Pta-Oos-kragkrisis: Toevoer in fases aangeskakel

Foto: Tshwane-metro

Tegnici van die Tshwane-metro het Dinsdagaand weer begin om die kragtoevoer na dele van die ooste van Pretoria stelselmatig aan te skakel.

Sommige inwoners moes sedert verlede Dinsdag sonder elektrisiteit oor die weg kom nadat daar omstreeks 10:00 ʼn brand by die Wapadrand-substasie uitgebreek het.

Herstelwerk aan die substasie was teen Sondag voltooi, waarna kragtoevoer na verskeie woonbuurte herstel is.

Tegniese probleme en kabeldiefstal het egter verhoed dat die kragtoevoer teen Maandagaand, soos beplan was, na al die woonbuurte herstel is.

Darryl Moss, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, het laat Dinsdagaand gesê die gebiede waarheen die toevoer reeds herstel is, is Faerie Glen, Olympus, Wapadrand en dele van Silver Lakes. “Ons is tans besig om die toevoer na Equestria en ander dele van Silver Lakes te herstel.”

Moss het gesê die kabeldiefstal het ook hul planne in die wiele gery om alle kragtoevoer teen Dinsdagaand te herstel. “Die span is besig om die kabel te lê. Die toevoer na Shere en omliggende areas sal na verwagting teen 21:00 Woensdagaand herstel wees.”

Moss het weereens om verskoning gevra aan inwoners vir die afgelope week se ongerief. “Sommige inwoners het vrywillig aangebied om die gebiede wat geraak word te patrolleer ten einde verdere kabeldiefstal te verhoed.”

Brandbestryders is verlede week onmiddellik na die toneel ontbied toe die Wapadrand-substasie begin brand het. Die vlamme is geblus, maar daar is later bevestig dat die substasie heeltemal in die brand verwoes is en oorgebou moes word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

willie ·

Voordat handel is koper en alimunium skroot nie behoorlik vas gevat word nie sal hierdie kabeldiefstal nie gestop word nie! Duidelik is daar nie ñ wil deur die owerhede om dit te stop nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.