Pta-polisie waarsku oor nuwe valstrik

Argieffoto: Nico Strydom

Minstens twee swaarvoertuie is die afgelope week in twee afsonderlike voorvalle op snelweë in Pretoria gekaap aan die hand van dieselfde modus operandi.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê buiten dié twee voorvalle wat by dié stasie aangemeld is, is soortgelyke voorvalle by omliggende polisiestasies aangemeld.

“Die eerste voorval het Donderdag omstreeks 12:00 by die Rigel-afrit op die N1-Suid plaasgevind. Die ander voorval het Maandag omstreeks 13:00 op die N4-snelweg naby die N1-wisselaar plaasgevind,” het Weilbach gesê.

“In albei gevalle het die vragmotorbestuurders aan die polisie gesê ʼn passasier in ʼn verbygaande voertuig het vir hulle aangedui dat daar iets aan die agterkant van die voertuig fout is. Hulle het langs die snelweg stilgehou om ondersoek in te stel.”

Die bestuurders beweer ʼn wit Toyota Corolla met vier insittendes het daarna die stilstaande vragmotor genader en dit gekaap. Die bestuurders is in die Corolla ingeboender en later in ander gebiede losgelaat.

Die polisie het enigiemand met meer inligting oor die voorvalle versoek om die Brooklyn-polisiestasie by 012 366 11735/6 of Crime Stop by 0860 010 111 te bel.

Die polisie het ʼn beroep op vragmotorbestuurders gedoen om seker te maak hul voertuie is in ʼn goeie toestand en om geensins op snelweë stil te hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

amvi ·

Begin sommer die ondersoek by die vragmotor bestuurders en kolegas.

Penellope Jones ·

Enige plek, enige manier, enigiemand, wanneer hulle wil, hoe hulle wil, enige tyd, in n sogenaamde “veilige Suid-Afrika”.

Jeanette ·

Die gewone motoris kan ook kennis neem:

Voornemende kapers gaan jy verby en in die ry, gooi hulle eiers op jou voorruit. As jy die ruitveërs aanskakel, smeer die eiers oor die skerm en jy moet outomaties stop omdat jy niks kan sien nie. Of hulle steel die nommerplaat van jou voertuig af en as jy ry, gaan hulle jou verby en wys hulle het jou nommerplaat “opgetel”. Of hulle wys na jou bande/iets agter of aan jou motor. As jy stop, word jy gekaap.

marous ·

Die polisie het nie die vermoeens of die wil om pro aktief misdaadvoorkoming te doen nie. Hulle is oorweldig en hulle weet dit.

Johannes van Staden ·

En die polisie se planne is op …hulle tree net reaktief op ….PATETIES !

Jaco Grobler ·

Dis ‘n gevaarlike stelling daardie, al hou jy ‘ n voertuig se onderhoud op datum, dinge breek en gaan fout, hoe sê jy vir iemand hulle moet nie stop nie? Hulle kan hulle eie en anders se lewens kos! Sorteer die misdaad uit, wat hulle met so stelling doen is om bloot om ‘n potensiaal vir lewensverlies op ons paaie te verhoog.

SARIE VAN HEERDEN ·

Daar is baie maniere om jou te flous. Een kom staan agter jou motor as hy sien jy moet agteruit ry, doen jy dit kap hy met sy vuis op jou motor, val om en is kastig beseer, maar as jy hom die R50 gee sal hy self na die hospital gaan dat hul hom kan ondersoek. My voorste nommerplaat is vir die hoeveelste keer gesteel, ek het nou weer een maar ek hou dit in my motor se kattebak en wys dit vir die mense wanneer ek daarvoor gestop word.

Sputnik ·

Sarie, nuutste wetgewing is dat jou nommerplate met “rivets” vasgesit moet wees. Dit is dan nie sommer maar net vir afpluk nie. Dit gaan jou NIKS help om dit in die kattebak te bêre nie. Dit móét voor en agter op jou motor vertoon word. Berei jou maar voor vir ‘n boete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.