Pta-gyselaarsdrama: Vrou se angswekkende weergawe

Die buurvrou het die foto geneem kort nadat die veiligheidsmaatskappy op die toneel aangekom het.

Die buurvrou het die foto geneem kort nadat die veiligheidsmaatskappy op die toneel aangekom het.

“Ek is baie hartseer dat die Danie wie ons eens geken het tot so ‘n vreeslike einde moes kom en daardeur vier gesinne se lewens in ‘n oogwink verander het….”

Só het ʼn buurvrou aan Maroela Media vertel oor Woensdag se gyselaarsdrama in die ooste van Pretoria. Die voorval het Woensdag teen 12:30 in The Meadows-veiligheidskompleks in Moreletapark begin en teen 22:00 was Edward Gobey, Jannie Earle, Johannes van der Zwaard en die skieter Danie Small dood.

“Ons bly reg oorkant Danie. Ons het ‘n geskree gehoor en besef hy vloek weer iemand. Toe ek by die venster uitkyk sien ek hoe gooi hy iets. Dit het gelyk soos klonte van die grond wat nog op die sypaadjie lê. Ek sien toe die tannie hardloop na Jannie se huis. Toe ek by my man in sy kantoor kom sien ek toe die tannie se kar staan daar in die pad met ‘n gebreekte ruit. Dit was so laatoggend.”

Edward Gobey saam met sy dogter Charlize.

Edward Gobey saam met sy dogter Charlize.

Volgens die buurvrou is die polisie hierna ontbied. “Danie het voortgegaan met werk aan sy muur asof niks gebeur het nie. Heelwat later het Brinant opgedaag sowel as sekuriteit en Edward. Hulle het die motor bekyk en die polisie het so 10 minute later opgedaag. Dis toe my man ook daar gestaan het. Die polisie en Brinant is toe sy erf in om te klop en die mense het in die pad bly staan. My man is toe in. Hulle het al hoe harder begin hamer en vir hom geskree om oop te maak. Dis toe dat ons die geweer sien.”

Hierna het die skote begin klap. Volgens die buurvrou het Danie uit ʼn hoekvenster op die boonste verdieping van sy huis geskiet. “Ons het nog twee keer gesien hoe hy skiet en die vierde skoot gehoor maar nie gesien nie. Dit het vir my gelyk of hy sommer net so in die lug skiet. Ek het eers later besef hy het mense geskiet toe ‘n vrou laer af in die kompleks my bel en sê Edward lê in die straat en hul dink hy is dood.”

Volgens die buurvrou was alles skielik doodstil en het sy op sosiale media en in die media gesien Danie hou gyselaars aan. Twee polisiebeamptes en drie veiligheidswagte was byna ses uur lank vasgekeer in Small se voortuin.

Jannie Earle

Jannie Earle

“Die polisie het gebel en gesê Danie sal met my man praat. Dit het egter nooit gebeur nie. Ek is so dankbaar my man leef vandag. Hy het minute voor die skietery ook daar gestaan. Hy het egter besluit om in te kom net voor die gebeure. Ons moes maar wag en kyk hoe dit uitspeel. Later het die pantservoertuig gekom en die muur omgery en die gyselaars bevry. Ons het gehoor hoe Danie antwoord toe hulle vra of hy hulle hoor. Hy het dus toe nog geleef. Ons het nooit ‘n skoot gehoor nie en weet nie wanneer hy oorlede is nie. Later die aand het al die ligte in die huis skielik aangegaan en toe ek by die venster uitkyk het dit gewemel van polisie in ons straat. ‘n Beampte het vir ons kom sê dis veilig en ons moet binne ons huis bly.” Die polisie het gesê Small het selfmoord gepleeg.

Die buurvrou het gesê sy en haar man het Small goed geken. “Ons het 15 jaar terug saam hier gebou. Ek wens mense kon Danie van daardie tyd ken. Ons het nooit oor en weer gekuier nie, maar as ons iets hier by die huis gedoen het, was Danie altyd daar om te help. Hy was altyd vriendelik en bereid om te help.”

Sy kan nie werklik onthou wanneer dinge sleg begin raak het nie. “Dit het veral erg begin raak na die hondepisode.” Daar word beweer dat hy Earle, ook ʼn buurman, se hond doodgeskiet het. “Hy en sy vrou het ophou om almal te groet en het dwarsdeur almal gekyk asof ons nie bestaan nie. Meer onlangs het hy ons begin vloek as ons dit buite ons huise sou waag. Ons het nooit daarop reageer nie en het alle oogkontak vermy as ons ry. Ons het later gehoor dat hy glo ‘ons’ het hom gebreek. Ek weet nie wie almal by ‘ons’ ingesluit is nie maar al sy direkte bure was beslis nie gewild nie.”

Lees alle vorige berigte oor The Meadows-gyselaarsdrama op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

PG ·

Hy moes uit daai liefdelose gemeenskap getrek het. Jy kan nie haat uithou met ‘n muur nie. Daar is ‘n paar mense met bloed op hul hande. Dis ‘n baie hartseer storie die.

Cherokee ·

Jy laat mens nou met ‘n meer objektiewe, ‘n meer (verdomp, ek soek die regte woord) nee minder besluitnemende oog na die hele situasie kyk. Natuurlik is daar geen manier om hom te verontskuldig nie maar soos jy sê, die motivering kon vanuit die onmiddelike omgewing wees.

Ouvrou ·

Duidelik was die man geestelik ongesond. Hy moes lankal hulp gekry het.

Cherokee ·

En dit open die vraag… Buurvrou, het julle dalk op enige manier bygedra tot sy klaarblyklike persoonlikheidsverandering? By ‘julle’ bedoel ek die inwoners van die kompleks. Want dit wat jy vertel kan op geen ander manier vertolk word nie. Vreemd om ‘n mens so te sien verander.

Cherokee ·

Het dit regtig twee kante? Die ander kant het nie mense doodgeskiet nie. Ek probeer nie soos ‘Oosie’ en ‘wie weet’ klink nie maar is net realisties. Bes moontlik het hy probleme met bure gehad maar as dit met een buurmens was kon mens wonder maar as dit met meer bure was klink dit asof hy skuldig was. En as jy probleme met die bure het ga haal jy nie jou gun nie maar jy gaan haal die meubelvervoer-van!

Oosie ·

PG het totaal en al die kat aan die stert beet. Danie is die persoon wie se kop hom gelos het, nie die ‘liefdelose’ gemeenskap nie.

Wie weet? ·

Klink of jy Danie se dade goedkeur PG? Jou bure dalk in gevaar? Tyd dat jy trek…

rose ·

Ken jy die storie..ek het nou die berig gelees maar vir my lyk dit of Danie ‘n probleem gehad het. As jy di storie ken vertel ons ek sal graag wil wat het di bure aan hom gedoen dit is baie hartseer dat so baie mense dood is en niemand weet wat is di storie agter die storie nie.

Jammer ·

Klink eintlik net vir my soos die laaste strooi wat die donkie se rug gebreek het. Ek dink hy het dalk regtig net opgestaan daai oggend met intensie om sy muur op SY erf te bou, jare van klaende bure, reels en regulasies het die oorhand gekry…

Piet Pompies ·

Iets drasties moes gebeur het, dit is nie normaal om mense te skiet en dan jou eie lewe te neem.

Magriet ·

Hierdie bure kon hoe gaaf gewees het en gegroet het, maar as n mens n haat in jou het vir ander en dink en glo almal om jou is vol foute en hulle nie groet nie en hulle vloek as jy hulle sien, is daar geen salf te smeer nie. Net die Here kan so ou verander. Al hierdie bure kon maak net wat hulle wou, hy sou sy harde mislike houding in volhard het en hulle sou net elke keer met n koue skouer gegroet geword het. Ek wil egter sê, ek glo Danie se vrou het nie gegroet nie, terug wille van oorlewing, sy moes maar maak soos hy sê en as sy sou gaaf of vriendelik wees, sou hy vir haar gesê het om die pad te vat want sy staan nie by hom nie. Baie hartseer storie wat hier gebeur het vir almal betrokke, so onnodig.

Janet ·

Erna Bruwer, die man is dood en mense is dood, en nog steeds dra jy skinderstories en halwe waarhede oor hom aan !
Dood en lewe is in die mag van die tong, en elkeen wat dit graag gebruik sal die vrugte daarvan pluk!

Maggie van Zyl ·

Janet, jammer maar ek moet Erna hier verdedig. Ek het die naweek met iemand anders gepraat wat ook in die kompleks naby aan Danie bly, wat hulle onderskeidelik gesê het, stem ooreen… Dus dra sy nie skinderstories of halwe waarhede oor nie.

martien ·

Volgens my het hy aan n vervolgingswaan gely. Die huidige politieke toestand en die verotting van alles in SA, dryf enige normale mens ook na agressie. Jy bou op en op en dan skielik is daar n onskuldige insident en dit is met so onskuldige insident dat jy totaal “crack”… maar om mense te skiet as jy die “crack” stadium bereik? Nee daar moet n bydraende faktor wees en die hoekom ek se hy het aan vervolgingswaan gelei. So innig jammer vir die afgestorwenes se familie.

Johannes Meintjes ·

Baie, baie jammer. Vanuit ‘n informele beradingsoogpunt blyk dit asof van ons gemeenskappe dikwels maar effe swaartrek en in die oorlewingsstryd en soms onverskillig is jeens mekaar. Baie van ons ou SAW of SAP manne het nooit berading ontvang nie. Die SAWV (SAW Veteranevereninging probeer help waar moontlik. Kontak hulle gerus, asb.)

Marinda Bezuidenhout ·

Ons het ook so iemand in ons meenthuis kompleks – hy het besluit geen karre voor die garage deure van enige meenthuis – let wel nie sy eie – enige meenthuis. So is kar wiele stukkend gesteek en vrouens en ander onskuldiges gevloek en verskree en ek amper omgery een aand – van polisie hulp het niks gekom nie – hy het net in sy meenthuis in verdwyn as hulle daar was en hulle het dan vertrek,want hulle mag nie sy privaatheid skend nie. So bly ons storie het nie so ge eindig nie,maar dalk kon polise optrede vroeer dit gekeer het.

se net ·

Mens skiet nie net mense om jou dood nie! hoe seergemaak of kwaad jy is. Neeek jammer vir sy gesin maar nog jammerder vir die onskuldige mense. Al wat ek kan sien hy was ongelukkig in hom self en kwaad vir almal. Ongelukkig het ons almal n plekkie op aarde en moet mekaar dinge gun! veral in n kompleks waar almal op dieselfde perseel eintlik is.

Koos ·

Net ‘n regstelling in een van die kommentare: Mnr Earle was nie ‘n afgetrede predikant nie. Hy was wel vir ‘n periode van 4 jaar (1978 – 1982) in die bediening, het toe in die Vrystaat gaan boer en daarna ‘n berader geword.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.