Pta-peuter verdrink in bad

Paramedici kort na hul aankoms by die hospitaal. Foto: Emer-G-Med

Paramedici kort na hul aankoms by die hospitaal. Foto: Emer-G-Med

Paramedici het Dinsdagmiddag verbete geveg om die lewe van ʼn kind, vermoedelik 18 maande oud, te red nadat hy in ʼn bad in ʼn huis in die ooste van Pretoria verdrink het.

Braam Kruger, woordvoerder van Emer-G-Med, het Woensdag aan Maroela Media gesê paramedici is omstreeks 16:40 na die huis in Faerie Glen ontbied.

“Met ons aankoms het die seuntjie geen tekens van lewe getoon nie. Paramedici van Netcare 911 sowel as Emer-G-Med het dadelik begin noodhulp toepas. Hulle het vir ʼn geruime tyd verbete geveg om hom by te bring en het uiteindelik ʼn flou pols gevind,” het Kruger gesê.

Die seuntjie is na ʼn hospitaal gehaas terwyl paramedici steeds gepoog het om hom aan die lewe te hou. “Hy is ongelukkig kort ná sy aankoms by die hospitaal dood. Die spanne het regtig hard gewerk en die uitkoms is moeilik om te aanvaar,” het hy gesê.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê paramedici het sowat ʼn uur lank probeer om die kind se lewe red.

Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn kleuter is by die Unitas-hospitaal dood verklaar. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Volgens ʼn betroubare bron was ʼn vrou, vermoedelik die kind se ma, histeries. Daar word vermoed dat sy die kind gebad het en etlike sekondes alleen gelaat het om sy klere te gaan kry, toe hy vermoedelik gegly en onder die water beland het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

snuffels ·

Baie baie hartseer…maar was die bad dan so vol water dat die kind nie “etlike sekondes” kon bo bly nie! Ag nee die arme kind, ons gebede is saam jou

Deon Bruyns ·

Ai, dis absoluut vreeslik tragies.
Ek sal in my gebede dink aan hierdie gesin, en dat God aan hulle berusting sal gee.
Hoe moeilik dit ook mag wees, NIKS gebeur sonder dat God dit toelaat nie. Dit is deel van Sy plan, al verstaan ons dit glad nie.

Annika ·

Dit vat net 3cm water om in te verdrink!! Moenie oordeel nie asb mense!!! Sterkte aan die mamma en pappa xxx

DPJ ·

Mama en papa sterkte met die verwerking an die kind se afsterwe. Ons sien nou in ‘n spieël en ‘n raaisel.
Mag God julle ryklik vertroos en bemoedig.
Liefde en seën wense vir mama, papa en ander familie

Kallie ·

Dit is baie eina om n knd te verloor my hart gaan uit na di ouers en familie.Ons sal julle in ons gebede hou,hou net baie styf aan Jesus vas as dit ni vir Hom was nie sou ons nie di mas kon opkom ni.Sterkte

Besige ma ·

Ek het dit ook al gedoen, ek glo menige besige ouer het al vinnig gehardloop om iets in die kamer te gaan haal. Sal nie weer my kind vir ‘n sekonde sonder toesig los in die bad nie. My innige simpatie aan die ouers. Baie sterkte in hierdie moeilike tyd.

Gerda ·

Ai dis so tragies ek huil sommer weer van vooraf, want my kleinseun het het die 15e Januarie die jaar 4 dae voor sy 2e verjaardag in n koi vis dammetjie verdrink, dis so traumaties sterkte vir dai mamma en almal

Liewe heksie ·

So n vreeslike ongeluk Baie Sterkte aan die ouers en die arme mamma hoe kom jy ooit oor so iets

Ricele ·

Sterkte, rerig sterkte aan die mamma, pappa & alle ander familie lede! Ek hoop dat julle tot rustagheid kom vanaand! Praat met GOD , hy’s ALMAGTIG! Hy sal jul antwoord op alle vrae wat ons nie kan nie!
Niemand verdien dit nie ! Nie eers iemand se ergste vyand nie! Dis n tagiese verlies! Maar GOD waak oor julle vanaand! Ek hou julle in my gebed vanaand!

Wat-ek-lees ·

Sterkte aan die ouers in ‘n baie moeilike tyd wat voorlê. Mag daar GEEN VERWYTE tussen julle wees want dit is die ergste wat kan gebeur. Mag hierdie gebeurtenis julle net nog nader aan mekaar bring want dan was dit nie tevergeefs.

Gesiggie ·

Ek voel bitter jammer vir die Ma… n mens dink nie altyd dat in n sekond so iets sal gebeur, maar die lewe waarsku n mens nie… dinge gebeur. En verwyte sal daar wees… Aan die Mamma Pappa en Familie… vra God vir leiding.. laat Hy jul hart versag.. en by jul staan deur die moelikke tyd. En aan die Peramedici jul goeie werk en aanhou probeer sal raak gesien word… Dit is ook nie altyd maklik vir jul, om te sien dat iemand dit nie maak. al probeer jul hoe hard.

Gesiggie ·

Gerda.. ek huil saam jou, want ek kan net dink wat jul als moet deur gaan…en vir n Ouma is so n klein seun te verloor, ek het ook n klein seun nou 8 maande oud” en ek wil nie daaraan dink wat ek sal doen in sulke omstandighede.. want hy is my hart se punt…. maar hoe kan ons ooit vrae vra.. ons sal die doel in die lewe nooit kan verstaan. Soos.. ek leen jou die kindjie klein, bewaar hom in jul hart… en weet in die tyd van afskeid, verlig ek weer jul hart..Ek sal so n hartseer nooit kan verwerk, maar God is die enigste een wat jul kan vertroos.. en aan jul die krag kan gee om aan te gaan… en diep binne in jou hart is jou kleinseun se liefde vir altyd ge anker..Sterkte aan jul .

Marina Schultz ·

Baie baie sterkte aan die ouers. My seuntjie van 14maande het in die bad geval toe hy oorbuig om met die skuim te speel, ek het op die bad se rand gesit en vir ñ sekonde net weggekyk toe dit gebeur. Ek het hom aan die voetjies uitgepluk. Het vreeslik groot geskrik, maar het besef dat ñ ongeluk vreeslik vinnig kan gebeur….

Rina du Plessis ·

Ons moet nooit oordeel nie! ‘n Ongeluk gebeur binne sekondes! Dis eers as dit met jou gebeur het, dat jy besef waardeur daardie mense gaan. Ons kleinseun het sy 2de verjaarsdag gevier, toe hy voor al die grootmense in die swembad geval het met sy motorfietsie. Sy nefie wat ook net net 2 was, het begin huil en gesê: Nuwan fietsie water! Eers na ‘n paar sekondes of dalk minute het dit tot ons deurgedring Nuwan is in die swembad. Ons dogters het hom kon uithaal en sy pa het noodhulp toegepas, terwyl hul hospitaal toe gejaag het. Die Here was genadig en het hom teruggegee, ongedeerd! Dit het voor ons almal gebeur en nie een van ons het dit gesien nie, ons was 8 grootmense met ons oë pal op die swembad, nie eers die kinders in die swembad het hom sien inval nie! Hy was geruime tyd al onder die water, het op die bodem gelê. Dit wys jou net! God se Wil is nie ons wil nie!Sterkte vir die ouers! Hou vas aan God Hy en Hy alleen kan julle vertroos en versterk!

Elize ·

Dis verskriklik. Die arme arme arme gesin. Mens het nie woorde vir so ‘n tragedie nie. Wil my nie eers indink is so ‘n situasie nie. Mag julle krag kry vir die moeilike tyd in julle lewe.

JUne ·

Dit is baie hartseer. Ons het self n peuter, en ek se altyd, hoekom nie sorg dat die klere saam geneem word na die badkamer of soos ek verkies die baba net toedraai in n handdoek en Kamer toe neem om aan te trek. Sterkte vir die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.