Pta-man se noue ontkoming met haai in Plet

Die bytmerk in die seekajak. Foto: NSRI

Die bytmerk in die seekajak. Foto: NSRI

Ben Swart (55), van Pretoria, het Maandagoggend ʼn noue ontkoming met ʼn haai, vermoedelik ʼn witdoodshaai van vier meter, gehad toe hy by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap in die see gaan roei het.

Marc Rodgers, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Plettenbergbaai, het gesê hul bemanning is omstreeks 07:15 deur drie roeiers ontbied na die see in die omgewing van die Keurbooms-strandmeer.

“Die roeiers was op drie seekajakke wat aan mekaar vasgemaak was. Hulle was besig om stadig na die kuslyn te roei,” het Rodgers gesê. Die roeiers en hul kajakke is op twee NSRI-seereddingvaartuie gelaai en na die strand geneem.

Swart het aan NSRI-bemanning gesê hy en sy twee vriende, Nick Bester en Ronald Pronk, roei gereeld as hulle op Plettenbergbaai vakansie hou. Hulle het van die sentrale strand na die Keurbooms-strandmeer geroei, sowat 400 m van die kuslyn af, toe hy skielik ʼn stamp onder sy kajak gevoel het.

“Die stamp was aan die agterkant . Die trefslag het hom in die lug geslinger voordat hy in die water beland het.”

Swart het besef dit was ʼn haai wat ʼn groot hap uit sy kajak geneem het. Hy het teruggeswem na sy kajak, wat nog redelik goed kon dryf. Hy het plat op die kajak gelê totdat sy vriende by hom aangesluit en hul kajakke aan albei kante van die beskadigde kajak vasgemaak het.

“Ben het nie weer die haai gesien nie, maar Nick het dit sowat 30 sekondes ná die voorval gesien en toe nie weer nie,” het Rodgers bygevoeg.

Die drie mans is nie beseer nie en het geen behandeling nodig gehad nie.

Foto’s van die kajak en afmetings van die bytplek gaan aan navorsers gestuur word om die presiese grootte en spesie van die haai te bepaal.

Die NSRI doen ʼn beroep op roeiers en swemmers om versigtig te wees, aangesien die Plettenbergbaai-kuslyn sedert die voorval gemonitor word en haaie opgemerk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lucas ·

Ai hoe gelukkig dat die aanval nie noodlottig was nie!! Baie gelikkig om te oorleef want volgens die bytmerk op daardie bord was dit nie ‘n klein haaitjie nie!!

popeye ·

Kyk…daai menere in die grys pakke wat hulle tande met Colgate borsel en een keer per week laat vyl, laat nie met hulle mors nie!!! Dit lyk na ‘n massiewe haai se byt !

Logan ·

Luister, wanneer jag haaie? Wat soek jy so vroeg in die see? Ai tog, soos die engelsman sê, ignorance is bliss.

Sune van Heerden ·

Dagsê Muisvoel

Ons kan bevestig Plettenbergbaai is in die Wes-Kaap. Daar is nie ‘n provinsie soos die “Suid-Kaap” in Suid-Afrika nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.