Pta hoor dié week oor nuwe kragtariewe

Argieffoto

Pretorianers sal waarskynlik eers Donderdag ná die Tshwane-metro se maandelikse raadsvergadering weet wat die “ware” tariewe is wat hulle vanaf 1 Julie vir elektrisiteit sal moet betaal.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Tshwane-metroraad se openbarerekeningekomitee, het aan Maroela Media gesê daar was verskeie gesprekke verlede week oor die wysiging van elektrisiteitstariewe.

Dit volg ná Rapport voorverlede week berig het dat veral huishoudings wat minder krag in die hoofstad gebruik in werklikheid ʼn tariefverhoging van meer as 80% kan kry. Dit word toegeskryf aan die metro se planne om volgens hulle goedgekeurde begrotingsdokument ʼn vaste heffing van R200 vir ʼn elektrisiteitspunt in te stel.

Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die metro, het verlede week in ʼn mediaverklaring ontken dat sommige verbruikers so ʼn buitensporig hoë verhoging gaan kry.

Tau het gesê die vaste heffing is net R120 per maand vir elektrisiteitspunte. Die heffing sal ook net van toepassing wees op huishoudings wat meer as 650 kWh elektrisiteit per maand gebruik.

Volgens hom het die metro weggedoen met die vier bestaande kategorieë of kerwe vir elektrisiteitstariewe. Daar sal nou ʼn tarief wees vir verbruikers wat 0 tot 650 kWh elektrisiteit (blok een) gebruik en ʼn ander tarief vir verbruikers wat meer as 650 kWh (blok twee) gebruik.

Verder sal twee stelle tariewe geld, een vir die wintermaande wat duur van Junie tot Augustus, en ʼn tarief vir die somermaande van September tot Mei wanneer die vraag na elektrisiteit weer laer is.

“Die tariewe vir blok een sal wissel van R1,49 kWh in die somermaande tot R1,79 kWh in die winter vir blokeen-verbruikers. Verbruikers wie se elektrisiteitsverbruik in blok twee val, sal R1,88 kWh in die somer en R2,15 in die winter betaal,” het Tau in ʼn verklaring vroeër die week gesê.

Hy het verder die versekering gegee dat die Tshwane-metroraad by Nersa se riglyne van 13,07% vir verhoging van elektrisiteitstariewe sal hou.

“As dit die algemene verhoging is, sal verbruikers van blok een tussen R1,56 kWh en R1,94 kWh vir elektrisiteit betaal. Verbruikers wat meer as 650 kWh elektrisiteit per maand gebruik, sal saam met die vaste heffing van R120 per maand ʼn styging van tussen R1,74 kWh en R2,76 kWh in die tarief sien,” het hy gesê.

Tau het Saterdag aan Rapport erken dat daar foute was in die tariewe wat in die goedgekeurde begroting verskyn en dat dit dringend reggestel moet word. Dit wat Tau in sy verklaring as die regte tariewe aangebied het, is glo eers Donderdag deur Moeketsi Mosola, die stadsbestuurder, afgeteken en sal Dinsdag voor ʼn spesiale burgemeesterskomitee dien mits Nersa dit dieselfde oggend nog goedkeur.

As alles dan volgens plan verloop, sal die raad dit Donderdag op sy maandelikse vergadering goedkeur.

Maroela Media het Maandag vir Tau genader vir kommentaar, maar hy was glo in ʼn vergadering en het nog nie op navrae gereageer nie.

Erasmus het gesê die Tshwane-metro het ʼn veelpartykoukus Maandagmiddag. Hy het bevestig sy party sal sekere wysigings aan die elektrisiteitstarief voorstel in ʼn poging om die finale tariewe te beïnvloed.

“Die goeie nuus is: ek glo nie die tariewe wat nou op die stadsraad se webwerf verskyn, sal die tariewe wees wat inwoners van 1 Julie af gaan betaal nie. Die tariewe kan Pretorianers baie negatief raak veral pensioentrekkers en die armste van die armes wat spaarsamig met hulle elektrisiteit te werk gaan,” het Erasmus gesê.

“ʼn Mens het begrip dat die stad sy begroting moet laat klop, maar tariewe vir dienste is reeds hoog en die ekonomie is sleg – daarom is dit belangrik om ook aan verbruikers se volhoubaarheid te dink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

E Fourie ·

As pensionaris is dit vir ons onmoontlik om die Tariewe te betaal. Dit is reeds rock-bottom om genoeg GELD elke maand bymekaar te kry.

WIEBO ·

My huiswerker het n huis in Vosloo Rus. Daar betaal sy R50 op haar prepaid meter elke maand, en kry dan “credits” vir die res van die maand, ongeag hoeveel krag sy verbruik. Lekker ne!!!

Koos de Meyer. ·

Ons het voorheen 6kl water en 50 kW eenhede gekry. Nou kry die ander ons 6klwater en 5okw eenhede krag wat dit vir hulle bring na 12kl water en 100kw eenhede gratis. Maar ons moet maar betaal. Ons is self ‘n pensioenarise.

Schalla ·

Hoekom verskillende tariewe vir die heffing? Dis nou alweer om die middelklas te laat betaal vir dienste wat die armes verniet kry. Nee wragtig hoe gouer ek van die grid kan afkom hoe beter. Ek is moeg om ander te subsidieer. Volgende wat jy weet gaan hulle jou by Pick ‘n Pay vra om jou pay slip te wys sodat hulle kan bepaal hoeveel jy vir jou brood moet betaal, dieselfde brood wat die ou langs jou die helfte voor gaan betaal. Ek het nie ‘n probleem met glyskale vir hoeveelheid gebruik nie want dit beoog om gebruikers te kry om spaarsamig krag te gebruik en jy kan tog beheer oor jou verbruik uitoefen, maar wanneer ‘n heffing op die punt gehef word, het jy nie ‘n keuse nie en moet almal oor dieselfde kam geskeer word.

Pampoen ·

Hulle mors geld op Aller hande luukses en voertuig en huise vir die Burger esters en Wie nog en nou moet ons nog swaar Der kry. Ons is pensionarisse. Spaar waar ons kan om uit te kom. Hulle skat nou al vir hoeveel maande so hoog as moontlik. Ons kan nie ons eie lesings doen nie want niks kan op die meters gesien word. Wens ek kan ook soos die bevoorregtes byna niks betaal

Sandra du Plessis ·

Dis vreemd dat niemand iets noem van die R600/maand fooi wat van 1 Julie op plase en plotte gehef gaan word nie. Die fooi sal gehef word voordat jy nog ‘n sent se krag gebruik het, bloot vir die ‘voorreg’ dat jy ‘n kragpunt het.

Wim ·

Sandra ek betaal al klaar op my 21 hektaar stukkie amper n R1000 per maand voor ek n skakelaar aansit dan nog groen heffing, en R2.21 vir n eenheid en dit met enkelfase krag.Dis direk van eskom .Hulle vernietig ons middelklas.

Jannie ·

Sien geen rede hoekom hulle so ingewikkelde tarief betaling wil instel nie behalwe dat hulle nie wil he dat inwoners rekeninge verstaan nie en dus maar net betaal.
Gee n vaste tarief ongeag hoeveel n inwoner gebruik, gebruik min betaal min gebruik baie betaal baie.

Lourens ·

Maak net met gas kos. Spaar baaaaie. Nou besig met gas gheaser instelasie. Wil heel van gridd af. De hel met eskom.

Johanna Botha ·

Lees dit wat rondgaan ek was so geskok omdat dit nogal baie gebeur : 1x straatlig = (300watt) , 10x straatligte =3KW wat 12 ure onnodig deur dag brand kos R72 / dag x 30dae = R 2160 / maand ! R25 920/ jaar. 100xstraatligte= R2 592 000/ JAAR ….dit kan BAIE slaggate regmaak, werk skep, veiligheid verseker …n stadsraad wat omgee vir die mense sal verseker die 100 ligte wat onnodig brand afsit …NIKS GEBEUR NIE ! !

Drikus Kotze ·

Nou is daar geen aansporing vir diegene wat krag wil spaar. Net nog ekstra heffings vir die alreeds voos geslaande blanke verbruikers. Mooi so julle wen die veldslag!

Willie ·

Dankie DA… julle is maar net so agter af soos die ANC…

Anoniem ·

Wat my opval by die werk, is hoe sekere kollegas met ‘n verwarmer onder die tafel teen hulle bene sit, of die lugversorging “full blast” aan het om die kantoor warm te maak – dit voel kompleet soos ‘n warm, droë woestynwind wat oor jou waai. Andere trek warm aan en sit met ‘n kombers om hul bene, of ‘n warmsakkie op die skoot.

Ek glo dat mense by die werk optree soos wat hulle gewoond is om by die huis te doen. Mense wat gewoond is om so te “mors” met krag doen dit waarskynlik omdat hulle nie daarvoor hoef te betaal nie… daar is nie ‘n kultuur van verantwoordelikheid by hulle te bespeur nie.

charmaine ·

En dan praat ons nie eers van die wat verkeerde meterlesings vat nie. Verlede maand n rekening van 14 000.00 gekry toe ek navraag doen is daar gese die meter leser het verkeerde lesing geneem.
Maar ja ons bly so 2km van GAMORA nedersetting so die omgewing se huise betaal vir hulle duur spreiligte terwyl ons straatligte voor ons huise nie eers werk nie.

Attie. ·

Ek vooespel dat die VF Plus baaaie stemme in 2024 by DA gaan afneem..sonder geweld want DA is reeds besig om kiesers te vervreem. Dankie DA..hou so aan.

MANIE ·

Die da is die duurste stadsrade vir inwoners wat bereid is om te betaal. Hulle stygings is buitensporig. Ek hoop al die da stemmers kry n vet rekening einde van maand

Budgie ·

Die DA beteken niks. Ek het al vir 2 raadslede gevra om na die straatligte rondom skole te kyk, maar hulle soek paal nommers. Stupid want moet ek nou loop en al die paal nommers vir hulle kry? Waarvoor word hulle betaal?????

Andre Stander ·

Durf ek sê dat hierdie n Klassieke voorbeeld is van “wil kla, maar wil nie self hand uit steek nie’..?

As jy rerig wou bydrae tot die probleem oplos, sou jy die paal nommers bekom het. Vat a stappie, onthou net om iets saam te neem waarmee jy jouself kan verdedig (dit is steeds Suid Afrika hierdie…).

Kom ons wees meer betrokke by die oplossing van probleme, al vat dit bietjie meer ‘effort’…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.