Pta-leier ‘sterf as held’

Izak Pieters. Foto: Verskaf

Izak Pieters, ʼn man in sy 70’s, is Vrydagaand dood kort nadat hy saam met sy plaaslike buurtwaglede in die landelike gebied buite Pretoria waar hy woon ʼn groep inbrekers agternagesit het.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het Saterdag aan Maroela Media gesê Pieters, die voorsitter van Hennopsrivier AfriForum, wat die landelike gebied tussen Centurion en Hartbeespoort insluit, het Vrydag ná 17:00 verdagtes in die veld agternagesit wat glo by ʼn huis ingebreek het.

“Hy was al die afgelope twee weke sieklik en het ʼn vorm van brongitis gehad. Hy moes eintlik in die bed gebly het, maar altyd bereid en gewillig om die gemeenskap te dien, het hy saam met sy span na die verdagtes gaan soek toe hy daarvan hoor,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron het een van die verdagtes in ʼn stadium van die soektog vir Pieters met ʼn klip teen die kop gegooi, maar hy is nie ernstig beseer nie.

“Hy het kort ná die voorval saam met lede van sy span gestaan en gesels toe hy aangedui het dat hy nie goed voel nie. Oom Izak het daar inmekaargesak en is oorlede. ʼn Nadoodse ondersoek sal vasstel presies waaraan hy dood is,” het Cameron bygevoeg.

Cameron het gesê ten spyte van die hartseer nuus van Pieters se afsterwe, was die soektog suksesvol en is die verdagtes geïdentifiseer en een is aangekeer.

“Oom Izak het as ʼn ware held gesterf en het die hoogste prys betaal om sy gemeenskap te dien. Sy heengaan laat ʼn reuseleemte in AfriForum-veiligheid se struktuur. Hy het talle strukture vir AfriForum-veiligheid geskep. Hy is ons boodskap van hoop. Later vanjaar sal die Izak Pieters-toekenning ter ere van dié man bekendgestel word.”

Cameron het gesê Pieters het ʼn rekord aantal inhegtenisnemings op sy kerfstok, spesifiek wat plaasaanvalle betref. “Hy het ook ongelooflike goeie suksesse saam met die polisie behaal,” het Cameron bygevoeg.

Pieters se vrou is onlangs dood. Hy laat twee dogters en ʼn skoonseun agter. Die begrafnisreëlings moet nog getref word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boland ·

Ken nie die oom nie,maar dit klink of hy n legend was.Tot die bitter einde sy nasie beskerm.Ek haal my hoed af vir oom.Sterkte aan sy kinders.

johan ·

volgens anc geen aanvalle ..so ek neem aan dit is vals nuus

Danie (2) ·

Ek het nie die onbaatsugtige oom geken nie maar ons as volksgenote kan net ons dankbaarheid uitspreek teenoor hom wie sy dienste uit vrye wil opgeoffer het om sy medemens te beskerm. Voorwaar ‘n voorbeeld vir baie ander, om op 70 nog sulke gemeenskapsdiens te lewer waar hy mens se lewe in gevaar is, dit kry mens nie aldag nie. Dit alles om ‘n veiliger omgewing vir sy medemens te bewerkstellig. Rus in vrede volksgenoot.

Hartseer ·

Oom Izak, jy gaan waarlik gemis word in die vallei. Jy was ons held, leier en het ons hoop gegee vir n beter en veiliger toekoms. Oom het ons en ons mans bemagtig en opgelei om ons en ons kinders te beveilig en beter te beskerm teen die booswigte daar buite. Oom was by elke insident en alttd beskikbaar enige tyd van die dag. Ons harte is seer en oom gaan geweldig baie gemis word. Dankie vir al oom se toewyding en bydrae in die Hennops vallei. Rus nou sag.

Tragies ·

Ai Oom Izak, ons gaan jou so mis. Dankie vir alles wat jy vir ons area beteken het.

Mags ·

10/1 indirekte moord.. klink amper of hy gesterf het a.g.v. die hou teen die kop.. Dit is baie harseer. Sterkte aan die kinders wat albei hulle ouers so kort op mekaar aan die dood moes afstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.