PTA-rowers skuldig aan moord, verkragting

court-hammer_thumbTwee mans wat erken het dat hulle by verskeie huise in die noorde van Pretoria ingebreek het en ‘n bejaarde man vermoor het, is skuldig bevind in die hooggeregshof in Pretoria.

Regter Ferdi Preller het Moetla Richard Donald Mokalapa (23) skuldig bevind op 14 aanklagte insluitend moord, poging tot moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede. Preller het Alex Maila (29) skuldig bevind op 10 aanklagte insluitend poging tot moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Mokalapa en Maila het by verskeie huise in die Wonderboom en Sinovolle-areas ingebreek oor ‘n tydperk van ses maande in 2010 en 2011 voor hulle vasgetrek is. Mokalapa het erken dat hy in Maart 2011 by die huis van George Savvides en sy vrou, Emmerentia, ingebreek het.

Mokalapa sê Maila het het Savvides geskiet. Maila het skuld ontken op aanklag van moord en ontken dat hy by Savvides se huis ingebreek het. Savvides is tydens die voorval in die maag geskiet en is op die toneel dood. Sy vrou het Kaap toe getrek na die moord.

Mokalapa het erken dat hy by verskeie huise ingebreek het en die eienaars met ‘n vuurwapen beroof het. Hy en Maila het erken dat hulle ‘n vrou gedurende een van die rooftogte verkrag het en dat hulle gepoog het om Leon van der Merwe van Sinvolle te vermoor nadat hulle in Junie 2011 by sy huis ingebreek het.

Mokalapa sê Van der Merwe het probeer terugbaklei waarna hy hom op die mond geslaan het met sy vuurwapen. “Terwyl hy probeer terugbaklei het, het ek my ongelisensieerde vuurwapen op hom gerig en die sneller getrek in ‘n poging om hom dood te skiet. Die vuurwapen het egter nie afgevuur nie en die patroon het uitgeval.” Mokalapa het toe gevlug.

Mokalapa en Maila het albei vorige veroordelings vir onder andere huisroof en diefstal. Hulle regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle skulderkennings ‘n teken van berou is en dat hulle ligte vonnisse verdien. Volgens die regsverteenwoordigers moet hulle ouderdom en vorige tronkstraf ook in ag geneem word.

Salome Scheepers, staatsaanklaer, het aangevoer dat die beskuldigdes geen ander keuse gehad het as om skuldig te pleit nie aangesien die bewyse teen hulle oorweldigend is. Agt ooggetuies het hulle met die misdade verbind en hulle is ook deur DNS aan van die sake verbind.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Nico, is hierdie area nie eerder Sinoville area nie?

‘Sinvolle-areas’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.