Pta-ouers ‘gebroke’ ná seun se ‘koelbloedige moord’

Richard Wood (Foto: Verskaf)

ʼn Pretoriase vrou sê sy is “gebroke” oor die dood van haar 26-jarige seun nadat hy glo tydens ʼn rusie deur sy vriende erg aangerand, vir dood agtergelaat en later in die hospitaal oorlede is.

ʼn Veiligheidswag van ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy in Pretoria het Richard Wood op 5 November verlede jaar op die sypaadjie opgemerk waar hy erg beseer gelê het nadat hy glo deur vriende bygedam is.

Richard is ʼn week later, op 13 November, in die hospitaal dood nadat hy ʼn breinoperasie ondergaan het in ʼn poging om sy lewe te red.

Maryna, Richard se ma, het Vrydag aan Maroela Media vertel twee verdagtes, Christopher van der Westhuizen en Marchant Bredell, is vandeesweek ná ʼn ondersoek in hegtenis geneem en het Donderdag op aanklag van moord in die hof verskyn.

Maryna sê dít volg nadat sy op 7 November verlede jaar ʼn boodskap van Christopher, wat glo saam met Richard gewoon en gewerk het, gekry het waarin hy gevra het of sy moontlik weet waar Richard homself bevind. Volgens Christopher het Richard nié die Sondagaand op 6 November huis toe gekom nie en ook nie die Maandagoggend vir werk opgedaag nie.

“My man het dit afgemaak as jongmensstreke,” vertel sy. “Ons het ʼn paar dae voorheen ʼn argument met Richard gehad oor onder meer keuses en hy het besluit om tydelik by Christopher te gaan intrek. Ons het aan Christopher gesê dat hy nie sou huis toe kom nie omdat hy waarskynlik nog vir ons kwaad is.”

Nadat sy nie Maandag van Richard gehoor het nie, het sy die aand na Christopher se woonstel gery om ondersoek in te stel. Maryna sê sy wou Christopher pols oor waarom Richard van die huis sou wegloop.

“Ek het hom gevra of hulle baklei het, waarna hy nee gesê het. Hy het gesê hulle het die Sondagaand gaan snoeker speel by ʼn kuierplek in Pretoria, maar dat daar geen rede is waarom Richard sou wegloop nie. Ek was só ontsteld dat ek na die polisie gery het om uit te vind hoe ek te werk moet gaan om ʼn vermistepersoon-saak aan te gee. Die polisie het gesê ek hoef nie langer te wag as ek onraad vermoed nie, waarna ek huis toe is, ʼn foto gaan haal en die saak aangegee het.”

Maryna sê familielede en Facebook-groepe het ʼn inligtingstuk op Facebook versprei waarop Richard se foto is en wat onder meer gevra het vir enigiemand met meer inligting oor sy verdwyning om vorendag te kom. Sy sê iemand met ʼn onbekende nommer het haar die Dinsdag nadat hy vermis geraak het, gebel.

“Dit was ʼn student gewees wat wou weet wat my verwantskap met hom is. Ek het gesê ek is Richard se ma, waarna hy gesê het hy woon naby die omgewing waar daar Sondagaand ʼn voorval was waarby iemand wat soos Richard lyk, betrokke was. Die student het gesê daar was ambulanse agter sy huis en hy en sy pa het ondersoek ingestel. Volgens hom is ʼn jong man op ʼn draagbaar gelaai en bloed het uit sy ore gestroom. Hy het gevra of hy kon kyk of dit moontlik iemand is wat hy ken. Hy het ons gebel en gesê hy kon nie die man gesig sien nie, maar dat ons met die hospitaal moet opvolg om te sien of dit moontlik hy is,” sê sy.

Die student het aan Maryna gesê na watter hospitaal die man geneem is, waarna sy iemand ontbied het om te gaan kyk of dit wel Richard is. “Ek kon nie self by die hospitaal uitkom nie, en ek het dus vir Christopher gebel om te hoor of hy nie kan gaan kyk of dit wel Richard in die hospitaal is nie. Hy het gesê hy sal sy meisie vra, waarna sy gegaan en bevestig het dat dit wel Richard was.”

Richard was steeds in ʼn koma, het breinskade opgedoen en ook bloeding op die brein gehad. Hy was teen daardie tyd al in die teater om die drukking op sy brein te probeer verlig, maar sy lewe was nie in onmiddellike gevaar nie.

Sy sê Richard se bloeddruk het later daardie week drasties begin daal, waarna die hospitaal haar en haar man in kennis gestel het om dadelik na die hospitaal te gaan. “Die mediese personeel kon hom nie stabiliseer nie. Sy bloeddruk het net bly val en hy het baie bleek gelyk. Ek het gedink hy is dalk reeds dood, maar die dokters het sowat ʼn uur later gesê hulle kon hom nie red nie. My man het net gesê: ‘Boeta, jy moet nou gaan rus.’”

Maryna sê in dié tyd het die speurder reeds ver gevorder met die ondersoek en Christopher en Marchant as die hoofverdagtes beskou, maar hy wou niemand in hegtenis neem alvorens hy ʼn “waterdigte” saak het nie.

“Hulle albei het heeltyd ontken dat hulle enigiets van die aanranding weet. Hulle wou aanvanklik eers vir sy begrafnis betaal, maar ons het selfs meer onraad begin vermoed toe hulle ons heeltyd in ander rigtings probeer stuur het. Sodra ons een uitweg oorweeg het, sou hulle sê ons moet liewer iets anders probeer,” sê sy.

Marchant is op 23 Januarie in hegtenis geneem en Christopher ʼn dag later. Albei het Donderdag in die hof verskyn op aanklag van moord.

“Ons is gebroke. Ons is totaal en al stukkend. Ek kan nie vir jou die emosies beskryf wat ek voel nie; daar is nie woorde om dit te beskryf nie. Ons ken Christopher al sedert hy ʼn babatjie is, ek is nog al die jare vriende met sy ma. Sy huil heeltyd en sê sy is jammer, maar wat kan ek sê of doen? Dis nie haar skuld nie. Ek kan nie eens kwaad wees vir haar nie. Hy is aangerand en vir dood daar agtergelaat. Hy is koelbloedig vermoor. Die skuldiges het my kind soos ʼn dier op die sypaadjie gelos sodat hy kan doodbloei.

“Toe die twee mans gister in die hof verskyn het en uit die selle met die trappies na bo gestap kom, het nie een van hulle my in die oë gekyk nie. Hulle het al die pad geweet waardeur my kind gesit is, dat hy in die koue daar gelos is nadat hy vermink is – dit alles weens ʼn rusie,” sê sy.

Kapt. Rebecca Phatlane, woordvoerder van die polisie in Pretoria-Noord, het aan Maroela Media bevestig dat albei mans Donderdag in die hof verskyn het.

Phatlane sê Bredell gaan vir eers in polisieaanhouding in die Kgosi Mampuru-gevangenis bly totdat hy ʼn regsverteenwoordiger aangestel het.

Sy sê Van der Westhuizen wou Donderdag om borgtog aansoek doen, maar daar was aanvanklik ʼn administratiewe fout op sy borgtogaansoek. Van der Westhuizen is vanoggend op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Phatlane sê albei mans moet weer op 1 Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Ada ·

Die mense word mal –
Ek kry die ouers so so jammer!!
Sterkte vorentoe.
Ek hoop die skuldiges gaan vir ‘n laaang tyd tronk toe want hulle verdien dit.

Skokkend ·

Wat se vriende is dit? Suid Afrika se mense het wreed en gevoellloos en harteloos geword, mens knip nie eers meer ‘n oog as jy van NOG ‘n moord of NOG ‘n aanranding hoor nie. MAG HIERDIE SOGENAAMDE VRIENDE gevang word en lewenslank toegesluit word .. SO jammer vir julle verskriklike groot verlies . RIV.

KG ·

Hierdie is so bitter onnodig. Ek is so jammer vir sy ouers…..geweld het nog nooit enige probleme opgelos nie…..leer mense nie???

Boere meisie ·

Dit is barbaars, die misbaksels moet swaar gestraf word.
Sterkte aan die oorledene se ouers.

malan ·

N mens wonder of die vriende nie dwelmmiddels ingehad het nie. n Kenner van selfverdediging het vanoggend oor die radio gese’ dwelms kan iemand binne 2 minute heeltemal verander, van n vriendelike persoon na n aggressiewe monster. Baie sterkte aan die ouers.

Tannie ·

Ek is Richard se pa sê tannie. Ek het nie woorde om te sê hoe ons as familie voel oor hierdie verskriklike tragedie nie. Ons harte gaan uit na sy ouers, broer en gesin, tannie en haar gesin en sy bejaarde ouma

Johan ·

Wat n hartseer omloop van sake. Op so slegte gevoel by die huis weg (as jy kinders het, weet jy dit gebeur, hulle verstaan nie aldag dat mens net vir hulle die beste wil hê nie), hy het toe gedink hy gaan by vriende bly en afkoel en juis daarheen waar hy ontvlug het, deur hul hande is hy vermoor. Baie sterkte as die ouers!!

Daan ·

Die mense wat hulle lewe en toekoms so weggooi .Dit is omrede ons in n tyd leef van gehoorsame ouers en streng kinders die kinders moet weer dissipline kry en leer daar gaan nagevolge wees vir jou optrede.

Frans C ·

Laat ek ‘n knuppel in die hoenderhok gooi.Vandat lyfstraf afgeskaf is lyk dit vir my neem geweldadige optrede alhoemeer toe onder veral jong mense.

Ian Smith ·

Dis maklik om van ‘n afstand te oordeel. Dit is duidelik dat Richard deur ‘n moeilike tyd gegaan het. Daar was definitief drank by betrokke. Niemand weet hoekom die bakleiery begin het nie, enige een van die drie kon dit begin het. Een goeie vuishou, maat slaan agteroor en kraak sy kop op die sypaadjie. Dis vir die gereg om te bepaal wie skuldig is en wat die straf moet wees. Wat absoluut walglik is, is die optrede van die twee verdagtes na die voorval. Hulle kry geen simpatie van my nie, en dit lyk my dis die algemene mening van ander lesers ook.

ek vra jou ·

Vriende?? Die Engelse gesegde “with friends like these who need enemies?” kom in my gedagtes op

Marianne ·

Ek wens Christopher en Marchant kom mrt die waarheid uit…. sit openlik, neem ‘n video en verduidelik wat daardie aand tussen julle manne gebeur het, Richard se ouers en familie verdien die waarheid.
Mag God hierdie en elke familie wat deur soortgelyke hel gaan dra, krag en genade gee.
Mag julle afsluiting kry, die hartseer, verlange en self verwyd gaan NOOIT weg nie.

Anoniem ·

Ons was almal jonk en weet hoe gou kan geskille ontstaan tussen vriende en hoe gou word humeure verloor en dan begin n vuisgeveg. Ongelukkig het baie van ons gesondheids probleme waarvan ander en selfs ons nie bewus is nie soos wat met my vriend gebeur het wat n breek gehad het en toe die ou hom op die maag slaan toe is hy dood van daai een hou en daarom se ek as jy in n rusie kom loop liewers weg moet asb nie betrokke raak dit bring net speit en hartseer

Cecilia ·

Aan sy beserings blyk dit dit was nie n gewone vuisgeveg nie. Een teen meer en hoekom het hulle hom net so gelos? En dan die Ma mislei. Dis tragies beslis maar hierdie lafaards van vriende moet gestraf word. Mens waarsku jou kinders teen vreemdes maar kyk wat doen vriende aan mekaar.

Fantabulous ·

My gebede is met die ouers van die seun wat oorlede is sowel as die aangeklaagdes. As ‘n ouer probeer jy jou bes om jou kinders te beskerm en goed groot te maak. Kinders word groot en neem hul eie besluite al stem ouers nie saam met hul besluite nie bly jy oneindig lief vir jou kind. Na die voorval kan die aangeklaagdes ten minste hulp ontbied het al was dit “anonamous”, die hele gedoente met die jong man se afsterwe kon verhoed gewees het. Dankie aan die student wat die ouers ingelig het dat hul seun moontlik in die hospitaal is. Sterkte aan almal betrokke en ek glo steeds as iemand ‘n ander se lewe neem moet hul geen borgtog kry nie. NB. Dwelms word altyd as ‘n verskoning gebruik – Nee wat dit was ook hul keuse as hul wel dit gebruik het dus moet hul die konsekwensies dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.