Pta-hawelose wat in kruisvuur sterf se familie sal haar begrawe

Pastoor Johan Rademeyer tydens die gedenkdiens wat Dinsdag op die plek gehou is waar Charlene geskiet is. Foto: Verskaf

Pastoor Johan Rademeyer tydens ‘n gedenkdiens wat Dinsdag op die plek gehou is waar Charlene geskiet is. Foto: Verskaf

Die familie van Charlene Buys, ʼn hawelose vrou wat Maandag langs haar man, Jaco, in kruisvuur tussen die polisie en drie vermeende rowers in Pretoria doodgeskiet is, se familie is opgespoor en is van voorneme om haar te begrawe.

“Haar familie is in Durban en hulle het aangedui dat hulle haar begrafnisonkoste gaan dek,” het ʼn polisiebeampte Woensdag aan Maroela Media gesê.

Verskeie inwoners was bekommerd oor wie vir Charlene se begrafnis gaan betaal, aangesien sy en Jaco haweloos was en in ʼn karavaanpark in die omgewing gewoon het.

DA-raadslid Elmarie Linde, in wie se wyk in Pretoria se Moot-gebied Charlene gesterf het, het gesê in ʼn geval waar ʼn hawelose sterf, kan familie van die oorledene by die raadslid aansoek doen vir ʼn begrafnis waarvoor die stadsraad sal betaal.

Pierre Bezuidenhout, voorsitter van Wonderboompoort se sektor 2-gemeenskappolisiëringsforum, het Woensdag aan Maroela Media gesê Jaco dwaal in die omgewing rond en dit wil voorkom asof hy getraumatiseerd is. Hy het egter glo hulp van die hand gewys om gehelp te word en om by ʼn huis vir haweloses ingeneem te word.

Charlene (40) se liggaam sal aan haar familie oorhandig word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is.

Maroela Media het vroeër berig Charlene is Maandag langs haar man doodgeskiet toe ʼn oor-en-weer-skietery tussen die polisie en drie vermeende rowers uitgebreek het.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê die rowers het omstreeks 09:30 die eienaar van ʼn drankwinkel in Steve Bikoweg geskiet en beroof terwyl hy nog in sy motor gesit het. Hulle het in ʼn silwer Honda Ballade in ʼn westelike rigting van die toneel weggejaag.

Twee polisiebeamptes van die Wonderboompoort-polisiestasie het roetinepatrollie in die omgewing gedoen toe hulle opgemerk het dat ʼn silwer Honda oor ʼn stopstraat jaag sonder om stil te hou. Hulle het die motor agternagesit nog voordat hulle glo geweet het die insittendes was pas by die rooftog betrokke.

Die verdagtes het besef hulle word agtervolg. Hulle het ʼn effense voorsprong gehad en het by die kruising van Smooklaan en Fred Nicholsonstraat om ʼn blinde draai stilgehou, uit hul voertuig geklim en die polisiebeamptes ingewag.

Die verdagtes het op die polisie losgebrand toe hulle by die kruising aankom. Die polisie het teruggeskiet. Charlene het in daardie stadium langs die pad geloop en is noodlottig deur ʼn dwaalkoeël gewond.

Dit is nie tans bekend of die vrou deur die verdagtes of die polisie geskiet is nie. Dit sal deur ’n verdere ondersoek bepaal word.

Die Wonderboompoort-polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en gewapende roof.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chivago ·

Ja dis tragies – het haar nie gehelp toe sy nog gelewe het nie maar kan nou bydra tot die begrafnis. Gee vir mense blomme terwyl hul nog lewe…….

Liza ·

Ek stem saam met jou, help nie nou nie, sy gaan dit nie eers weet nie

SNEL ·

Ek stem, dis net om almal te sus en beter te laat voel, want die dooie weet van niks. Help, gee en ondersteun terwyl mense lewe. Mooi kiste, grafstene en blomme is net om die wat agterbly beter te laat voel. Dis jammer dat n onskuldige persoon op so manier langs haar geliefde geskiet moes word. Baie sterkte aan Jaco.

Johan Rademeyer ·

Hierdie is ‘n baie tragiese en hartseer verhaal..’n verhaal wat begin met ‘n weeshuiskind en’n aanneem kind wat met mekaar trou …sonder die goedkeuring van stief familie…keuse is aan hulle gestel 15 jaar terug…kies mekaar of kies familie…albei het mekaar gekies en was onafskeidbaar van mekaar en het mekaar deur dik en dun ondersteun tot en met haar dood. Daar is net enkele familie lede oor en van hulle het oor die jare probeer vrede met die paartjie maak maar sonder sukses..daar is in hierdie tydperk kinders gebore maar moes noodgedwonge weg geneem word…ongeag wat in die verlede gebeur het , het enkele van die familie nog steeds hulle ontferm oor die oorledene en die man..dit is om die oorledene ‘n eerbare verassing en laaste rusplek te gee asook om die man ‘n werk en nuwe begin aan te bied….Die lewe gaan ongelukkig oor keuses…daar is mense wat gelukkig is met hulle omstandigheid en ander wat uitbreek.

Lizette du Plessis ·

Was hulle nie voorheen op Orania nie? Ek het ‘n Jaco en Charlene Buys hier geken. Hulle het ‘n dogtertjie gehad? Dinge het nie hier vir hulle uitgewerk nie.

Grotman ·

Ja dis vreemd… Sy was haweloos so waar kom die famdamilie skielik vandaan??? Dis so waar, dis vandag elke een vir homself en die duiwel vir die res!!…..

Eish! ·

My ervaring…………….n mens sorg vir jou kinders en gee alles wat jy het. Dan kom die dag dat dai kinders net hul rug draai op jou, al was jul verhouding altyd wonderlik. Wreed, raar maar waar!

Peet Schabort ·

Ek verskil van julle. Daar is mense wat die wapad verkies. Waarom sal ons egter nooit weet. Ek haal my hoed af vir die familie wat nie nou wegkruip maar na vore kom. Sy en hulle moes van tyd tot tyd wel kontak gehad het.
Die staat moet egter ‘n aansienlike bydrae maak tot haar begrafnis. Sou daar enige eis kan wees teen die minister van polisie?
Sterkte aan die betrokkenes.

yol ·

Is die staat nie verantwoordelik daarvoor om die kostes van die begrafnis te dek nie. Dit is immers ‘n noodlottigheid na aanleiding van hul aksies?

Remondo ·

Dis n tragiese geval, mag die Heer hom oor die agtergeblewene ontferm en,ander famielies se oe laat oopgaan Help jou famielie en medemens dis waarom ons daar is!

Hannes ·

Naand wil graag weet of daar enige kontak nommers is van familie. Anoniem wil graag in kontak kom met Jaco of familie vir bydra

Kontak
Hannes
0724073730

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.