Pta-inwoners gemaan oor waterverbruik  

(Foto: Andres Siimon / Unsplash)

ʼn Paar woonbuurte in Pretoria sit steeds sonder water ná ʼn kragonderbreking Vrydag by Rand Water se Mapleton-pompstasie.

Volgens Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, word die status van reservoirs en die waternetwerk noukeurig dopgehou, veral in die ooste van Pretoria.

“Daar is watervloei na die meeste gebiede, maar ons het steeds nie genoeg kapasiteit opgebou om stabiele watervoorsiening aan alle kliënte en veral hoogliggende gebiede te verskaf nie.

“Die uitdagings met Rand Water se toevoer aan die stad het veroorsaak dat dit langer as gewoonlik neem om volle toevoer te herstel. Hierdie vertragings word verhoog as gevolg van hoë gebruik van water in gebiede waar die toevoer teruggekeer het.”

Fosi het gesê die stad se bestuur het met Rand Water geskakel om maniere te ondersoek om herstel te bespoedig. “Rand Water het gesê hy het maksimum druk op ons toevoerlyn toegepas, maar ons werk nog saam met hulle om te kyk of daar nog iets is wat gedoen kan word.

“Ek wil inwoners vra om asseblief te probeer om hul watergebruik te beperk totdat ons waterstelsel ten volle herstel het. As ons nou minder water kan gebruik, sal dit ons waterreservoirs vinniger laat herstel en water toelaat om gebiede te bereik wat nog nie hul toevoer teruggekry het nie.”

Rand Water se Mapleton-pompstasie het Vrydag ʼn kragonderbreking gehad wat ʼn reuse-uitwerking op die Vlakfontein-reservoir, wat water aan die Tshwane-metro lewer, gehad het.

Volgens die Tshwane-metro was vandalisme die oorsaak van die kragonderbreking.

Die metro het ʼn beroep op inwoners gedoen wat wel water het om dit spaarsaam te gebruik om die reservoirs die geleentheid te gee om genoegsaam te herstel.

“Inwoners word aangeraai om nie water in baddens, emmers of enige ander houers te tap en te stoor wanneer die waterdruk herstel nie, aangesien dit die proses om watertoevoer na alle inwoners te herstel erg belemmer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Shakespeare ·

As daar mense met breinselle en werk trots aangestel was sou “vermaning” nie nodig gewees het nie.

Daniel ·

Gister 8 ure sonder krag, op die oomblik is beide krag en water af! Donker Afrika letterlik en figuurlik!

Theunis ·

Die regering en munisipaliteit het nie dadelik die tyd en kapitaal om die probleem op te los nie, hulle is te besig om die Bester saga te publiseer op die media platform en ten duurste te betaal om die kriminêle terug te bring na SA. Prioriteite van ‘n vervalde Staat.

Hendrik ·

Weereens mense kry ‘n watertenk om sulke watertekorte te hanteer. Hoekom is daar net ‘n paar mense wat nie beinvloed word nie. Ons gemeenskap het eie krag, water en riool ,word glad nie beinvloed met die krisisse in ZA. Ons klem is selfstandige onafhanklikheid in alle aspekte van dienste wat ‘n staat moet verskaf met belastinggeld. Deur te kla gaan niks help nie en ons sal self is die belangrikste besluit. Ons is buite Pretoria en naby.

Stofdonkie ·

Moenie jou gemeenskap so adverteer nie, as jy weer sien sak duisende mense toe op jou gemeenskap om te gaan water haal

Anonymouse ·

Kleinfontein? Waar jy die huis koop maar nie die land besit nie? Kleinfontein wat nie genoeg geld het om alles te betaal nie, en vrot is van die skuld? Kleinfontein waar almal alewig onder mekaar baklei, en wag vir die ander een om die werk te doen?

Stofdonkie ·

Waar is die weermag se baie water tenkers? Is dit nie deel van hulle verantwoordelikheid om in te gryp met ‘n ramp soos die nie? Hulle kan mos water aanry na die reservoirs toe net om dit so hupstoot te gee om vinniger te herstel. Is daar niemand wat so ver kan dink nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Net die prez kan die SANDF “ontplooi.” Tot dan lê die troepe in hul kasernes en slaap tot die volgende etenstyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.