Pta-kleuter in hospitaal ná wildtuinbesoek

Hospitaal_wagkamer_vuurvreters_pixabay-2.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Vierjarige dogtertjie van Pretoria word in die hoësorgeenheid van ʼn hospitaal in die ooste van die stad behandel nadat sy tydens die skoolvakansie malaria in die Krugerwildtuin opgedoen het.

Die dogtertjie se pa, wat verkies om anoniem te bly, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy kind is Saterdag na die hospitaal geneem nadat sy ʼn hoë koors ontwikkel het.

“Ons het dadelik vermoed sy mag dalk malaria hê en het vir dokters by die hospitaal gesê om daarvoor te toets. Ons was by Skukuza en Berg-en-dal, wat nie juis ʼn hoërisiko-malariagebied is nie,” het hy gesê.

Die kleuter is in die hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem en het aanvanklik nie op moderne behandeling gereageer nie en die medikasie uitgebraak. Haar dokters moes daarna ʼn ouer soort medikasie, Quinine, binneaars toedien. Die pa het gesê dié medikasie word nie meer dikwels gebruik nie, aangesien dit meer newe-effekte as die hedendaagse medisyne het.

“Haar toestand het van Maandag af begin om baie te verbeter en haar dokters is tevrede. Sy is amper gesond en as alles volgens plan verloop behoort sy teen die naweek ontslaan te word,” het hy gesê.

Hy het gesê gerugte wat die ronde doen dat daar ʼn tekort aan medikasie is vir malaria by die hospitaal waar sy behandel word, is onwaar.

Die dogtertjie is die egpaar se enigste kind. Die pa het mense aangeraai om eerder versigtig te wees en vooraf medikasie vir malaria te neem al besoek hulle lae-risiko-gebiede. “Dit is beter om voorsorg te tref en versigtig te wees as om aan te neem dit gaan nie gebeur nie,” het hy gesê.

Die Krugerwildtuin het intussen Woensdag die publiek gewaarsku om die nodige voorsorgmaatreëls teen malaria te tref as hulle die park besoek. Dit volg na ʼn aantal malariagevalle in die gebied van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit, in die suide van die wildtuin, onlangs aangemeld is.

William Mabasa, algemene bestuurder van die wildtuin se kommunikasie- en bemarkingsafdeling, het gesê hoewel daar altyd ʼn risiko is om malaria tydens ʼn besoek aan die wildtuin op te doen, strek die malariaseisoen van Oktober tot April, met Maart en April wat die hoogste risiko-tydperk is.

Hy het alle besoekers wat malaria in die wildtuin opgedoen het, versoek om dit by die wildtuin se mediese personeel op Skukuza by 013 735 5638 aan te meld.

“Deur die voorvalle dadelik aan te meld sal dit ons personeel in staat stel om die situasie te monitor en probleemareas te identifiseer waar daar opgetree moet word,” het Mabasa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Marix ·

My gesin (pappa + 3 Kinders) was in noorde van die wildtuin gedurende laaste skoolvakansie. Voorsorgmedikasie het ons R2000 uit die sak gejaag.
Wonder hoe malaria effektief bestry moet word, as voorsorgmedikasie so absurd duur is?

Anna ·

Wildtuin moet doen wat hulle in mMo doen…gaan kry toets apparaat by n kliniek..sodra jy jouself toets vir simptone DAN gaan jy terug dokter toe en DAN eers word jy behandel…daar behoort experts in Kruger te wees wat kan help.???? Malaria is nie van vandag af daar nie…?

Peter ·

@Marix, doen jouself n guns en kyk die Documentary Mosquito.

Alida ·

Toe DDT nog beskikbaar was het hulle malaria 90% onder beheer gehad.

Ani ·

DDT is steeds beskikbaar, dis net ongelooflik sleg vir alles en almal. Dit lei tot gebreklikheid (onder andere), en verdwyn nooit uit die ekosisteem nie want dit breek nie af nie. Dit maak dalk malaria muskiete dood, maar mense wat in die areas bly waar DDT gebruik word word vreeslik siek van die nagevolge. Dis maar hartseer dat iets so goed werk, so sleg is!

Kornel ·

Bid vir haar. Dit is glad nie lekker nie. Ek het dit n kaar terug gehaad. Aseeblief almal bid vir haar.

Cinta ·

Musina Limpopo het albaie gevalle gehad van Malaria die laaste maand, ergste is dis nog nie eers seisoen ten volle nie

Wonder net ·

Van wanner is die wildtuin nie n hoe risiko gebied vir malaria?! Wonder net of sy profilakse gebruik het. Mense is darem maar blasé en ongelig oor malaria.

ECT ·

@Wonder net – dit is duidelik dat die dogtertjie en haar ouers NIE profilakse of enige anti-malaria middels gebruik het nie. ‘n Ander (goedkoper) oplossing is natuurlik …….. muskietafweermiddel! As die (verdekselste) wyfiemuskiet jou nie byt nie, kan jy nie malaria kry nie, so maklik soos dit. Dit is miskien ook ‘n aanduiding dat die Krugerwildtuin miskien hul areas moet heropweeg en -identifiseer, as sg. ‘lae risiko-gebiede’ nou malaria-gevalle oplewer. Miskien sal dit ook goed wees om kontrolepunte in te stel, waar mense met hul bagasie en voertuie moet insekweerder gespuit word na besoeke aan die wildtuin (as dit enigsins prakties moontlik is?).

Marisa ·

In ons lewe het ons nie gewaag om wildtuin toe te gaan sonder dat ons malaria-medikasie begin neem het voor die tyd nie. Dit was vir ons ondenkbaar om sonder voorbehoeding teen malaria die wildtuin te besoek!

Alna ·

Kinders onder 6 of 8jr, kani Malaria meds gebruik. ( Apteker het my ingelig). Vinnige optrede sodra daar enige koors/ griepsimptome is, is gwoonlik voldoende. @malaria meds, gee soms neg. toetsuitslae. Jy KAN steeds opdoen, met meds Marlothpark ht d afgelope paar maande ook kwaai deurgeloop. Ekpersoonlik,weet vn 4gevalle. Daar mag meer wees.

Kosie ·

Snert. My 3 en 6 jarige kinders drink Malanil elke keer as ons KNP toe gaan. Jou kommentaar is gevaarlik vir oningeligte mense wat dit dalk kan lees.

Alida ·

Probeer dit voorkom deur jouself te smeer, toe klere in die aand te dra, jou motor en chalet behoorlik te bespuit. Mens kan dit nie keer nie maar sitronella kerse help en n mengsel van dettol en babaolie deurgaans oral aan te smeer help regtig.

Dissie ·

Daar is 40 mense reeds dood agv malaria in Acornhoek – aandrensend aan die wildtuin. Ons hoor daagliks van nuwe gevalle hier in Hoedspruit. Malaria gevalle is tans baie hoog. Neem voorsorg.

B ·

Ons bly in Hoedspruit wat ontrent 60-80 van wildtuin is. Tans is Malaria gevalle baie hoog in ons area, maar met regte voorsorg kan jy veilig wees. Voor sonsopkoms en na sobsondergang, is hoë-risiko tye. Sorg dat jy dik gesmeer is met afweereder en brand maar kersies. Ons bly al 15 jaar hier, en dank die Liewe Vade het ons nog net 3 gevalle uit 8 gesinslede gehad. Ons raai almal af om malaria meds te nerm wanneer hul hiernatoe kom, onrede dit die simptome onderdruk en dan tel Dr’s die malaria te laat op. Sterkte aan die ouers

Retha de Bruin ·

Ek het n gastehuis op die suidelike grens vd wildtuin. Iemand wat die 18de en 19de Augustus hier was het malaria opgedoen. Die man was weke in intensief op n asemhalings masjien, en moes ook dialise kry. Hy is verlede week eers uit die hospitaal ontslaan. Botteltjie sitronella olie by apteek is goedkoop. Al wat mense hier aansmeer en dit week 100 present.

Baie ontsteld ·

Hi Retha. Dit gaan darem al beter met hom. Ek volg kort-kort op. Goeie kliente van my. Maar daarom dring ek ook aan by mense om hul meds te gebruik.

L. Muller ·

Nou wat beveel die geleerdes aan . Ons was ook nou in die wildtuin en drink meds. Ons gaan die afgelope 33 jaar wildtuin toe met klein kinders en met die genade van bo nog nie malaria gekry nie. Wees maar versigtig. Wat sê die drs. Kan hulle raad gee asb . Drink of nie.

Marthin de Jongh ·

My meisiekind van 4 is gister na 4 dae ontslaan uit die hospitaal. Sy het malaria opgedoen en ons bly in Sabie. Sy moet more weer terug vir bloedtoetse. Daar is tans malaria aangeteken van Ka Nyamazam, 20km bo Nelspruit tot onder in Lydenburg. Terwyl sy in die hospitaal was oor die naweek het daar 9 gevalle ingekom van malaria, die meeste van Lydenburg. Die dokter het ons aangeraai om nie medikasie as voorkoming te gebruik nie omdat dit die simtome van malaria verberg en dit dan te laat opgetel kan word. Hy sê gebruik eerder muskiet repellers en nette en gif plaatjies. Enige verkoue en koors simptome moet dadelik op gereageer word as iemand in die area was en dan laat toets vir malaria. Sterkte

Maritza ·

Sterkte julle. Ons het ongelooflik baie mense gehad in Marlothpark met Malaria, ek was een van hulle !!!! Middel Mei 2017. Hoop sy word gou gesond. Groete.

Hannelie ·

Wanneer eerste toets vir malaria negatief is, toets weer n dag of twee later. Raad van my dokter. Indien dit malaria sou wees sal dit nie noodwendig in die eerste toets wys nie.

spook ·

Snaaks, ons het n paar gevalle in PTA ook gehaad, dit maak my bekommerd.

piper ·

jy kan by die apteek sonder voorskrif doxycycline kry wat vir n gesin van 4 minder as R 100 sal kos.

Roxy ·

Is dit ‘n dokter se kind dat hy presies weet wat in die hospitaal aangaan en watter medisyne nog gebruik word en watter verouderd is en of daar ‘n tekort of ‘n oorskot in medikasie by die hospitaal is? Vreemd hoe hy anoniem wil bly maar meeste van die artikel se uitlatings gaan oor hom? Ek is BAIE bly die dogtertjie is beter, klein kinders sukkel om malaria af te skud. Word gou gesond!

Marike ·

Mens kan maar net die dogterjie en haar gesin aan die hoer hand opdrae. Ons was so paar jaar gelede by die Sabie River Sun en volgens die dokters was dit nie nodig om voor die tyd enige medikasie te neem nie, Ons was saam met my broer , sy vrou en twee kinders op universiteit saam met een vriend daar. Die kinders het tennis gespeel maar die vriend was heeltyd moeg en hulle het huis toegekom, Die vriend het koors gehad. Het hom dadelik na dr geneem sy diagnose was te veel son en hitte uitputting. My broer het egter daarop aangedring om toetse te doen vir malaria en dit was malaris
Ek kan maar net weereens se sterkte vir die gesin en die dogtertjie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.