Pta-inwoners wil stink water sáám pak

Die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg noord van Pretoria. (Foto: Lindiwe Sisulu/Twitter)

Inwoners in die omgewing van die Rooiwal-watersuiweringsaanleg het nou hande gevat met inwoners van onder meer Hammanskraal, Pienaarsrivier en Roodeplaat in ʼn poging om self probleme met ondrinkbare water en besoedeling in die omgewing te probeer oplos.

“Ons almal soek skoon water,” sê adv. Hendrik van Staden, woordvoerder van die nuut gestigte Nasionale Watermonitor (NWM), ʼn maatskappy wat op die been gebring is in ʼn poging om die gebied se voortslepende waterprobleme te pak.

Die NWM het tot stand gekom weens veral die probleme by die Rooiwal-rioolaanleg, noord van Pretoria, wat veroorsaak dat nie net duisende mense sonder ordentlike drinkwater sit nie, maar wat ook reeds tot grootskaalse besoedeling gelei het.

Van Staden sê daar word toenemend in die gebied uitgebrei, maar die Rooiwal-aanleg se kapasiteit is glad nie verhoog nie.

Boorgate is nou onbruikbaar en weens die onvoldoende funksionering van Rooiwal kan die Temba-aanleg ook nie behoorlik werk nie. Die Temba-aanleg maak staat daarop dat water eers by Rooiwal behandel word.

Van Staden sê die Baviaanspoort-watersuiweringsaanleg werk boonop steeds nie optimaal nie.

Inwoners was vroeër vanjaar hande in die hare oor die onbehandelde rou rioolvuil wat uit die aanleg in die Pienaarsrivier gestort word en in die Roodeplaatdam beland. Weens die grootskaalse besoedeling het hiasinte in ʼn stadium gedreig om die dam heeltemal oor te neem.

Rioolvuil word glo ook summier in die Apiesrivier gestort. Sommige plase in die gebied is glo vrot van rioolvuilbesoedeling en boere is hande in die hare oor die situasie.

Vir talle inwoners van Hammanskraal is die situasie net so beroerd. Hier is daar op sommige plekke glad nie meer drinkbare kraanwater beskikbaar nie. Thumelo Khoitong, voorsitter van die Hammanskraal-gemeenskapsforum, sê hoewel die watergehalte die afgelope ruk verbeter het, is dit steeds nie op standaard nie.

“Benewens die drinkwater, word die damme ook geraak. Ons het destyds in die Tembadam geswem en visgevang. Nou is dit donker en groen en dit stink. Jy kan niks meer van daardie goed doen nie.”

Inwoners het in ʼn stadium selfs die hulp van die Menseregtekommissie (MRK) ingeroep in ʼn poging om hul lot te verbeter. Die kommissie monitor die situasie steeds.

Van Staden sê egter van die metroraad se beloftes dat daar daadwerklik ingegryp gaan word, kan daar nog nie veel gewys word nie.

Planne met vuil water

Die Nasionale watermonitor is ‘n maatskappy wat op die been gebring is sodat gemeenskappe saam met die Tshwane-metroraad kan werk om die probleme te help pak.

Van Staden sê daar is Donderdag briewe opgestel wat nou aan die Tshwane-burgemeester, Randall Williams, en sy topbestuur gestuur gaan word.

Hierin stel die NWM voor dat die kundigheid wat die maatskappy reeds geïdentifiseer het, ingespan word om die situasie by die sukkelende Rooiwal om te keer.

“Dit help nie jy sleep die metroraad net hof toe nie. Jy wen dalk die saak, maar as belastingbetaler betaal jy eindelik self daarvoor. Ons wil eers kyk of ons saam met die metroraad kan werk,” sê Van Staden.

“Ons wil om ʼn tafel sit en saamwerk om die probleme op te los.

“Indien ons nie enige positiewe terugvoer van die metroraad kry nie en hulle nie die gemeenskap wil toelaat om insette te lewer en monitering te doen nie, sal ons gedwing word om die regsproses te volg.”

Van Staden sê watertenks word nou reeds maande lank – ten duurste – na inwoners van die gebied aangery omdat die kraanwater volgens inwoners ondrinkbaar is. Dit is boonop nie ʼn nuwe probleem nie, maar een waaroor inwoners al jare lank kla. Hy sê al wie daarby baat, is die kontrakteurs wat die water aanry.

Volgens Van Staden word ontwikkeling in die gebied ook weens die swak gehalte van water en ʼn gebrek aan behoorlike infrastruktuur gestrem.

Een van die voorstelle wat die maatskappy maak, is dat kleiner herstelwerk – wat dikwels opgehou word deur omslagtige formele verkrygingsprosesse by die metroraad – met die hulp van NWM gedoen word om die herstel- of instandhoudingswerk te versnel.

Van Staden meen net klein besteding aan Rooiwal kan dadelik ʼn verbetering in watergehalte teweeg bring.

Khoitong glo ook die NWM gaan hopelik help om meer druk – op ʼn wettige manier – op die owerhede te plaas om daadwerklik in te gryp.

“Ons stry nou nie meer in isolasie nie. Ons is verenig en praat met een stem.”

Khoitong sê inwoners besef al te goed dit gaan jare duur voor die watersituasie opgelos is. Hulle eis egter groter betrokkenheid by die proses om die infrastruktuur op te knap.

“Dit is ʼn enorme uitdaging, maar politici kom en gaan en dan bly die gemeenskap steeds agter. Ons behoort die kern van die projek te vorm. Indien daar dus politieke verandering is, behoort daar steeds kontinuïteit te wees. Maar ons pleidooie word verontagsaam.”

Khoitong sê terwyl die Rooiwal-aanleg tydens die eerste fase van die projek opgegradeer word, duur die besoedeling egter voort. “Daar moet maatreëls ingestel word om dit te stuit.”

Opgraderingswerk

Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metroraad, sê weens verskeie faktore, onder meer die Covid-19-pandemie en internasionale vertragings met die verkryging van onderdele, is opgraderingswerk by Rooiwal met sowat agt maande teruggesit.

Nel sê na verwagting sal die projek teen die derde kwartaal van volgende jaar voltooi word. “Daardie tydperk gaan ongelukkig nie verander nie; dit is hoe lank die projek gaan duur.

“Dit is ʼn nuwe projek en word uitgevoer so vinnig as wat moontlik is. Dit vereis groot ingenieurswerk en neem tyd om te voltooi.”

Hy sê herstel- en opgraderingswerk aan die aanleg gaan ʼn geraamde R2,1 miljard beloop.

Die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie het die aanleg in April vanjaar besoek en die onderneming gegee dat die departement dié koste sal dra.

Nel verduidelik dat Rooiwal ʼn afvalwatersanitasie-aanleg is. Water vloei dan na die Temba-aanleg, wat ʼn drinkwatersuiweringsfasiliteit is. “Die water wat uit Temba kom, is skoon.”

Hy sê nietemin word dit nie as drinkwater gebruik nie en dat water deur ʼn uitgebreide netwerk van tenkwaens aan inwoners voorsien word.

Volgens Nel het inwoners in ander provinsies in sommige gebiede glad nie water nie. “In Tshwane se geval kry almal wat geregtig is op water, op een of ander wyse voldoende, skoon drinkwater.”

Hy sê die Rooiwal-aanleg is jare lank verwaarloos en dat daar reeds in 2004 ʼn verslag verskyn het waarin gewaarsku is dat die aanleg nie aan spesifikasies voldoen nie.

Die DA is sedert 2016 deur ʼn koalisieregering in beheer van Tshwane.

Nel sê die metroraad ondersoek ook moontlikhede om infrastruktuurprojekte in die stad selfs verder te versnel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris dupreez ·

Slegte regering, maar hulle sal bly stem vir die anc

Die Boerepompie ·

Die ANC sal hulle nie help nie so ook sal dit reg deer ons land gaan ook nie die EFF nie .ons as mense sal moet op staan en ales oor vat en dit ons self moet doen .Ek wonder net waar sal die land ban ons wees 29 jaar van vandag af

Anel ·

Hoekim kan ons nie self die onderdele maak nie? O, ek het vergeet. Dit mag nue deur ons eie blanke kyndigheid gemaak word nie en die ingeneurs moet kubane wees. As ons dit self gedoen het, kon dit al klaar gewees het. Die arme mense kan gelukkig wees as dit einde volgende jaar klaar gaan wees. Van 2004 tot nou het dit agteruit gegaan. 17 jaar!! Niks wat die regering aanpak word betyds klaar gemaak nie. Ek glo as die gemeenskap in spring en met die kundigheid wat beskikbaar is sal die probleem baie gouer opgelos en reggestel wees as wat die regering beplan.

Samuel ·

Hierdie organisasie het ‘n positiewe uitkyk en sal eerder op hierdie wyse die situasie verander as om net hof toe te hardloop.

marius ·

Vat die goed en gaan gooi dit in hul raadsaal uit . Praat help niks in die hool nie .

SjN ·

Dit is van al die om die tafel sit dat dit so gaan, lig julle houde van die stoele af en begin werk.

Mier14 ·

As alles self deur die burgers van die land herstel moet word, kan ons mos maar ophou belasting betaal. Wens ek kon keer dat my werkgewer dit v my salaris aftrek. Maar hulle is so opgekruip in BEE status, dat hulle nooit n tax revolt sal ondersteun nie.

twaalfboor ·

“Monitor die situasie”…… LMGA!!!! Dis al wat hulle kan doen as hulle nie weet wat en hoe om dit te doen nie…….”monitor”
Julle het hierdie land in sy kanon in “gemonitor”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.