Pta-paramedikus oorleef drie aanvalle

Kobus Bester, Woensdag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Kobus Bester, Woensdag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die noodbandjie om sy arm met inligting op van die ambulansdiens wat hy besit, het daartoe bygedra om ʼn Pretoriase paramedikus se lewe te red, nadat mans wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, hom tydens ʼn rooftog erg aangerand het.

Kobus Bester (45), paramedikus en eienaar van Best Care-ambulansdienste in Pretoria, is Dinsdagaand op pad na sy huis in die weste van die stad aangeval en beroof, nadat ʼn wit Volkswagen Golf met blou ligte hom van die pad af gedwing het.

Xander Loubser, Bester se seun en woordvoerder van die familie-onderneming, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy pa het in sy eie bakkie, ʼn nuwe Volkswagen Amarok, gery toe die voorval plaasgevind het.

“My pa het ʼn prokureursvriend in Hartbeespoort gaan besoek en was op pad terug na sy huis in Mountain View toe die Golf hom in Van der Hoffweg van die pad af getrek het,” het Loubser gesê.

Loubser het gesê twee mans het uit die motor geklim, Bester genader en vir sy rybewys gevra. “Toe my pa die lisensie uit sy beursie uithaal, het hulle sy deur oopgemaak, hom uit die bakkie gepluk en met ʼn mes gesteek, geslaan en geskop.”

Bester kon daarin slaag om ten spyte van steekwonde aan sy kop en linkerarm, die twee aanvallers af te weer. “My pa ry altyd met ʼn spesiale mes rond wat paramedici op ongelukstonele gebruik om sitplekgordels mee te sny of om ruite te breek. Hy het die mes in die hande gekry en hulle met die hef bygedam.”

Kobus Bester kort nadat hy opgeneem is in die hospitaal. Foto: Verskaf

Kobus Bester kort nadat hy opgeneem is in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die aanvallers het slegs Bester se beursie en selfoon gegryp voordat hulle van die toneel weggejaag het.

ʼn Motoris het die bebloede Bester langs die pad aangetref en met behulp van sy Best Care-noodbandjie hulp ontbied. Best Care het hom na die Eugene Marais hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid opgeneem is. Buiten die twee steekwonde, het hy ook ʼn snywond onder sy linkeroog opgedoen en verskeie kneusplekke aan sy bolyf, waar hy geskop en geslaan is.

“Sy toestand is darem bevredigend. Hy is steeds in die waakeenheid vir observasie en word vir pyn behandel. Hy het baie seer,” het Loubser bygevoeg.

Hy het gesê dit was die derde keer wat sy pa onder rowers deurgeloop het en elke keer het hy hulle afgeweer. Bester is in 2011 in sy arm met ʼn mes gesteek toe hy vermeende inbrekers op sy erf verjaag het. In 2008 is hy deur rowers, wat sy bakkie by sy huis wou steel, in sy middellyf geskiet, enkele ure voordat hy en sy vrou Elize, wat ook ʼn paramedikus is, hul huweliksbeloftes sou hernieu nadat hulle 12 jaar getroud was.

Volgens Loubser ondersoek die Hercules-polisie die voorval. Bester kan onthou dat sy aanvallers glimbaadjies aangehad en hulself só as polisiebeamptes voorgedoen het. Loubser het bygevoeg die moontlikheid bestaan dat die aanvallers die bakkie wou kaap, maar hul pogings laat vaar het toe Bester hom verset het.

Beamptes van die polisie se honde-eenheid het glo later die aand die verdagtes se voertuig in die omgewing sien rondry, maar dit ná ʼn jaagtog in Atteridgeville verloor.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn saak is nog nie by die polisie aanhangig gemaak nie. “Die polisie was in verbinding met die slagoffer se vrou om ʼn verklaring te kry sodat die dossier oopgemaak kan word, aangesien die man nog in die hospitaal is. Sodra alles afgehandel is, sal meer inligting bekendgemaak word, asook watter sake die polisie ondersoek,” het Selepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gesiggie ·

Ek het net nou die dag n watsup van iemand gekry… wat n mens waarsku oor die nuwe trick van die skelms, hul doen hulself voor as polisie manne, en trek jou dan van die pad af, roof jou en hier lees ek die berig.Rooftogte is deesdae te maklik… nou hoe maak jy as jy n polisie kar gewaar met liget wat jou aftrek”’ Ry jy of stop Jy?? hoe nou gemaak… hoe sal ons weet regte Polisie manne of nie”’ en hoekom iemand wat net in n voertuig ry, wil beroof? Kobus jy het omtrent al deur aanvallers getakel;; Ek hoop dat jy gou sal herstel en dat so iets nie weer op jou pad sal kom,. Ons land is n gemors… en geen stelsel sal dit kan regstel.

Anna ·

Nee, jy moet glad nie stilhou nie! Sit jou noodflikkers aan en ry rustig tot die naaste polisiestasie. Hulle kan dit nie teen jou hou nie!
‘n Polisiewa het ook eendag vir my ligte geflits en wou gehad het ek moes stop. Dit was in so stil padjie langs ‘n veld. Ek het met my hand by die venster uit beduie dat ek hulle sien en dat hulle moet saamry. Toe ek by ‘n veilige plek kom, waar baie karre en ‘n hoofpad is en ek stop, toe sê hulle vir my: “Oh ons het gesien jy is ‘n vrou en het gewonder of jy nie vir hierdie vrou ‘n ‘lift’ wil gee nie”. Ek glo tot vandag toe nog dit was ‘n liegstorie. Wees maar versigtig!

Karma ·

Anna, jy RY tot by die naaste polisiestasie of plek waar daar baie mense of aktiwiteit is. Ek WEIER om vir óf enige van hierdie ongemerkte verkeersvoertuie òf ‘n bloulig-kavalkade te stop/van die pad af te trek of links van die geel lyn te ry (in die Wes-Kaap – dalk landwyd? – is dit ‘n oortreding in elk geval om links van die geel lyn te bestuur). En word ek deur ‘n beampte in ‘n gemerkte voertuig afgetrek, maak ek my seker my deure is gesluit en my venster op die minimum skrefie oop. Ek vra onmiddellik kaart-identifikasie en naam/van en ek haal ook nie my voertuig uit rat nie; reg om weg te ry as dit nodig is.

Alida Bokkie ·

Wys jou hoeveel van hulle loop tussen die publiek rond.. Nee ek stop vir niemand hul kan my volg tot by die polisie stasie. Glo hul sal gou opgespoor en gevang word Baie stetkte aan jou en jou gesin. Gou gesond word

Liewe Heksie ·

Kobus so baie sterkte vir jou en jou familie Ja jy het my (my oorlede man) met wie jy vriende was in n nood situasie gehelp baie dankbaar vir mense soos julle Mag jy gou gesond word en help om die gespuis vas te trek

Anoniem ·

Kobus jy is n beter mens as ek . Ek sou hulle gelem het en nie die hef gebruik nie. Alle sterkte en word gou gesond.

Suzie ·

Die beste is om glad nie stil te hou nie..ry na iemand wat jou behulpsaam kan wees net nie die Polisie nie…Sterkte Kobus

DPJ ·

Charlotte die ware polisie mag nie op jou skiet as jy nie ‘n bedreiging vir hulle inhou nie. Sou hulle skiet is hulle nie ware polisie nie.

Theresa B ·

Is dit nie vreeslik nie??!! Hoe moet mens lewe vandag? Hoe moet jy jou werk doen vandag? Dinge raak nou te veel…………………………

johan ·

Ek stop vir geen ongemerkte voertuig nie al het dit ‘n blou lig,as dit gemerk is is dit nog ‘n moontlikheid dat dit ook gesteel kan wees,ry ek tot by die naaste SAP

W ·

As n gemerkte polisie voertuig se bestuurder jou beveel om af te trek of stil te hou en jy doen dit nie is dit n bylae een misdryf en hulle mag enige aksie of reaksie gebruik om jou te laat stop. Self op jou skiet. Dit is ongelukkig hoe dit is. Maar n ongemerkte voertuig se bestuurder mag slegs vir jou bevele gee in n wettige padblokkade of by stop beheer situasie.

des ·

Dit is nie ‘n bylaag een misdryf nie. Gaan maar die wetsboeke na. Bylae een misdrywe is bv. Moord, verkragting ens. Hulle kan sleg op jou skiet as jy nie stilhou en op hulle skiet en/of as hulle jou probeer aftrek vir ‘n bylaag een misdryf wat jy gepleeg het nie net om jou lisensie te sien of enige pad oortreding nie.

Jan maak n Plan ·

Weereens se ek dat SAPS onder geen omstandighede vertrou kan word nie. Ek stop glad nie, ek ry eenvoudig tot by die naaste polisie stasie en dan kan hulle hule vrae vra. En probeer op my skiet, ry altyd genoeg 357 patrone saam.

Ben (:-) ·

stem jou – doen ook so – hulle kan in elk geval nie mik nie – ek weet…

Deloris ·

Ja hoe weet mens of hulle nou regtig SAP is, en aangesien die glipbaadjies so maklik bekombaar is….. dit maak ons vrees nog groter.. Kan daar nie ‘n streng wet inkom omtrent dit nie ???? en om nie eers te praat van die lekker blou ligte wat sommige mense op hulle voertuie sit wat vir jou wil wys gee pad …. ek is op pad … maar dis gewone registrasie nommers ek gee nie pad vir hulle nie …. Dis 99% vd tyd groot swart voertuie (wys ‘n dominerende padgebruiker) BWM X5 of X5 of Merc waarmee hulle ry…. en DIE ligte moet ook verband word.

Dee ·

Ek het een nag vanaf Durban op die N3 na Gauteng gery toe ek ‘n paar kilos verby die eerste tolhek na Van Reenen iemand met ‘n glimbaadjie sien wegkruip in die lang gras tussen die heen en weer paaie. My kar se ligte het op hom geval waar hy duidelik in lang gras weggekruip het en daar was geen kar naby nie.

Johannes Meintjes ·

Mens het nou verwag dat misdaad so voor die verkiesing en beloftes aan en van die SAPD reeds onder beheer sou wees? Maar, siende dat die kerk in SA nie in 364 jaar die moraliteit van regerings en die bevolking kon aanspreek nie, bly beide ons bevolking en ons amptenary grootliks korrup.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.