
Polisievoertuie Woensdag buite The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Facebook
Die polisie het deur die nag gewerk om die stukkies van die legkaart bymekaar te begin pas rakende die gyselaarsdrama in die ooste van Pretoria wat die lewe van vier mense geëis het.
Die voorval het Woensdag teen 12:30 in The Meadows-veiligheidskompleks in Moreletapark begin en teen 22:00 was vier mense dood.
Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die polisie, het gesê die name van die slagoffers kan nog nie bekend gemaak word nie. “Die slagoffers was almal mans in hul 50’s. Twee van die skieter se bure en ʼn lid van die huiseienaarsvereniging is doodgeskiet.”
Miller het gesê die polisie is bewus van al die bewerings en spekulasie oor wat moontlik tot die voorval aanleiding gegee het.
Daar word onder meer beweer dat die skieter, wat intussen as Danie Small geïdentifiseer is, ʼn buurvrou met klippe gegooi het en dat die kompleks se veiligheidsbestuurder, Edward Gobey, en die polisie hierna ontbied is. Dit is toe dat Gobey en nog ʼn man doodgeskiet is. Dit is nog nie duidelik wanneer die derde persoon doodgeskiet is nie.
Die polisie en veiligheidswagte was hierna op die toneel en iewers tussenin is twee polisiebeamptes en drie veiligheidswagte in Small se erf vasgekeer. Small het na bewering op ʼn balkon of ʼn patiodak gestaan met ʼn vuurwapen. Die gyselaars is deur die polisie se taakmag gered waarna Small homself glo in die huis toegesluit het.

Die toneel Woensdag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams
Volgens Miller het lede van die polisie se taakmag later Small se liggaam in sy huis aangetref. “Hy het homself geskiet.” Miller het gesê talle vuurwapens is in Small se huis gevind, waaronder ʼn jaggeweer en ʼn handwapen. Small se vrou was nie tuis ten tyde van die voorval nie en is later vir traumaberading geneem.
Volgens Miller sal die polisie ook ondersoek instel na bewerings dat Small ʼn moeilikheidmaker was en dat hy glo al verskeie inwoners gedreig het en van hulle troeteldiere doodgemaak het. “Ons verstaan dat mense antwoorde soek. Ons wil egter nie onverantwoordelik wees deur inligting wat nog nie bevestig is nie bekend te maak.”
Die polisie ondersoek drie sake van moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek is ook geopen. Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig dat vier mense omstreeks 21:55 op die toneel dood verklaar is en dat hulle almal skietwonde opgedoen het. Volgens Mathe het verskeie omstanders traumaberading ontvang.
Lees alle vorige berigte oor The Meadows-gyselaarsdrama op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
31 Kommentare
Ek moet Maroelamedia dankie sê vir die manier oor hoe hulle hieroor berig het. Terwyl alles aan die gang was en ons gewag het vir inligting kon ek net op julle nuusblad kom kyk. Hierdie laaste berig gee ook ‘n sensitiewe samevatting van dit wat gebeur het.
Dit is so ‘n hartseergebeurtenis. Word die nodige bystand ooit gegee aan mense wat die mag verlaat?
Maak eers seker of die man wel ‘n oud recce was, voordat julle publiseer! Nou gaan mense totaal op hol loop met recces wat geestelik ongesteld is!
Goeie beriggewing! Eintlik een van die beste wat ek in ‘n lang lang tyd gelees het.
Pop, jy slaan die spyker op die kop!