Pta-polisie waarsku teen kapingstegniek

polisie kaping

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Die Pretoriase polisie het motoriste gewaarsku om versigtig te wees vir ʼn slinkse tegniek wat kapers gebruik om op hul slagoffers toe te slaan.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die Cullinan-polisie oos van Pretoria, het aan Maroela Media gesê die kapers plaas groot klippe en stene in die pad met die doel om verkeersvloei te versteur.

“ʼn Paar sake is onlangs by die Cullinan-polisie aangemeld waar bestuurders gekaap is toe hulle stil moes hou om pap bande om te ruil nadat hul motors die klippe getref het,” het Moganedi gesê.

Moganedi het gesê munisipale paaie in die omgewing, veral die M10 in die Bynespoort-omgewing, word tans deur misdadigers geteiken. In sommige gevalle het die voorvalle in die aande plaasgevind.

“Dié modus operandi is aan die toeneem, so motoriste moet daarvan kennis neem en ten alle tye paraat te wees sodat hulle nie slagoffers van die misdryf word nie.”

Lt.kol. Maqhawe Dhladhla, die Cullinan-polisie se stasiebevelvoerder, het onderneem om polisiesigbaarheid en patrollies in die gebied te vermeerder.

Maroela Media het verlede jaar berig Willie Strauss, die kabaretsanger en koskenner, asook Etienne Smith, Strauss se vriend en medeaanbieder van die televisieprogram Kos is Oppi Tafel, was op 10 Junie in die vroeë oggendure die slagoffers van ʼn soortgelyke voorval.

Strauss het destyds vanuit sy kunstenaarshuis in Cullinan aan Maroela Media gesê die roof het omstreeks 00:30 op die R513 plaasgevind.

Strauss en Smith was op pad terug na hul huis in Cullinan nadat hulle vroeër die aand saam met vriende in Pretoria gaan uiteet het.

Kos-is-oppie-tafel-se-Etienne-en-Willie

Etienne Smith en Willie Strauss is die aanbieders van ASTV se gewilde kosprogram, Kos is oppie die tafel. Foto: Kos is oppie tafel se Facebookblad.

“Die aand was heerlik. Ons het gekuier, gelag en tussenin diep dinge gepraat – en later word ons toe deel van die misdaadstatistieke,” het hy met ʼn hees stem gesê.

“Ons is terug na die myndorpie en om ʼn draai, sowat 500 m van die Mamelodi-aansluiting, was daar skielik groot klippe in die pad en ons tref ene wat die band pap gemaak het. Ons moes noodgedwonge stop om die band te ruil.” Hy het gesê daar was so vier of vyf klippe in die pad wat min of meer die grootte van ʼn halwe skoendoos was.

Strauss het gesê hy het met ʼn flitslig gestaan en lig skyn terwyl Smith die band vervang het. “Ek het heeltyd ʼn onrustige gevoel gehad en om ons gekyk. Die volgende oomblik storm ses gewapende mans op ons af en skiet die eerste skoot af.”

Volgens Strauss was al die mans in hul vroeë 20’s. Een was met ʼn geweer gewapen en vyf het rewolwers gehad. Hulle het swart baadjies met kappies aangehad.

“Hulle het ons beveel om terug te staan en op die grond te gaan lê. Ek het net dadelik so hard soos wat ek kan, begin skreeu vir hulp. Ek weet ek het seker alles gedoen wat ʼn mens nié in so ʼn situasie moet doen nie. Ek weet nie of dit skok, instink of adrenalien is nie, maar ek het dit net verloor en geweier om te gaan lê. Ek wou net naby die pad bly in die hoop om hulp te kry.”

Die aanvallers het nog ʼn skoot geskiet, waarna hulle vir Smith gedwing het om oorkant die pad in die veld op die grond te gaan lê.

“Hulle het my gedwing om langs die motor te gaan lê, maar ek het geweier ná ek gesien het hulle het Etienne op sy knieë en ʼn wapen teen sy kop. Hulle het my ook oor die pad in die veld in gedwing en omgestamp. Ek het weer opgestaan en geskree so hard soos ek kan en terug oor die pad gehardloop. Vier van hulle was agterna met hul wapens op my gerig. Hulle het skote langs my afgevuur, my met ’n ysterpyp begin slaan en my met klippe en bottels gegooi.”

Dit het vir hom gevoel of die voorval tussen vyf tot 10 minute geduur het, maar hy was nie seker nie. “Ek is weer geslaan en nóg ʼn skoot het naby my voete afgegaan. Ek het geskreeu en gebid vir ’n motor om te verskyn om ons te help. Uiteindelik het daar ʼn motor verbygekom. Ek het in die pad in gespring vir hulp. Dié motoris het gesien wat gebeur en net verbygejaag. Toe volg daar ʼn blou Mercedes wat gestop het. Die aanvallers het toe met al ons besittings weghardloop.”

Die persoon in die Mercedes het Strauss en Smith gehelp om hul motor se band klaar te ruil, waarna hulle na die Cullinan-polisiestasie gery het om die voorval aan te meld.

Strauss se leersak met sy besittings, waaronder sy selfoon, en Smith se horlosie en ring is gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gerrit ·

Hoekom waarsku hulle wat doen hulle omtrent die probleem nou dat hulle daarvan weet??

botterblom ·

Misdaadvoorkoming = Bid (Net God kan ons red), darem waarsku hulle ons in die media dat ons moet pasop… Ons moet onsself beveiling, maar mag nie wapens hê nie. Ons moet dadelik als aangee by die polisie, om te wat….?? Dalk vir statestiek.

Cherokee ·

Niks nuuts daaraan nie. Dit het my ‘n linker voorwiel, nie net buiteband, gekos en dit was in die middel tagtigs om sowat 4vm. Die kapers het verseker minute voor ek daar was, vertrek want ek het al die klippe uit die pad gedra, wiel geruil en verder gery.

Johanna Botha ·

As hulle weet dis n probleem hoekom is die polisie nie proaktief en stel n lokval …en VANG die mense ….nee julle waarsku en KYK wat gebeur …..net een woord ……PATETIES ! !

Jannie ·

Dis interresant die slimste en beste polisie-beamptes is buite die polisie.
Weet jy wat is pateties? Al hierdie sinnelose en negatiewe kommentaar en meeste van die tyd van dieselfde persone af.

chris ·

Nee wat ou jannie ek dink jy moet weer dink want, ek stem 100% saam met johan botha

Casper Labuschagne ·

Daar was ‘n Saterdagoggend in 2004 toe ek met vyf boerboele agterop ‘n treiler na ‘n buiteleweskou by Nampo gery het waar daar ‘n hondevertoning sou wees. Net voor Bothaville was ‘n ry groot klippe oor die pad gepak waar daar ‘n plakkerskamp na regs is. Toe ek stilhou kom verskeie jeugdiges aangehardloop waarna ek uitgespring het en die treiler oopgemaak het. Slegs die vinnigste vorm van hardloop is daardie dag beoefen in Bothaville, maar ek moes kilometers verder boerboele tussen plakkershutte gaan oplaai.

Johannes van Staden ·

Johanna jy is reg die polisie is net reaktief en uiters pateties.

anton ·

Jammer maar hulle is nie eers ”Reaktief” nie!!! So af en toe maar meer af as toe.
Hulle is net salaris trekkers en doen niks vir die salaris nie!!!

Johan ·

Ek was ook al begroet met klippe in die pad, maar gelukig ry ek SLEGS 4X4’s wat altyd met goeie, sterk “all-terrain of mud-terrain” bande geskoei is – dus kon ek rustig oor die klippe ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.