Pta-huise ontruim weens reuse-oorstroming

Argieffoto: drive-awayspecialist.com

Die Tshwane-nooddienste moes Woensdagoggend bontstaan om huise in die noorde van Pretoria te ontruim weens ʼn reuse-oorstroming in dié gebied.

Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, het aan Maroela Media gesê die nooddienste is teen 04:15 na Van der Schyffstraat in Annlin ontbied nadat ʼn waterpyp of ʼn klep by ʼn reservoir vermoedelik gebars het.

“Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel het daar ʼn magdom water by die berg en strate afgestroom. Daar is dadelik begin kyk na huise wat in gevaar is,” het Pieterse gesê.

Volgens Pieterse het vier huise toe reeds waterskade opgedoen en moes die inwoners vir veiligheidsdoeleindes ontruim word. “Buiten die vier huise wat skade opgedoen het, is van die omliggende huise se tuine en motorhuise ook deur die water beskadig. Die meeste water het gelukkig in die strate afgeloop, maar was net te veel vir die dreineringstelsel.”

Die watertoevoer na die voorstad is intussen toegemaak en die Annlin-omgewing gaan vir ʼn onbepaalde tyd sonder water wees.

Tegnici en ingenieurs van die metro is reeds op die toneel om die oorsaak van die waterlekkasie vas te stel en om dit te herstel.

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VIVA ANC VIVA ·

Dis wat gebeur wanneer jou voorheen ANC beheerde metro geen instandhouding doen nie.
Ten minste het die burgermeesters Paleis werkende waterpype.

Jan B ·

Ek bly op ‘n plaas en pype bars. Niks met onderhoud te doen nie.

Klaus ·

Kyk, ek het geen tyd vir die ANC nie, maar ek wonder hoe lank gaan hulle nog blameer word vir dinge wat skeefloop in Pretoria.
Nadat die DA oorgeneem het was ‘n verkeerslig op ‘n besige roete in ons omgewing vir ongeveer 3 maande stukkend. Ek het talle oproepe na ons DA raadslid gemaak sonder dat daar iets aan gedoen is. Hoe is dit die ANC se skuld?
Lyk vir my ons Afrikaners raak met die DA soos Land Rover bestuurders. Maak nie saak hoeveel keer die ding jou in die steek laat nie, jy bly vir almal om jou vertel hoe wonderlik hy is.

Marcel ·

Dit het bo in my straat gebeur, 2de keer wat dit gebeur en die 1ste keer het dit seker 6 maande gevat vir hulle versekering om uit te betaal. Daai arme mense het met vuil modder huise gesit vir 6 maande voor die versekering kom kyk het. Die company wat besig is om die resevoir te bou moet bietjie wakker word, hoe kry jy dit reg dat dit 2 keer gebeur???

Pop ·

Netso Viva, geen instandhouding, geen werkende infrastruktuur nie. Sien, voorheen is daar vir hulle gedink, nou gebeur daar niks.

linda ·

die burgermeesters paleis word verkoop, die burgermeester bly nie in daardie paleis nie

Willie ·

Nou wie betaal weer vir die tameletjie… Wie gaan die spesifieke swembad vol skoon water tap? Versekering gaan nie water betaal nie…

madels ·

Kyk na die ander nuusberig, dis blykbaar vandalisme wat dit veroorsaak het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.