Pta-man in hof oor ‘wraakpornografie’

John Schuurman (Foto: Verskaf)

’n Man van Pretoria-Noord het Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met sogenaamde wraakpornografie.

John Schuurman, ook bekend as Johnny Rockett, is op 23 Desember verlede jaar in hegtenis geneem en was oor die feestyd in die tronk. Hy is Vrydag borgtog van R2 000 toegestaan en die saak is tot 3 Februarie uitgestel. Dit is een van drie sake teen Schuurman waar AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan klaers hulp verleen.

Die eenheid het Lindrie Gouws, Schuurman se voormalige vrou, in September gehelp om ’n saak te open nadat Schuurman glo intieme foto’s van Gouws aan haar vriende versprei het. Aanklagte van crimen injuria, die oortreding van die Wet op Films en Publikasies, asook die oortreding van die Wet op Kubermisdade is by die Sinoville-polisiestasie in Pretoria ingedien.

Die doel met die sogenaamde foto’s was glo om Gouws te benadeel en emosionele skade te berokken.

Die privaatvervolgingseenheid het verskeie slagoffers, soos Milena Hill, gehelp om strafregtelike klagte teen Schuurman in te dien. Sy het die eenheid genader omdat sy bekommerd was dat haar aanrandingsaak nie sou voortgaan nie weens Schuurman se beweerde kontaknetwerk in die Suid-Afrikaanse polisie. “Ongelukkig is die saak verlede jaar van die hofrol verwyder omdat aanklaers nie verseker het dat die dossier in die hof is nie. Die eenheid hou verwikkelinge noukeurig dop om te verseker dat dit weer ingeskryf word,” sê Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder.

In ’n ander saak waarby Schuurman glo betrokke was, het die eenheid Tyron Treurnich gehelp om ’n saak van aanranding te open met die doel om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging en diefstal. Treurnich beweer dat hy in Augustus 2021 na ’n woonkompleks gelok is onder die voorwendsel om ’n kliënt se hare te sny. Nadat hy in ’n woonstel toegelaat is, is hy na ’n slaapkamer gelei. Treurnich voer aan Stuurman het hom toe erg aangerand en daarvan beskuldig dat hy van hom gesteel het.

Terwyl die eenheid glo dat geregtigheid Schuurman uiteindelik in die wraakpornografie-aangeleentheid in die gesig sal staar, is daar kommer oor hoe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die aansoek hanteer. “Die staat het die hof aanvanklik ingelig dat die borgtogaansoek geopponeer gaan word, maar het toe op die nippertjie besluit om dit nie teë te staan nie.”

Die aanklaer wat die aangeleentheid hanteer, het blykbaar ook nie die basiese feite van die saak verstaan nie – hy het na die mansgetuie in die saak as die klaer verwys, en na Gouws as ’n derde party wat “op die een of ander manier by die saak betrokke is”, sê Bateman.

Die aanklaer het verder versuim om op rekord te plaas dat Gouws ’n beskermingsbevel teen Schuurman bekom het. “Die beskermingsbevel sit die aard van die geslagsgebaseerde geweld van die saak uiteen en verskaf belangrike inligting wat met vorige bewerings van dreigemente en mishandeling verband hou.”

Volgens Bateman wys die versuim deur die staat om die hof voldoende in te lig oor al die feite wat met die saak en die beskuldigdes verband hou, weereens dat die NVG eenvoudig nie sake van geweld teen vroue ernstig opneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Estelle ·

Dis altyd vir my verstommend hoe mense hulleself probeer vermom as hulle in die hof moet verskyn, maar toe die misdaad gepleeg was, was daar geen ‘wegsteek’ van n gesig nie.

sopbeen ·

Dis tyd dat jy besef dat as die verkeer van voor teveel raak dat jy dalk op die verkeerde baan is neh?

Anel ·

Kan nie verstaan dat daar onbevoegdes as aanklaers aan gestel word nie! Die aanklaer het lyk my nie ‘n idee van wat hy doen nie,! Rask van hom ontslae of kom die 30% nou deur!

Lillian ·

‘n beskerming bevel is net ‘n stuk papier…. Wanneer gaan die regering wakker word en besef sulke rubbish soos hy moet agter tralies nly

SANET ·

As oud Justisie amptenaar verbaas geen een van hierdie blapse my nie. Aanklaers gaan onvoorbereid hof toe. Verby is die dae dat ‘n Aanklaer sy of haar privaat tyd gebruik. Om seker te maak hulle weet wat in die docket aangaan en of dit volledig is. Verby is die dae wat hulle goed voorberei vir elke liewe saak op hulle rol die volgende dag. Hulle tel die docket op die oggend van die saak en gaan hof toe sonder dat hulle ‘n bladsy om geblaai het. Daarom is ek weg uit Justisie. Dis een groot klug en bedrogspul!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.