Pta-oorstromings ergste in jare

Meer as 800 gesinne in Mamelodi is deur die oorstromings geraak (Foto: Verskaf)

Honderde mense word tans in skuilings in Mamelodi in die ooste van Pretoria gehuisves nadat hulle dakloos gelaat is weens die afgelope naweek se oorstromings. Daar word beraam dat die skade weens die oorstromings self erger is as dié in 2019.

Vloedwater het verlede naweek soos riviere in die strate van dele van Pretoria gevloei. Inwoners moes magteloos staan en toekyk hoe die water in hul huise stroom en hul besittings en klere in die water dryf.

Volgens Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings van die Stad Tshwane, is meer as 800 families in Mamelodi deur die oorstromings geraak.

Meer as 450 inwoners word tans in die Nellmapius-gemeenskapsentrum in Mamelodi gehuisves. Daar is ook sowat 160 mense in ’n skuiling in Mamelodi-Wes en sowat 60 in ’n kerk in dié woongebied.

Gerhard Jacobs van die Every Nation Tshwane- gemeente sê die departement van maatskaplike ontwikkeling het met verskeie kerke, welwillendheidsorganisasies, gemeenskapsleiers en -lede hande gevat om hierdie inwoners se nood te verlig. Every Nation Tshwane is onder meer ook betrokke by dié projek.

Volgens Jacobs is die grootste nood matrasse, kos en klere. Die kinders kort veral skoolklere.

“Alles wat ingesamel word, word na ’n sentrale punt gestuur waarna dit dan onder die onderskeie skuilings versprei sal word,” sê Jacobs.

Jacobs sê beradingsdienste is ook ’n groot behoefte omdat van die inwoners vir ’n tweede keer hul huise weens oorstromings verloor het.

Van die mense is tydens die groot oorstromings in 2019 ook dakloos gelaat en moes meer as drie maande in skuilings woon.

“Vanjaar se vloedwater was egter hoër as in 2019 en meer huise het oorstroom.”

Omdat die inwoners se huise onder die vloedlyn gebou is, sê Tau sy departement werk daaraan om ʼn blywende oplossing vir hierdie inwoners te vind. Hy het onderneem dat die stad alle geaffekteerde inwoners sal hervestig sodra grond verkry en behoorlik voorberei is.

“Die werklikheid is dat die grondverkrygingsproses ongelukkig hoogs kompleks is met begrotingsbeperkings wat dinge bemoeilik. Ek werk egter daaraan om hierdie proses te bespoedig,” sê Tau.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Dit is omrede die mense geen bywette gehoorsaam en net plak waar hulle wil,die immigrante instroming vererger ook die probleem.