Pta-landdroshof hoor weer sake aan

Die landdroshof in Pretoria. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Die landdroshof in Pretoria hoor weer sake aan. Dit nadat dié hof vroeër vandeesmaand geweier het om verskeie sake aan te hoor, oënskynlik weens Covid-19-verwante redes. Rolspelers is egter bekommerd die skade wat betref die agterstand in die aanhoor van hofsake is reeds gedoen.

Die organisasie Sakeliga en lede van die Pretoriase Balieraad het op 3 Augustus ʼn dringende brief aan kernrolspelers in die regstelsel gestuur waarin hulle die Pretoria-landdroshof maan om onder meer handelsake wat teengestaan word, asook sake wat voor die hof vir klein eise moet dien, onmiddellik te hervat om verdere verliese vir sakeondernemings te voorkom.

Verskeie prokureurs in Pretoria het destyds gesê die uitstel van sake weens redes wat met Covid-19 verband hou, is bloot ʼn gerieflike verskoning.

Sakeliga het die heropening van die landdroshof vir bestrede kommersiële sake verwelkom.

“Die landdroshof se weiering om bestrede kommersiële sake aan te hoor, hou ʼn groot risiko vir besighede met sake op die agterstallige hofrol in, veral waar verhaalbare bedrae ter sprake is of ooreenkomste afgedwing moet word,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

Volgens Le Roux is daar steeds ʼn magdom sake op die hofrol van howe landswyd, waaronder die Pretoria-landdroshof en hooggeregshof vername voorbeelde is.

“Volhoubare en koste-doeltreffende oplossings moet nou deur sowel die howe as die privaatsektor en burgerlike samelewing in werking gestel word om dié bottelnek op te los.”

Die jare lange agterstand op die hofrol van howe landwyd, met die gepaardgaande impak op besighede en regslui, het Sakeliga genoop om ʼn koste-vriendelike privaat geskilbeslegtingsinisiatief van stapel te stuur.

“Verskeie advokate in Pretoria het reeds ingestem om pro bono as arbiters op te tree.”

Meer inligting sal na verwagting binnekort hieroor bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.