PTA-munisipaliteit ontken R15 m. vir wegneemetes

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Tshwane-metro in Pretoria het mediaberigte dat daar nagenoeg R15 miljoen in een maand aan wegneemetes spandeer is vir personeellede, ontken.

“Die bewerings is van alle waarheid ontbloot, kwaadwillig en word doelbewus versprei om die bestuur van die stad te diskrediteer en die publiek te mislei,” het Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, in ‘n verklaring gesê.

The Star het Woensdag berig die wegneemetes was vir personeel wat oortyd gewerk het. Volgens Bokaba is die R15 miljoen oor ʼn tydperk van drie jaar begroot en is dit nie ʼn maandelikse uitgawe nie. “Die werklike onkostes van Augustus 2013 tot op hede is R4 308 656. Die driejaar-tender van R15 miljoen is vir Augustus 2013 tot Julie 2016.”

Bokaba het gesê die wegneemetes is kospakkies, wat saamgestel is uit “nie-bederfbare produkte” wat in grootmaat aangekoop word. Hy het gesê die kospakkies word slegs uitgereik indien ‘n werknemer, wat op bystand is, vir langer as vier uur uitgeroep word en indien die werknemer in die tyd nie ʼn maaltyd gehad het nie. Dit sluit onder meer tegnici in wat tydens kragonderbrekings uitgeroep word.

Hy het gesê die verskaffing van kospakkies aan tegnici is deel van beleid, wat ontstaan het uit onderhandelinge tussen die werkgewer en vakbonde.

Volgens The Star se berig het die stad se tenderstatistiek vir Augustus verlede jaar, wat Vrydag tydens die munisipaliteit se portefeuljevergadering oor openbare rekeninge ter tafel gelê is, dié bedrag wat op die kos spandeer is, bevestig. Vrae het ontstaan oor hoeveel mense oortyd moet werk om so baie geld in een maand aan kos te spandeer, watter soort werk die personeel doen, en watter tipe kos aan hulle voorsien is.

Die tenderstatistiek het gewys dat vyf kontrakteurs in 2012 die kontrak gekry het om R15 miljoen se bystandkospakkies voor te berei en af te lewer. Lede van die portefeuljekomitee verwag amptelike antwoorde op hul vrae wanneer hulle weer in Januarie vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

charmaine ·

Dit gaan seker huistoe om die ander spul te voer wat soos wolwe sit en wag.

Gerhard Bezuidenhout ·

Inderdaad gaan n groot deel van die kos na hul huise toe. Spul termiete wat alles verwoes.

Sandy ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie.Natuurlik sal hulle alles ontken en dan dink hulle ons is so dom om hulle te glo.Ons het al te veel gesien en gehoor…Altyd ‘n verskoning

Kellies ·

Hulle se Aug 2013 Se rek was R4 308 656. Teen R50 per kospakkie gee dit vir jou 86173 kospakkies. Dit beteken 86173 persone het oortyd gewerk in n tydperk van 30 dae. Dit beteken 2872 mense het elke dag ten minste 4 ure oortyd gewerk. Dit beteken elke dag is 11488 uur oortyd gewerk. Ek wonder waaraan want onthou hierdie 2872 mense het ook hulle gewone 8 ure n dag gewerk wat 22976 ure maak. Sjoe. lekker gesteel weer????

Elizabeth ·

Kellies – dis nou goed uitgewerk en ek hoop die wat die klomp gaan aanvat het ook hul syfers mooi reg! Hierdie is wraggies ‘n skande! Ek is al SO skaam oor al die nonsens in SA, vuisgevegte in die parlement; “dames” wat in die parlement middelvinger wys vir opposisiepartylede; Zuma se dinge, dinge soos hierdie – oeggg, die lys is laaank.

Dries ·

Kellies, gaan lees weer die berig dan sal jy sien dit sê “Die werklike onkostes van Augustus 2013 tot op hede is R4 308 656″……..nie net vir Aug 2013 nie.!!!

Ek stem egter saam dat dit ‘n onnodige vermorsing van geld is…….die flippen goed oorvreet hulle, daarom is alles in die toestand waarin dit is !!

Wil weet ·

Die R4308656.00 is nogsteeds m… baie! Nogsteeds onnodige geld wat gemors word, waarvoor ek so hard werk!!!!

Annatjie ·

Genadede ons!!!!! Hoe gebeur sulke dinge? Klink my die lewe is ‘n LIED by die Munisipaliteit!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.