Pta-pad onbepaald gesluit oor sinkgatdrama

Die sinkgat op die M24. Foto: Via @tWeatherSA/Twitter

Die proses om ʼn sinkgat in ʼn pad in Centurion te herstel, een waarin ʼn motor beland het, kan moontlik eersdaags begin nadat daar vasgestel is wie moet pa staan vir die koste daarvan.

Maroela Media het Vrydag berig die sinkgat het Donderdag deur die loop van die aand op die M24 (Stefanus Schoeman)-pad tussen die R55 en Valhalla naby Erasmia ingeval ná swaar reënval oor Pretoria.

Mpho Borodi (30), ʼn weermaglid, was die oggend omstreeks 04:25 op pad werk toe op dié pad. Hy het gesê dit was donker en hy het nie die gat gesien nie en met sy motor in die gat beland. Hy was ongedeerd en kon self daarin slaag om uit sy motor en die sinkgat te kom.

Ina Strijdom, die DA-raadslid van die wyk, het toe aan Maroela Media gesê die pad gaan vir ʼn onbepaalde tydperk vir verkeer gesluit wees totdat die sinkgat heeltemal herstel is. Kenners, senior amptenare en ʼn geoloog was op die toneel om die omvang van die probleem en die onmiddellike stappe vas te stel. Daar moes egter eers vasgestel word wie verantwoordelik gaan wees vir die koste van die herstelproses.

“Die pad is in die 1970’s gebou en is nooit gepromulgeer nie. Die stuk pad behoort nie aan die Stad Tshwane nie en kan gevolglik nie deur die stadsraad herstel word nie,” het Strijdom gesê. Daar is aanvanklik vermoed dat dié pad die verantwoordelikheid van die Gautengse departement van paaie en vervoer is. Die departement het egter vandeesweek aan Maroela Media bevestig dit val nie onder hulle beheer nie.

Fred Nel, DA-woordvoerder oor paaie en vervoer in die Gautengse wetgewer, het intussen ʼn navraag aan Ismail Vadi, Gautengse LUR vir vervoer, gerig om vas te stel aan wie die pad behoort.

“Die LUR se kantoor het aan ons bevestig die pad behoort nie aan die departement van vervoer nie, maar wel aan die departement van openbare werke omdat die weermagbasis daar gebou is,” het Nel Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Ons is nou besig om druk te plaas op dié departement om te erken dit is hulle pad en verantwoording te neem en die sinkgat te herstel.”

Strijdom het gewaarsku dat die pad onbepaald gesluit gaan wees en motoriste aangeraai om van Wierdaweg en Hendrik Potgieterweg gebruik te maak. “Die pad is gelukkig nie ʼn hoofroete wat baie verkeer dra nie en word meestal deur die weermag gebruik,” het sy gesê.

Die sinkgat op die M24. Foto: Via @tWeatherSA/Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann cb ·

Gee gerus apartheid die skuld – ons skouers is breed!

Peet Schabort ·

Laat my dink aan die liedjie ‘Dis nie myne nie, dis nie joune nie . . . ‘ met natuurlik aanpassings op die res. Tipies ‘n SA-attitude om om te kyk na die skuldige agter jou. Was dit Israel sou die pad lankal herstel gewees het, maar dis nie Israel . . .

Toeskouer ·

Die pad is ‘n deurgang roete tussen die R55 en Valhalla en Voortrekkerhoogte. As ek dit reg het is dit die M24 wat dit dan verseker nie Departement Openbare Werke se pad maak nie. Op dieselfde pad is daar ook ‘n ou vullishoop wat op ‘n stadium swaar verkeer op die pad geplaas het agv Metro dienste om vullis te verwyder. Dit is maar interessant om te sien hoe die DA wegskram van hulle verantwoordelikheid want dit is ‘n blatante leun dat die pad hoofsaaklik deur die Weermag gebruik word. As die DA nou reeds wegskram van klein dingetjies wonder ek hoe wil hulle die land bestuur. Dan gaan hulle seker ook maar vir 25 jaar die ANC verkwalik soos wat die ANC nog steeds apartheid verkwalik. Die DA Metro moet hulle verantwoordelikheid opneem want hulle het straat ligte op daai pad laat installeer. So as dit nie hulle pad is nie dan is dit mos ‘n ongemagtigde uitgawe uit die Metro se koffers? Ek al gehoo DA sê dit was vir beveiliging van ‘n woongebied. Maar jy mag mos nie Metro se geld gebruik nie want dit is nie deel van jou verantwoordelikheid nie; Of miskien was dit deel van die verantwoordelikheid hulle soek nou net ‘n “loophole” om die koste van ‘n sinkgat vry te spring. Sal interessant wees om te hoor hoe die DA LUR hierdie een gaan verduidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.