Pta-gyselaarsdrama: Só ontvou gebeure

Polisievoertuie Woensdag buite The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Facebook

Polisievoertuie Woensdag buite The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Facebook

Die polisie het deur die nag gewerk om die stukkies van die legkaart bymekaar te begin pas rakende die gyselaarsdrama in die ooste van Pretoria wat die lewe van vier mense geëis het.

Die voorval het Woensdag teen 12:30 in The Meadows-veiligheidskompleks in Moreletapark begin en teen 22:00 was vier mense dood.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die polisie, het gesê die name van die slagoffers kan nog nie bekend gemaak word nie. “Die slagoffers was almal mans in hul 50’s. Twee van die skieter se bure en ʼn lid van die huiseienaarsvereniging is doodgeskiet.”

Miller het gesê die polisie is bewus van al die bewerings en spekulasie oor wat moontlik tot die voorval aanleiding gegee het.

Die toneel by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Die toneel by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Daar word onder meer beweer dat die skieter, wat intussen as Danie Small geïdentifiseer is, ʼn buurvrou met klippe gegooi het en dat die kompleks se veiligheidsbestuurder, Edward Gobey, en die polisie hierna ontbied is. Dit is toe dat Gobey en nog ʼn man doodgeskiet is. Dit is nog nie duidelik wanneer die derde persoon doodgeskiet is nie.

Die polisie en veiligheidswagte was hierna op die toneel en iewers tussenin is twee polisiebeamptes en drie veiligheidswagte in Small se erf vasgekeer. Small het na bewering op ʼn balkon of ʼn patiodak gestaan met ʼn vuurwapen. Die gyselaars is deur die polisie se taakmag gered waarna Small homself glo in die huis toegesluit het.

Die toneel Woensdag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Die toneel Woensdag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Volgens Miller het lede van die polisie se taakmag later Small se liggaam in sy huis aangetref. “Hy het homself geskiet.” Miller het gesê talle vuurwapens is in Small se huis gevind, waaronder ʼn jaggeweer en ʼn handwapen. Small se vrou was nie tuis ten tyde van die voorval nie en is later vir traumaberading geneem.

Volgens Miller sal die polisie ook ondersoek instel na bewerings dat Small ʼn moeilikheidmaker was en dat hy glo al verskeie inwoners gedreig het en van hulle troeteldiere doodgemaak het. “Ons verstaan dat mense antwoorde soek. Ons wil egter nie onverantwoordelik wees deur inligting wat nog nie bevestig is nie bekend te maak.”

Die polisie ondersoek drie sake van moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek is ook geopen. Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig dat vier mense omstreeks 21:55 op die toneel dood verklaar is en dat hulle almal skietwonde opgedoen het. Volgens Mathe het verskeie omstanders traumaberading ontvang.

Lees alle vorige berigte oor The Meadows-gyselaarsdrama op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Leendert ·

Ek moet Maroelamedia dankie sê vir die manier oor hoe hulle hieroor berig het. Terwyl alles aan die gang was en ons gewag het vir inligting kon ek net op julle nuusblad kom kyk. Hierdie laaste berig gee ook ‘n sensitiewe samevatting van dit wat gebeur het.

Belinda ·

Dit is so ‘n hartseergebeurtenis. Word die nodige bystand ooit gegee aan mense wat die mag verlaat?

MM ·

Soos per Netwerk24 was hy nie ‘n “recce” gewees nie. Dis nie te se as jou kop uithaak dat jy ‘n “recce” was nie. Hy kon dalk vir die mense om hom jok maar nie vir die weermag nie. Die spes mag het ‘n register waar daardie ouens se name in is en hy is nie daarin nie. Hierdie is baie tragies wat gebeur het. Ek kry net sy vrou en familie uit my hart jammer, want wie weet wat agter toe deure in daai huis dalk gebeur het. Hoe gooi jy jou bure met klippe en maak hulle honde dood omdat jy nie van honde hou nie. Baie baie hartseer.

Lindie ·

Maak eers seker of die man wel ‘n oud recce was, voordat julle publiseer! Nou gaan mense totaal op hol loop met recces wat geestelik ongesteld is!

Woef ·

Ek het al duisende ouens ontmoet wat recces in die weermag was, elke ou wat jou van sy weermag dae vertel, was blykbaar n recce.

Maar ek het nog nooit een ou ontmoet wat regtig n recce was nie.

Yster ·

Elke ou wat in die weermag was vertel jou hy was n recce, maar ek het nog nooit n regte recce ontmoet nie, net n klomp twak praters

Cherokee ·

Osama Bin Laden het regtig een van hulle ontmoet (… ‘n Amerikaanse een – of so iets).

Sune van Heerden ·

Dagsê Lindie

Ons vra om verskoning vir die flater wat ingesluip het as gevolg van foutiewe inligting wat aan ons gegee is. Die berig is nou gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Lola ·

Goeie beriggewing! Eintlik een van die beste wat ek in ‘n lang lang tyd gelees het.

Leandri ·

My bure is ‘n gruwel. Ek moet dag na dag die vieslikste bakleiery en gevloekery aanhoor, selfs wanneer ek bid. Hul kleinkinders wat permanent by hulle is, raas en gil aanhoudend. Hulle groot honde blaf dag en nag vir niks, en tjank hartverskeurend as hulle mense nie daar is nie. Mens kry geen rus nie. Enige raad sal waardeer word dankie.

Cherokee ·

Rusverstoring – ‘n klag kan gelê word.
Kry eers meer inligting daaroor – miskien kan selfs Dr Google behulpsaam wees daarmee. Jul munisipaliteit behoort ook inligting daaroor te hê. Gebruik Internet daarvoor en maak seker jy kyk na Suid Afrikaanse wetgewing.

Daan Erasmus ·

Moet asb nie jou bure skiet nie. Die slegte nuus is dat daar nie regtig goeie raad is nie. Die SAPD help nie regtig nie.

Robbie ·

Dit is wel bevestig dat die persoon glad nie ‘n oud ‘Recce’ is nie. Baie gevalle beweer ouens hulle was daar om bietjie roem of ‘moenie met my sukkel’ status te werf in die gemeenskap.

Sam ·

Slaan jy nou die spyker op sy kop! Die trustees van meenthuise, woonstel blokke is gewoonlik net vol nonsens want hulle is mos die trustees.. moenie net hierdie man blameer nie gaan kyk wie het hom tot sy breuk punt geforseer en se dan dis net sy skuld. Trustees is ‘n klomp narre, ekt 6 sulke trustee clowns in my kompleks

Columbiana ·

Maar die man was dan nie eers ‘n recce nie! Watter spook ookal by hom gespook het dan duidelik nie die bosoorlog recce spook nie!. Ek ken baie regte recce’s en hulle is almal funksionerende gebalanseerde mense. Dis onredelik om nou ‘n hele afdeling sommer as onstabiel te wil afmaak. In elk geval die regte recce’s is ouens wat nie daarmee loop en spog nie. Ouens wat loop en spog met dit was heel moontlik die kok in die minasie eerder as die recce

Patrys ·

Ek wil net vra dat julle jul feite korrigeer – Danie Small was GLAD NIE ‘N OUD RECCE NIE!!!!! Dis jammer dat hierdie groep van ons samelewing so gestigmatiseer word – meestal agv foutiewe/sensasionele beriggewing!

Sune van Heerden ·

Dagsê Patrys

Ons vra om verskoning vir die flater, Dit is verkeerde inligting wat aan ons deurgegee is. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Henry ·

Wat van:
Daar word BEWEER dat Piet ‘n recce/oud-recce/spesmagte operateur is/was.
Nog beter:
Bly gewoon tjoepstil oor wie en wat iemand se beroep sou gewees het, totdat werklike feite ‘n berig kan ondersteun.

Sune van Heerden ·

Dagsê Henry

Maroela Media het inderdaad geskryf die persoon was “glo ‘n recce”, maar ons het die berig gewysig nadat ons bevestig het dat hy nie ‘n recce was nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

J ·

Almal is meer onsteld dat die ou nie n Recce was nie. As mense wat hul lewens verloor het. My innige simpatie aan die familie

Gerhard Viljoen ·

So iets kan baie vinnig skeef loop. Al wat jy nodig het is n agresiewe persoon wat op breekpunt is, en n irriterende ou buurvrou wat oor alles kla.
Ek het so buurvrou wat al twee keer die Polisie te taakmag laat opdaag het by my huis, oor ek lastige duiwe op my eie dak met n pelletgun geskiet het. As sy die pelletgun gehoor het, het sy histeries op my geskree en vir die polisie vertel dat sy haar kinders gryp en onder die tafels in duik haha. Dit terwyl haar dak hoogte ongeveer my muur se hoogte is en ek in heel teenoorgestelde rigting skiet. Haar man het een aand saam die ten volle uitgerusde taakmag opgedaag en skaam gese: Sorry its my wife.
Ek was nou nie juis my gewone kalm ek gewees toe die hele spul polisiemanne opdaag nie, maar het ordentlik hulle verduidelik en hulle is vort.

Cherokee ·

Wat is jou buurman se probleem dat hy nie self ‘n klag lê teen jou nie? Sy vrou moet ‘n medalje kry… en jou windbuks moet gekonfiskeer word. Ek dink egter nie dat jy die waarheid vertel nie want dan sou jy aangekla gewees het. Jy mag nie met ‘n windbuks in bewoonde gebied skiet nie.

Gerhard Willemse ·

Net gou antwoorde verskaf op twee punte deur deelnemende mense gemaak.
1. As jou bure so erg aan die gang is kan jy volgens Artikel 384 van die ou Strafproseswet, Wet op Vredesbreuk, by jou Landdroshod ‘n verklaring gaan afle wat jou probleem behoort op te los. Die hof sal boetestellings ople wat hulle in toom behoort te hou.
2. Die wet op Vuurwapens verbied die afvuur van n windbuks in beboude gebied al is ‘n windbuks nie ‘n vuurwapen volgens die definisie nie. Die persoon wie die artikel oortree kan aangekla word, voor die hof gebring en gevonnis word. So persoon kan ook onbevoeg verklaar word om wapens te besit. Gelukkig vir jou blyk dir dat die polisielede nie op hoogte van die wet was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.