Pta-polisieman doodgeskiet: Dubbele tragedie vir broer

Lt. kol. Reinier Lagois saam met sy ma, Ina Lagois-Mills. Foto: Verskaf

Lt. kol. Reinier Lagois saam met sy ma, Ina Lagois-Mills. Foto: Verskaf

Die polisiebeampte wat Maandag koelbloedig by sy huis in Pretoria doodgeskiet is, het ʼn passie vir sy werk gehad en was meer as twee dekades in die polisiediens.

Lt. kol. Reinier Lagois (42) se liggaam is Maandagaand by sy huis in die Moot gevind. Altesaam 14 koeëldoppies het op die toneel gelê en sy blougrys Toyota Corolla word vermis.

“Iemand het my seker so rondom 22:00 gebel om te sê hy is dood,” het Hennie Lagois, Reinier se broer, aan Maroela Media gesê. “Ek weet nie eens of dit ʼn huisroof was en of dit ʼn kaping was nie. Ek wil nie bespiegel oor wat gebeur het nie. Ek het natuurlik my bedenkinge, maar ek wil dit nie met iemand deel nie. Ek respekteer my broer se privaatheid.”

Hy het gesê hy het sy broer Sondagaand vir die laaste keer gesien. “Ek en hy en ʼn ou skoolpel het saam ʼn eisbein gaan eet. Dit is die laaste keer wat ek met hom gepraat het.”

Hennie het sy broer as ʼn perfeksionis beskryf wat pynlik netjies op homself, sy huis en sy voertuie was. “Ek onthou toe ons klein was het ons ʼn kamer gedeel en as my skoene skeef gestaan het, het Reinier dit reggeskuif. Alles moes altyd perfek netjies wees,” het hy vertel.

“By hom was iets óf reg óf verkeerd en hy was streng met mense saam met wie hy gewerk het. Dinge moes reg wees. Maar hy was ʼn mense-mens. Hy was baie sosiaal en het goed met ander oor die weg gekom.” Reinier was geskei en het nie kinders gehad nie, het Hennie gesê.

Dit is die tweede tragedie wat Hennie in ʼn kort tydjie tref nadat sy vrou, Jackie (49), drie weke gelede onverwags aan ʼn hartaanval oorlede is. “My ma kuier op die oomblik nou by Jackie se ma – albei van hulle het nou kinders verloor.”

Op ʼn vraag hoe hy twee sulke groot verliese na mekaar hanteer, sê Hennie dat dit baie swaar is. “Ek het eers gedink ek is harteloos omdat ek nie huil nie, maar gisteraand het ek en my dogters saam met my jongste sussie sit en gesels en toe loop die emosies oor. Toe het ons saam behoorlik gehuil,” het hy gesê.

“Al ons planne is nou van die baan. Dit is hartseer dat my dogters nie eendag die voorreg gaan hê om hulle ma op hul troudag te hê nie. ʼn Mens weet nie hoekom sulke goed gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

My innige simpatie. Wees sterk met Sy krag en weldra sal jy oor die ergste kom. Eendag sal ons die antwoorde kry.

gerdi ·

Reinier jy gaan so gemis word my hart is stukkend Hennie sterkte julle is in my gebede

Lizelle ·

Hennie, Christelle, Elmarie, Rudi, Debbie en tannie Ina – Ek is vreeslik jammer vir julle seer en verlies. Reinier was ‘n groot deel van my lewenspad – dit sal altyd spesiaal vir my wees. Ek dink aan jul almal in hierdie vreeslik hartseer tyd. Lizelle xxx

Debbie ·

Dankie aan almal vir julle Gebede. Ja ons Lagois familie sukkel om Reinier se dood te verwerk. Hy het dit nie verdien nie. Mag die waarheid gou uitkom.Almal in sy verlede, dankie wat julle in sy lewe beteken het. Sy suster Debbie.

Lizelle ·

Ai Debbie, die seer gaan nooit weg nie – maar ek bid dat die rofie wat mettertyd oor die groot wond gaan groei so bietjie verligting sal bring. Mag julle almal nader aan mekaar kom in hierdie ongelooflike moeilike tyd. Gee asb. al my liefde vir al die ander Lagoise – ons almal wat hom geken het is diep geskok en ontnugter deur hierdie sinnelose daad. Sterkte vir julle almal – elkeen van julle is in ons gebede. Lizelle xxx

Hannelie ·

So verskriklik hartseer….my innige simpatie aan beide families. Die dood voel altyd so onwerklik en dit maak so seer. Bid vir jul vir vertroosting.

Boer ·

Dit is vreeslik hartseer, bitter jammer vir n mens wat opreg sy werk gedoen het! en sy lewe was skoon soos ek dit lees!
Ek ruik weer eens n volks moord!

Natacha Bodenstein(Meintjes) ·

Neef ek dink baie aan julle, sterkte v dit wat voorle die lewe en mense is wreed. Kan net bid dat d wat verantwoordelik is gekry sal word. Liefde en Groete v My en my gesin.xxx

Gesiggie ·

Ek het geen woorde…… dit so hartseer dat n Familie deur al die seer moet gaan… sterkte aan jul almal wat in die moeilikke tyd moet gaan: en Onthou: God werk veral daar… waar ons dink dat alles heeltemal verby is.

Sue ·

My innige simpatie met die families. Ek het begrip hoe julle voel. Het my moeder, vader en broer in sewe maande verloor in 2011. dis 12 jaar en party dae is die ergste. Maar ons Liefdevolle Vader is baie goed vir ‘n ons.

Treurgrond ·

My innige simpatie met die families. God staan saam julle Hy hou julle vas. Dit is net sad sad. My pappa het ek 11 jaar terug verloor – en elke dag dink ek aan hom dit is net hartseer. JESUS SEEN JULLE ALMAL

Hartseer ·

Ongelooflik hartseer, maar julle liefde en waardes sal mekaar hierdeur dra. ‘n Ware troos vir julle: Julle as familie van Reinier Lagois kan met opreg trots wees, sy werk was sy trots en dit is in vandag se tyd die kosbaarste getuienis vir elke persoon. Hy was streng met ‘n hart, mag jou nalatenskap almal aanraak en motiveer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.