Pta-polisie fnuik vlugtende motorrowers

Die twee verdagtes wat aangekeer is. Foto: @MadnessRow / Twitter

Die twee verdagtes wat aangekeer is. Foto: @MadnessRow / Twitter

Twee vermeende rowers is tans onder streng polisiebewaking in die hospitaal. Hulle het hulle Woensdag teen op en wakker polisiebeamptes vasgeloop kort nadat hulle ʼn motorhandelaar in Pretoria beroof het.

Volgens ʼn betroubare bron verbonde aan die Wonderboompoort se sektor 2-gemeenskapspolisiëringsforum, het vier gewapende mans werkers by ʼn motorhandelaar in Franzinastraat in Pretoria se Moot-gebied aangehou en twee voertuie, ʼn BMW en ’n Audi TT, gesteel.

“Die verdagtes het na willekeur skote by die handelaar geskiet om die mense die skrik op die lyf te jaag, waarna hulle in twee verskillende rigtings van die toneel af weggejaag het,” het die bron Woensdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê vyf beamptes, in polisie-uniform, was in daardie stadium in ʼn ongemerkte voertuig op pad na hul basis naby die Wonderboom-lughawe toe hulle die BMW opmerk wat roekeloos ry. Hulle het die BMW agternagesit en voor die Wimpy op die hoek van Steve ­Bikoweg (voorheen Voortrekkerweg) en Fred Nicholsonrylaan tot stilstand gebring. Die twee verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet.

Een verdagte is in sy geslagsdele getref en een is in die heup gewond.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê ʼn 26-jarige man is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem en ʼn 25-jarige man is ernstig gewond.

Albei is na ʼn hospitaal geneem waar hulle onder streng polisiebewaking is.

“Die beamptes was nie in daardie stadium bewus van die Audi TT wat gesteel is nie. Dié voertuig met sy twee verdagtes is steeds soek.”

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens en die gesteelde BMW.

Die twee verdagtes sal in die hof verskyn sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word.

Dié voorval volg skaars ʼn week nadat die eienaar van ʼn drankwinkel ook in Steve Bikoweg geskiet en beroof is terwyl hy nog in sy motor gesit het. Hy was glo op pad om geld by ʼn bank te gaan deponeer toe hy geskiet is. ʼn Skietery tussen die polisie en die verdagtes het kort daarna ook in Fred Nicholsonrylaan uitgebreek. ʼn Hawelose vrou is tydens die voorval noodlottig gewond toe ʼn dwaalkoeël haar getref het. Die drie verdagtes is verlede Vrydag in hegtenis geneem en is nog in aanhouding. Volgens Maroela Media se bron dui voorlopige ondersoek daarop dat die twee voorvalle nie verband hou nie.

Die amptelike polisiewoordvoerder vir die streek was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie Grobler ·

ñ Groot goue ster vir die polisie. Een potensiële verkragter het dalk nou nie meer die kans nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.