Pta-sakeman moontlik nié vermoor

Lize en Ronald Moreland. Foto: Verskaf

Ronald Moreland (46), ʼn sakeman van Pretoria wie se liggaam vroeg in Julie bebloed op die gras buite sy huis in ʼn veiligheidskompleks in die ooste van die stad aangetref is, is moontlik nie vermoor nie.

Kapt. Johannes Maheso, woordvoerder van die polisie, het gesê volgens die uitslag van die aanvanklike nadoodse ondersoek het Moreland versmoor.

Hy het bevestig dat daar ʼn kabelbinder om Moreland se nek gebind was. Hy kon nie bevestig of dit slegs een of meer was nie. “Daar is egter geen tekens of beserings wat op verwurging dui gevind nie. In dié stadium ondersoek ons of dit moontlik selfmoord kon wees. Ons ondersoek duur voort,” het Maheso gesê.

Maroela Media het vroeër berig  Larochelle Nel (24), Moreland se stiefdogter, het aan Maroela Media gesê Moreland was op 2 Julie alleen by die huis in Olympus vanwaar hy gewerk het. Hy en sy seun, Martin (27), het hul eie IT-onderneming bedryf.

“My ma, Lize (47), het omstreeks 17:45 by die huis stilgehou en gesien iets lyk vreemd. Die huis was donker, geen ligte was aan nie en sy kon voel iets is nie reg nie,” het Nel gesê.

“Die skuifdeur en veiligheidshek het effens oopgestaan en sy het gedink my pa is miskien op die stoep. Toe sy buite kom, het sy my pa bebloed op die grasperk aangetref… Daar was verskriklik baie bloed.”

Maheso kon nie in die stadium ʼn verduideliking verskaf vir hoekom daar volgens die familie baie bloed op die toneel was nie.

Moreland is op die toneel dood verklaar. Die gesin het vermoed Moreland is verwurg of dood weens erge aanranding.

“Wat vir ons vreemd is, is dat niks uit die huis gesteel is nie. Alles was presies netjies op hul plek asof niemand in die huis was nie. My pa se selfoon was nog op die boonste verdieping van die huis waar sy kantoor is. Ons vermoed hy het iets of iemand opgemerk en is oorval toe hy buite was.”

Moreland en Lize was vir byna 18 jaar lank in ʼn verhouding waarvan hulle meer as 15 jaar lank getroud was. Buiten sy vrou, seun en dogter, laat Moreland ook sy ouers, Ansie en Allan, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

leser ·

jy sit n kabel binder of binders om jou nek en trek dit styf, versmoring is die rede, maar waar kom al die bloed vandaan?????????????????????????????????????????????

John ·

Die polisie speel dalk slim om die moordenaar ‘n fout te laat maak.

Sterkte aan die familie en geliefdes ·

Wat ookal die omstandighede of oorsaak – enige verlies van lewe is tragies en moeilik vir die wat agterbly. Sterkte aan die geliefdes van die oorledene en mag die ondersoek gou afgehandel word sodat die wonde kan heel.

Leser ·

Ek sukkel om te glo dat iemand sal selfmoor pleeg op so ‘n manier?

Anni ·

Ek ook. Iets maak hier nie sin nie. Of is dit dalk nou weer ‘n geval van die Polisie het die saak opgedons en nou word daar na strooihalmpies gegryp “to save face”?

Andre ·

Ek weet nie hoe kry die SAPD die kloutjie by die oortjie nie.

JA ·

Ons sal seker nie in die leeftyd ‘n antwoord van die polisie kan verwag nie. Hulle is te besig om transito-rowe te beplan en uit te voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.