Pta-man skiet rowers dood: Nuwe inligting glo bekom

Foto: Verskaf.

Ferdie van Greunen, die 47-jarige man wat op 5 Mei twee rowers op sy erf in Lynnwoodrif in Pretoria doodgeskiet het, het gesê hy kon met “private hulp” daarin slaag om inligting te bekom omtrent die groep mense wat ʼn week gelede voor sy huis bymekaargedrom, hom as ʼn moordenaar uitgekryt en met die dood gedreig het.

Dié inligting is glo met behulp van die verdagtes se voertuie se nommerplate bekom. Volgens Van Greunen het hy dié inligting aan die ondersoekbeampte by die Garsfontein-polisiestasie oorhandig.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die polisie, kon nie onmiddellik die inligting bevestig nie, maar het gesê indien daar inligting ontvang is sal die ondersoekbeampte dit “beslis ondersoek”.

Miller kon verder bevestig die nadoodse ondersoek- sowel as die forensiese verslae is nog uitstaande.

“In dié stadium is daar nog geen aanklagte teen die eienaar [van die eiendom] aanhangig gemaak in terme van Saterdag [5 Mei] se voorval nie. Ons sal uiteraard steun op die uitslae van die nadoodse ondersoek.”

Miller het bevestig dat daar vir die voorval op 5 Mei ʼn geregtelike doodsondersoek en ʼn saak van huisroof ondersoek word, en vir die voorval op 7 Mei, waartydens Van Greunen gedreig is, ʼn saak van intimidasie en twee van die rig van vuurwapens ondersoek word.

“Een saak van rig van ʼn vuurwapen word teen die eienaar ondersoek en die ander teen die groep.”

Maroela Media het vroeër berig Van Greunen het sy vrou en kinders ná die voorval by hul huis landuit gestuur ter wille van hul veiligheid. Van Greunen het die bewerings dat hy ʼn vuurwapen op die groep mense buite sy huis gerig het in ʼn onderhoud met eNuus ontken.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het laat die Saterdagmiddag plaasgevind. Die gesin het tuisgekom en agtergekom die voorste hek is oop, waarna hulle ʼn vreemde silwerkleurige voertuig in hul oprit naby die motorhuis opgemerk het.

Van Greunen het uit die voertuig geklim en gaan ondersoek instel. Een verdagte het verby hom gehardloop. Miller het vroeër vertel Van Greunen het probeer om die verdagte wat verby hom gehardloop het te vang, maar die verdagte het hom ontduik en terug in die huis in gehardloop. Intussen kon ʼn tweede verdagte daarin slaag om verby Van Greunen te kom en in die voertuig, met die man se gesin steeds daarin, te spring.

Dié verdagte het probeer om in trurat weg te jaag, maar het volgens Miller “gelukkig” teen die muur vasgery en kon nie verder beweeg nie. Van Greunen het na die voertuig gehardloop en daar probeer help en in die proses is die verdagte doodgeskiet. Intussen het die tweede verdagte in die boosdoeners se wegkommotor gespring en herhaaldelik teen die gesin se voertuig, wat die oprit versper het met die gesin steeds daarin, vasgery.

Die verdagte kon nie daarin slaag om by die oprit uit te ry nie. Hy het Van Greunen weer probeer aanval en Van Greunen het homself weer verdedig. Die tweede verdagte is in die proses ook doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ella

Hoekom, in vadersnaam, plaas julle die inligting? Die man is reeds n teiken en sy mense is landuit. Sy lewe is in gevaar. Ek sien gisteraand op TV nuus die kameras in die hof is heeltyd op die arme Mev Botha, weduwee van die treindrywer wat vermoor is, terwyl sy sukkel om kalm te bly met die uitspraak. Daarna moes sy nog kommentaar lewer. Haar smart is duidelik vir almal. Waar is die media se menslikheid en simpatie? Wat my verder opgeval het: die moordenaars van Mnr Botha se gesigte is nooit vertoon selfs nadat hulle skuldig bevind is. Wat… Lees meer »

pieter

Hoekom word die huiseienaar geterroriseer deur kriminele elemente hy betaal belasting hoekom doen die polisie nie hulle werk nie.

Afrikaanse Knaap

Die vuurwapen lisensie wet is duidelik, as die aanvan gaan gebeur of besig is om te gebeur en jy is oortuig daarvan dat ‘n mens se lewe in gevaar is, mag jy skiet.
Hierdie man het reg opgetree in my opinie gebasseer op die storie.

Hanna

Self verdediging. Saak gesluit! Dis absoluut duidelik.

@ REGSMANNE

Nou wat is verkeerd daarmee as jy ‘n GROEP opstandige dreigende mense wat jou wil kom doodmaak en jou huis wil kom afbrand met ‘n wapen te dreig? Al ken jy die vuurwapenwet, WAT MOET JY DOEN as ‘n groep mense buite jou huis kom versamel en jou en jou gesin met die dood dreig? Ek verstaan jy kan nie jou vuurwapen net op iemand rig nie, maar hoekom is dit reg dat hierdie mense jou kan DREIG met die dood en jy mag nie terugveg of eers hulle net WAARSKU met jou wapen nie???? KOM REGSGELEERDES, julle het mos… Lees meer »