Pta-polisiestasie tydens onluste beskadig

Skade by die Eersterust-polisiestasie. Foto: Verskaf

Ontstoke inwoners van Eersterust in die ooste van Pretoria het Donderdagaand skade aan die plaaslike polisiestasie aangerig te midde van voortdurende diensteleweringsbetogings.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het gesê van die inwoners betoog al sedert Woensdag oor die gebrek aan dienslewering in dié woonbuurt.

Die hoofroete na die woonbuurt word met buitebande wat aan die brand gesteek is versper en verskeie winkels is al geplunder.

Donderdagaand het ʼn groep betogers op die plaaslike polisiestasie toegeslaan en vensters, deure en rekenaars beskadig. Daar is ook voorraad, waaronder ʼn dienspistool, uit die kliëntedienssentrum gesteel.

Peters sê die provinsiale polisie met die hulp van omliggende streke se beamptes, die openbare ordepolisie, die polisie se lugvleuel en die Tshwane-metropolisie het ingegryp.

“Die spanne het onverpoosd gewerk en dit het binne 24 uur tot die inhegtenisnemings van 12 verdagtes gelei wat met die aanval verbind word,” het Peters gesê.

“Altesaam 16 mense is tydens Donderdagaand se reusepoging in hegtenis geneem. Buiten die 12 mense wat met die aanval op die polisiestasie verbind word, is een persoon in hegtenis geneem vir die besit van dagga en drie mense vir die besit van gesteelde goedere wat vermoedelik gesteel is toe die winkels geplunder is,” het Peters gesê.

Die polisie het beslag gelê op ʼn rekenaar en ʼn plasmatelevisie.

“Die operasie sal voortduur om die res van die eiendom wat uit die kliëntedienssentrum gesteel is, terug te kry. Meer inhegtenisnemings word verwag,” het Peters bygevoeg.

Die situasie in die woonbuurt was teen Vrydag steeds gespanne. Die polisie is in die gebied om die situasie te monitor.

Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris vir Gauteng, het gesê die polisie sal seker maak dat al die items wat gesteel is, veral die dienspistool, teruggevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Francois van der Merwe ·

Waar gaan ons landtjie heen. As die Suid Afrikaanse Polisie nie eers na hulle eie eiendom en domain kan opsien en beskerm nie, hoe te meer dan die publiek. Skandelik dat daar nie daadwerklik opgetree word teen misdadigers wat hulself die reg gee om Polisiestasie te kan aanval en plunder nie. Dis tyd dat daar n voorbeeld en sterkmans beeld uitgedra moet word . Jammer om te opper dat in die apartheid era geen sulke optrede geduld sou word nie. Daar was respek vir n man in blou en Bruin uniform SAP en Weermag

Jacques ·

Ja en dan wil die mense weet hoekom daar nie geld is vir verhogings nie . More kla hulle weer hulle het niks omdat hulle vandag dit wat hulle het af gebreek en gebrand het . Ek raak baie bekommerd om te dink ek is omring deer sulke klas mense .

waarheid ·

Ja, dit is wat hulle ken – en ou Rammatjie gaan dit nie kan of wil stop nie. Dit tel in sy guns.

Alida ·

Weet hierdie mense wat respek is. NEE want hulle ouers het nie respek vir die reg nie want ons lees elke dag van misdadigers wat gevang word dan is dit SAPD/SANW lede. Verskoning aan die eerlikes maar dit is ‘n feit. Respek moet verdien word en daar skiet ons regering ver te kort.

Ben ·

So kan dit nie voortgaan nie. Hierdie voorval is weereens bewys dat ‘n groot deel van die bevolking bloot nie die vryheid wat demokrasie bied kan hanteer nie. Daagliks word infrastruktuur regoor die land verwoes in optrede deur mense wat deur politici versaak is. Dit raak nou tyd dat iemand senior hierdie gedrag en optrede stopsit, al beteken dit dat vryhede wat die grondwet aan individue bied drasties ingekort word…….maar die ANC is bang om aksie te neem want hul gaan verkiesingstemme verloor.

Willie ·

Joh jy sou darem so iets in die ou bedeling probeer het.. Die SAPD is so slap in wetgewing..

Asmain ·

En wat word van hierdie mense wat telkens by geweldadige betogings gearresteer word? Mens hoor nooit van enige vervolging wat ingestel word of suksesvol is nie.

PIKKEWYN ·

Gaan lees maar al die berigte oor mense wat in hegtenis geneem is vir betogings en plundery.

Hulle word eenvoudig die volgende dag vry gelaat – GEEN vervolging nie

marous ·

Was die diens pistool in ‘n kluis ? Indien nie gaan die verantwoordelike beampte minimum 15 jaar tronk toe gestuur word ? Vra asseblief vir peters wat die antwoord is .

Johann cb ·

Om watter rede beskerm wetstoepassers nie hulle eie kantore/werkplek nie? Dit is onder andere waarvoor hulle opgelei is…

leser ·

waarvoor doen die polisie nog die moeite om betogers in hegtenis te neem, soos pikkewyn tereg gesê het, betogers word die volgende dag vrygelaat, polisie julle mors jul tyd

Grassie ·

Tydens die vorige regering, lank terug, is aan die polisierekrute lesings gegee oor wanneer hulle hul vuurwapens mag gebruik, nl.
1. Om jou lewe en die lewens van ander mense en hul eiendom te beskerm
2. As die polisiestasie aangeval word.
Ek dink hierdie bepalings was ook deel van die Polisiewet. Daar was ook sekere bepalings van die Strafproseswet wat gegeld het. Daar is in daardie tyd nooit ‘n polisiestasie aangeval waarvan ek weet nie, want die gepeupel het geweet hulle sal lood vreet as hulle probeer. Nou het omstandighede totaal verander. Die polisiemag het ‘n polisiediens geword. Weens rassebeleid is bevelvoerende poste aan onbevoegdes toegeken. Skelms en ongeleerdes het hul geledere ingesypel. Die ANC het seker gemaak dat die mag nou in die hande van die gepeupel, die stemvee, die kanonvoer is. Die polisie is ontman, hul bevoegdhede is ingeperk. Hulle kan sekerlik hul polisietasies en die eiendom van wetsgehoorsame burgers beskerm maar hulle durf nie. As hulle ‘n aanvaller skiet sal hulle les opsê. Dan maar liewers wegkyk of weghardloop om hul werk te behou.
Dit is ‘n hartseer verhaal.

Anni ·

NET in Suid-Afrika! 30 jaar, 40 jaar terug het jy nie gewaag om skeef in ‘n Polisiestasie se rigting te kyk nie, toe was dit ‘n plek van gesag, wet en orde. In vandag se dae is dit net nog ‘n plek wat geplunder word.

Charmaine ·

Met al hierdie betongings en strikes gaan daar niks van hierdie mooie land oorbly nie

Ben ·

Altyd gedink voor mens n polisiestasie betree, moet jy deur n veiligheidspoort gaan. Hoe kan hulle dit dan plunder? Werk die polisie saam?

Louis le Roux ·

Wys jou hoe vrotsig die SAPD is. Kan nie eers hul kantoor beskerm nie. Hoe wil hulle die gemeenskap beskerm? Dis hoog tyd dat die polisiediens weer omvorm wird na ‘n polisiemag.

Concern ·

Ek bly ook hier in Eersterus, neem wel kennis dus nie almal die gedrag goed keer nie. Not all parents is scum like you are assuming. There are decent and respectful humans in Eersterus with integrity and astounding good core values. Yes I do agree that the government is not doing enough and things has gone far out of hand because of corruption and what not. How many of you out there are “Christians” and how many have just criticise, when last did you for your country .for your government and who have prayed for my Eersterust. The Word of God declares ” if my people which are called by my Name, shall humble themselves and pray, and seek my face, and turn from their wicked ways; then will I hear from heaven, and will forgive their sin, and will heal their land. 2 Chronicles 7:14

Liberaal ·

Se hulle. Dit is die liberaal demokratiese reg van mense om te staak en om baie kwaad te raak. Dalk nie om te plunder en die polisiestasies aan te val nie, maar ons moet altyd onthou dat die wet en liberale krimineleregtevegters aan die kant is van die ontstoke betoger, maak nie saak wat hulle doen nie. En as die polisiestasie afgebrand word is dit julle demokratiese reg om nog een te kry. As julle dienste en infrastruktier vernietig word dan dring dit teen julle regte om dienste te ontvang in, so die betogers moet weet dat hulle hulle demokraties liberale betogingregte uit moet voer sonder om julle regte op dienste en padgebruik en vryheid van toegang te benadeel, so ek weet nie presies wat om hiervan te dink nie.

Ou vriendin ·

Ai het so veel vriende in my jong dae in Eersterus gehad. Dae daar om gekuier. Voel jammer vir my ou vriende daar. Seker dis die jongmense en die oues kan niks daar omtent doen nie. Sterkte mis julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.