Pta-kleinhoewe-aanval: Tiener met ‘hart van goud’ sterf om ma, sussie te beskerm

Keanu Bardenhorst. Foto: Verskaf

Keanu Badenhorst.

Lelanie Storm het Donderdag in die vroeë oggendure nog koffie gedrink saam met haar seun, Keanu Badenhorst, in hul huis op ʼn kleinhoewe oos van Pretoria, min wetend dat hy ʼn paar minute later in haar arms sou sterf.

ʼn Gebroke Storm (41) het Donderdag aan Maroela Media gesê Keanu (17) het net ná middernag tuis gekom ná sy skof by The Grub Father-restaurant in Mooikloof waar hy as kelner gewerk het. Storm woon al haar lewe lank in die Welbekend-omgewing en het sowat 12 jaar gelede by die huis op die Bashewa-kleinhoewe in Garsfonteinweg ingetrek waar Keanu sy laaste asem uitgeblaas het.

“Ons het saam koffie gedrink, en hy het ietsie geëet. Ek het sowat 01:00 gaan slaap,” het Storm gesê.

Na verneem word, het twee verdagtes toegang tot die huis gekry deur ʼn badkamervenstertjie nadat hulle ʼn gat in die kleinhoewe se heining geknip het. Drie mans het buite die huis gewag.

Storm het gesê sy het wakker geword toe sy ʼn rumoer in die huis gehoor het. Haar dogter, Leandrie (11), het kort daarna “shut up” geskree. Sy het aanvanklik gedink dit is Keanu wat lawaai, “want hy maak maar geraas in die aande wanneer hy by die huis kom”.

Toe sy haar slaapkamerdeur oopmaak, het ʼn verdagte in die gang vir haar gewag en ʼn geweer op haar gerig. “Ek het my slaapkamerdeur toegeruk, toe skop die man die deur oop. Hulle het my en Leandrie na die sitkamer gesleep. Toe sien ek Keanu lê op die sitkamervloer naby die voordeur en hy is geskiet.”

Storm het gesê Keanu was baie erg oor haar en sy sussie, was vir niks bang nie en sou alles in sy vermoë doen om hulle te beskerm. Sy vermoed hy is juis geskiet in ʼn poging om hulle te beskerm.

“Ek het ʼn dowwe geluid gehoor, maar nie geweet daar is ʼn skoot afgevuur nie. Die polisie het gesê as iemand van ʼn kort afstand geskiet word, hoor ʼn mens nie noodwendig die knal nie.”

Die mans het Lelanie gedwing om die voordeur oop te sluit, waarna nog drie mans die huis ingekom het.

Lelanie en Leandrie se hande is met kabelbinders agter hul rûe vasgemaak. Hul voete is ook vasgebind. Keanu het deurlopend gesê hy kry nie asem nie. Die mans het die huis geplunder van alles wat waardevol was, selfs ʼn waaiertjie wat in Leandrie se kamer gestaan het.

Hulle het aangedring op Lelanie se bakkie, ʼn Mihandra, se sleutels en daarna hul buit daarop gelaai en gevlug. Dit was toe omstreeks 02:00.

Leandrie kon daarin slaag om haarself los te wikkel en het haar ma ook losgemaak. Storm het na haar seun gehardloop en probeer optel, maar hy was te swaar.

“Hy het weer gesê hy kry nie asem nie. Sy laaste woorde was, ‘Ek gaan nou doodgaan’.”

Sy is by die staatslykshuis meegedeel dat ʼn koeël Keanu onder sy ribbebene in sy sy getref het, waarna dit ʼn hoofslagaar afgeskiet het. Hy het hom inwendig doodgebloei.

Storm het gesê haar seun was nie meer op skool nie. Hy het as kelner gewerk en sy sou hom later oplei om saam met haar in die boubedryf aan te sluit.

“Hy was baie tegnies aangelê en mal oor houtwerk. Hy was altyd fluks en behulpsaam en sou alles vir my en sy sussie doen. Hy het ʼn hart van goud gehad. Almal met wie hy in aanraking gekom het, het van hom gehou.”

Sy vertel hy het ʼn sagte plek vir motorfietse, gewere en messe gehad. “O … en meisies. Hy het sy meisies op die hande gedra. Hy het saam met vroue grootgeword, so hy het weet hoe om hulle mooi te behandel,” skerts sy hartseer.

Kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die Mahindra is later deur ʼn opsporingstoestel in Mamelodi, noordoos van die stad, opgespoor.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

LM ·

Rus sag seun! Weet net jy is ‘n held en mag jou mamma se hartseer vertroos word met die feit dat jy ‘n held was.

CHRISTA ·

Kan ons ou Skerpioenlede nie opgespoor word sodat hulle ‘n privaatmag kan skep nie? Ek kan julle waarborg: 80% van ons land se bevolking sal hulle ondersteun!!! Ek dink selfs 90% van ons swart bevolking is net so g…vol vir moord, verkragting en ander geweldadige misdaad soos ons!!! Ons polisie blyk net daar te wees vir ‘n salaris – verder gee hulle nie ‘n bloue duit om wat in ons land aangaan nie (soos hulle ANC-regering).

Neli ·

Aai my hart is so bitter seer.’n Kind vermoor vir ‘n paar goed? Here U volk kry swaar sien ons trane en hoor ons gebede. Rus in vrede Keanu. Jy het ‘n held gesterf …………..

Cindy ·

Ek is baie jammer vir die mamma en sussie. Ek kan nie dink hoe hulle moet voel nie. RIV Seun.

SNEL ·

My hart is so seer vir die ma. Ai, het nie woorde. Wat n pragtige seun/jongman, veral klink dit vir my, hy was die man in die huis, en dit maak hom n steunpilaar ook. Hy was n dapper held, jammer net dat hy nog n vol lewe kon lei en nou weggeruk is deur gemors.
Baie sterkte aan julle!

Magriet ·

Geen woorde vir die smart, trauma en angs wat so skielik deel gewird het van n onskuldige familie nie! Rus sag Seun! Sterkte vir die familie!

Johannes Meintjes ·

Konstruktiewe kommentaar oor verbeterde burgerlike beskermingsstrukture, verbeterde uitruil van info en tendense d.m.v. kommunikasie-kanale en verbeterde burgerlike reaksie word ge-ignoreer terwyl die boodskap aan booswigte dui dat die blanke in SA te lamsakkig is om gesametlik-konstruktief op te tree. Sela.

neelsie ·

Hartseer as ons van al die moorde hoor.
Jammer vir die gesin.
LOS ONS KINDERS UIT!
Hierdie is brutale moord.!!

Jannie van Vuuren ·

As ek my gedagtes moet bewoord, sal ek as ‘n opperste rassis gebrandmerk word. Gelukkig is my gedagtes nog nie krimineel strafbaar nie, anders was ek op pad tronk toe!

Shamaine ·

Daar is nie woorde om die “GOED” te beskryf nie. Diere miskien??? ek weet dit is in n dier se natuur om te jag en moor vir kos. Maar die goed????? Ek hoop die HERE gee hulle word ontneem van die reg om te lewe. Hulle het die kind se reg om te lewe weggevat, asook sy familie sin.

My innige simpatie!. Weet hy is n Engel in die Hemel wat nogsteeds agter julle sal kyk. Sterkte.

Satis ·

Werklik hartseer, ons kinders het nie meer n lewe nie.
Saamstaan is al wat oor is.

rita snyman ·

SO MOEG OM DIE ELDENDE ONDER ONS VOLK TE SIEN, ALLES VERVAL. SO N’ PRAGTIGE JONG LEWE, HOEVEEL KEER AS JY DIT LEES PLEEG JY NIE MOORD IN JOU HART NIE. VERENS EN VERVLOEK JY NIE HIERDIE MENSE NIE, JY WORD SIEK VAN BINNE, VAN ROU VIR JOU VOLK E N JOU LAND

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.