Pta-sakeman se raaiseldood: Moord glo ondersoek

Eduard Ras. Foto: Verskaf.

Die dood van Eduard Ras (44), die sakeman van Pretoria-Noord, word volgens sy familie nou as ʼn moordsaak hanteer.

Hannes Noëth, direkteur van gemeenskapsontwikkeling by Helpende Hand, wat deur die familie as woordvoerder aangewys is, het aan Maroela Media gesê Albert Ras, Ras se broer, het gesê die polisie ondersoek nou amptelik ʼn moordsaak in verband met Ras se dood.

Sers. Inanda Selala, woordvoerder van die polisie kon egter nie dié nuus aan Maroela Media bevestig nie. “Ons het steeds hier by die polisiestasie ʼn geregtelike doodsondersoek-dossier,” het Selala gesê.

Die familie het ook gesê ʼn spesiale taakspan is aangestel om Ras se moord te ondersoek. Oor dít het Selala gesê dat alle ondersoekwerk wat onder die ondersoekbeampte val aan die gesin gekommunikeer word.

Volgens die familie word daar ook ʼn forensiese patologiese ondersoek gedoen.

Maroela Media het vroeër berig Ras is op 2 Mei as vermis aangemeld. Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het vroeër bevestig dat Ras in Pretoria gekaap is.

“Hy is in die Dennilton-omgewing [in Limpopo] gevind,” lui ʼn verklaring wat vroeër deur die Ras-familie uitgereik is. “Hy is in die Philadelphia-hospitaal in ʼn kritieke toestand aangetref waarna hy aan sy brandwonde beswyk het.”

Volgens die familie is Ras se uitgebrande voertuig in die nabye omgewing opgespoor. Nadat die nuus bekend geraak het, was daar volgens die familie talle “ongegronde” bespiegelinge wat op sosiale media versprei is.

Die inskrywings op sosiale media het onder meer beweer dat hy in sy motor aan die brand gesteek is terwyl sy hande en voete vasgebind was.

Daar is Dinsdagoggend ʼn troosdiens vir Ras gehou in die Gereformeerde Kerk Wonderboompoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Die troosdiens was in die Gereformeerde Kerk Wonderboompoort nie die N G Kerk nie

Tania Heyns ·

Dagsê Alida

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Ontkenning ·

En net LAASWEEK het die liberales ‘n groot storie daarvan gemaak dat dit FAKE NUUS IS!! Al die koerante onder ander NETWERK24 het berig dat dit FAKE nuus was .. VREEMD hoe die waarheid tog uiteindelik uitkom. STEEDS word daar voorgegee asof blankes nie ONSKULDIG in SA vermoor word nie .. EK voel jammer vir sy familie. ONgelukkig het hulle ook by die media sage betrokke geraak en saam ‘ontken’ en ‘ongegronde beweringe’ veroordeel, wat nou bly waar te wees. Hoop net sy Moordenaar/s word opgespoor.

Nes plaasmoorde ·

Ja net soos liberales plaasmoordgetalle as vals nuus afmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.