Pta-landdroshof moet dié sake ‘dadelik hervat’

Die Pretoria-landdroshof. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die organisasie Sakeliga en lede van die Pretoriase Balieraad het Vrydag ʼn dringende brief aan kernrolspelers in die regstelsel gestuur waarin hulle die Pretoriase landdroshof maan om verskeie sake onmiddellik te hervat om verdere verliese vir sakeondernemings te vermy.

Dít sluit onder meer handelsake wat teengestaan word in, asook sake wat voor die hof vir klein eise moet dien. Die brief volg op ʼn direktief van dié landdroshof wat Covid-regulasies as rede voorhou om sekere sake nie te hanteer nie.

Die brief is aan die kantoor van die hoofregter, die Tshwane-hooflanddros, die landdroskommissie, die regterpresident en die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling gestuur.

Sakeliga sê sake sluit in dié ingevolge artikel 65, wat voorsiening maak vir die invordering van skuld teen ’n skuldenaar teen wie ʼn vonnis toegestaan is, asook skuld tussen ondernemings en administrasieverhore.

“Voorverhoorkonferensies, belastingsake en sake wat in die hof vir klein eise opgelos moet word, kry ook nie aandag nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Le Roux sê voorts dat ondernemings in Suid-Afrika reeds onberekenbare skade weens inperkings gely het.

“Toegang tot vinnige en doeltreffende regspraak is noodsaaklik indien hulle debiteure versuim of weier om hulle skuld te betaal.

“Daarsonder sal talle besighede nie kan oorleef nie en dit sal tot verdere werksverliese lei – iets wat ons kwalik kan bekostig.”

Sakeliga bevraagteken voorts die rasionaliteit van die hof se Covid-19-direktief.

“Buiten dat die direktief op fase 4-inperkings, wat nie meer van krag is nie, gegrond is, kan daar geen argument uitgemaak word dat ’n artikel 65-saak (wat nie toegelaat word nie) ’n groter gesondheidsrisiko as ’n artikel 57-saak (wat wel toegelaat word) inhou nie.”

Indien die hooflanddros en landdroskommissie nie teen Vrydag skriftelik op Sakeliga se skrywe reageer en voorstelle maak om die saak reg te stel nie, sal die organisasie regstappe oorweeg.

Kyle Kietzmann, ’n prokureur en eienaar van Kietzmann Attorneys in Silverton, Pretoria, sê dié probleem veroorsaak groot kopsere vir kliënte sowel as regsfirmas.

“Daar is ’n absolute frustrasie onder kliënte oor die vertraging van sake.

“Prokureurs en regsfirmas word daagliks met vrae oor die vordering van dié aangeleenthede gebombardeer terwyl daar intern self onsekerheid oor die vordering daarvan heers,” sê Kietzmann.

Hy sê dat die voortdurende uitstel van sake tot ’n enorme agterstand lei en inbreuk maak op kliënte se regte dat sake vinnig en sonder onnodige uitstel afgehandel word.

“Regsfirmas is onder eed om kliënte ywerig en getrou te dien. Verder word van prokureurs vereis om aangeleenthede nie onnodig te vertraag nie. Dit is in die belang van die kliënt sowel as die prokureur om ’n aangeleentheid so spoedig as moontlik af te handel.”

Kietzmann sê prokureurs volg gedurig met rolspelers in die reg- en hofstelsel op, maar sê dat hulle eindelik ook van ’n hoër gesag afhanklik is om verantwoordelike besluite te neem.

“Terwyl kliënte, oftewel klaers, wie se sake voortdurend uitgestel word aan die kortste ent trek, word die ekonomiese sowel as openbare druk op regskenners al hoe groter. Boonop ly regsfirmas eindelik ook reuse‑ finansiële verliese.

“Regsfirmas wat op kleinskaal bedryf word, word gedwing om hul deure te sluit terwyl die res in enorme skuld gedompel word.”

Hechter Hansen, prokureur en eienaar van Hansen Incorporated Attorneys in Nieuw Muckleneuk in Pretoria, sê die uitstel van sake weens redes wat met Covid-19 verband hou, blyk toenemend as ’n gerieflike verskoning voorgehou te word – nie net in die hof vir klein eise nie, maar onder meer ook in kinder- en familiehowe.

Dit geld volgens Hansen ook nie net vir direktiewe waarin Covid-19-regulasies as redes aangevoer word om sake uit te stel nie, maar ook vir mense in die regstelsel wat die virus moontlik as ’n verskoning misbruik of die situasie tot hulle voordeel uitbuit.

Hy sê dat die probleem deurlopend in Gauteng se landdroshowe kop uitsteek en nie net tot Pretoria beperk is nie.

“Die uitstel van sake plaas voorts groot finansiële druk op kliënte wat steeds konsultasiegeld moet opdok, ongeag of ’n verhoor voortgaan of nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Pretoria landroshof is in elk geval ‘n korrupte nes. Bedrieërs kom skotvry, dit self meegemaak. Landros het slotargumente van saak in haar kantoor deurgegaan wat per koevert ingedien moes word. Landros Gous-Botha. Hoekom nie in die hof aangehoor nie? Hoekom per koevert indien? Wat is in die koevert?

Kattebol ·

Dit klink uiters verdag. Die hof is mos die plek waar alles oopgevlek word. Ek hoop jy’t beswaar aangeteken.

Casper ·

Is hulle maar nie net bloot te lui om te werk nie nou is dit die coronavirus wat moet pa staan.

Tiptol ·

“Toegang tot vinnige en doeltreffende regspraak.. “. Daar lê die probleem. Hulle verstaan nie eers daardie woorde nie, wat nog van saam in een sin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.