mekaar en staan eerder die ‘outsider’ tee. Teen die tyd dat die tragedie plaasgevind het was sake reeds te ver heen vir onderhandelinge. Die wyse waarop hy aangespreek is, is deur hom gesien as die optrede deur ‘n aanvalsmag en hy was die uitgelewerde. Die gebeure kon voorgekom gewees het.

Leeutjie ·

John: ‘n Baie insiggewende en begripvolle mening! Ek stem saam met jou! Ons reik te min na mekaar toe uit en word maklik ge-etiketeer as ons ‘n misstap begaan! Oordeel is deel van die mens se bestaan! Dis eintlik so hartseer!

Willem ·

Ek sou ook graag die ander storie wou hoor van daardie man se vrou se kant af?

Elize ·

Maak nie saak wat die ander storie is nie, die feit bly staan as hy die bure se diere doodgemaak het, en die polisie voorheen moes ingryp omdat hy aggressief was, moes verklarings afgele gewees het en die polisie moes sy vuurwapens weggevat het. Hoekom is dit nie gedoen nie. Nalatigheid?

Meisiekind ·

N saak het het 2 kant dan die waarheid…..ons bly ook langs n moeilike buurman -verskeie diere van ons al dood gemaak. Elke keer het ons n klagte by die SAPS ingesit …niks daarvan gekom nie…..wat is my reg om so saak te hanteer voordat dit net weer n “incident” word

Jean ·

Daar is geen verskoning vir die moord op onskuldige diere en buurmanne nie, nie almal skiet hulle bure dood as hulle met jou verskil nie. Jammer, geen verskoning nie, hy is ‘n moeilikheidmaker en sy wapens moes lankal al weggeneem gewees het, jy kan nie ‘n hond net skiet in ‘n veiligheidsoord nie. Hoekom weet niemand wat van sy vorige sake geword het nie? Dis mos nie aanvaarbaar nie? Hyt ‘n klomp onskuldige mense saam met hom gevat. As hy die huishulp iets aangedoen het was die Ministers lankal daar en het hulle al lankal weer ‘n ondersoek geloods, maar nou is dit maar NET die bure wat dood is.

Max ·

Gaan hulle ook ondersoek instel hoekom die SAPD Taakmag deur die verkeerde Muir gery het ?

Denise ·

Danie het hulp nodig gehad wie kan se met watse seer het hy dalk nie geworstel nie en ja daar is so baie mense wat nie wil hulp ontvang nie asgevolg van wat gan die ander se dit is baie hartseer wat gebeur het maar hoe gan n ander mens ooit weet wat in n ander se hart aan gaan en in die omstandighede wat ons vandag in leef als is TE ERG!!! Sterkte aan sy vrou en die families wat iemand verloor het!!!! Soms is n leeftyd nie genoeg om te verstaan hoekom iets gebeur nie!!!!

SAV ·

Dit was ‘n tragiese gebeurtenis. Mense wat nie self bettokke was of in die kompleks woon nie, moet asseblief nie kritiek lewer nie. Dit gaan ons baie lank neem om alles te verwerk. Veralgemening van inwoners in komplekse is noe geregverdig nie. Ons gesin het wonderlike bure en staan mekaar by in alle situasies waar bystand nodig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.